Springbokke

Bok-meneer óók meneer by PRG

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ben-Jason Dixon Foto: GETTY IMAGES
Ben-Jason Dixon Foto: GETTY IMAGES

Die koshuis-meneer wat Springbok speel.

Dis hoe daar by Paul Roos se Prima Nova-koshuis na Ben-Jason Dixon verwys word.

Want die 26-jarige Bok-losvoorspeler was nog verlede jaar 'n assistent by die koshuis waar hy ook gebly het.

Die voormalige hoofseun van Paul Roos se persoonlikheid kon nie beter opgesom word as toe hy in 2023 op die dag van die Verenigde Rugbykampioenskap se eindstryd eers twee skoolspanne, waarvan hy 'n hulpafrigter was, ondersteun het nie.

Op die veld het hy in gr. 11 nog derde span gespeel, waarna hy in matriek onderkaptein van Paul Roos se eerstes was, vir die Westelike Provinsie Cravenweek-rugby gespeel en ook die Suid-Afrikaanse Skolespan verteenwoordig het.

"Op Maandagaande sal hy diens doen by die koshuis en dan sal die kinders vir hom sê: ‘Meneer, het ons jou dan nie Saterdag op die televisie in Ierland gesien nie?'

"Dan het hy die Saterdag nog teen Munster gespeel," sê Stephan Jordaan, Paul Roos se hoof van sport.

Hy was 'n verskriklike slim ou, 'n ongelooflike leier, vriendelik, het koor gesing en was 'n goeie swemmer.

"Hy is 'n baie spesiale en verskriklik lojale ou. Hy is ongelooflik nederig en baie goed vir ons."

Jordaan, ook Nova-koshuisvader, het Dixon en die Bok-heelagter Damian Willemse by Paul Roos se o. 14-span, en later weer in 2016 by die eerste span, afgerig.

Hy sê Dixon was boonop " 'n verskriklike slim ou, 'n ongelooflike leier, vriendelik, het koor gesing en was 'n goeie swemmer".

Die Stormers-ster het verlede jaar nog Paul Roos se o. 15 C- en D-span help afrig.

"Die dag van die VRK-eindstryd (toe die Stormers teen Munster gespeel het), toe speel ons teen Paarl Boishaai in die Paarl. Hy was eers daar by sy spanne se wedstryde."

Dixon, wat sedert sy Bok-buiging teen Wallis in Londen sterk na vore getree het, is eers later daardie dag na die Stormers-kamp toe.

Hy word met Pieter-Steph du Toit vergelyk en ek dink dié vergelyking is heeltemal in die kol.

Die veelsydige voorspeler het in die Bokke se laaste toets teen Portugal ook sy eerste toetsdrie gedruk.

In die wedstryd in Bloemfontein het hy die bal 14 keer gedra, 82 m met die bal in hand gemaak, tien duikslae uitgevoer, drie keer die bal in kontak uitgegee en twee keer besit omgekeer.

"Hy word met Pieter-Steph du Toit vergelyk en ek dink dié vergelyking is heeltemal in die kol," sê John Dobson, die Stormers-afrigter.

"Ons hou nie altyd daarvan om te sê iemand is die volgende Graeme Pollock of Fourie du Preez nie, maar hy was nog altyd die volgende Pieter-Steph. Ná die toets in Bloemfontein kan 'n mens duidelik sien hoekom daardie vergelyking gemaak word.

"Hy is werklik 'n goeie seun met vaste beginsels. Sy geloof is vir hom baie belangrik."

Volgens Dobson is Dixon ook 'n uitsonderlike mens.

"Wat vir my die meeste van hom uitstaan, buiten sy spel, is sy ongelooflike eerlikheid. Hy sal sê as daar iets in die program of plan is waarvan hy nie hou nie of wat nie lekker pas nie.

"Hy sal selfs vir my sê wanneer hy dink ek dalk iets anders kon doen, maar hy doen dit op die mees respekvolle en ordentlike manier.

"Dis lekker as goeie goed ook met goeie mense gebeur en dis beslis die geval met hom."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM