Springbokke

Bok-Rapport: Só het die Bokke gevaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bok-Rapport
Bok-Rapport

Só het elke Bok gevaar in Saterdag se toets teen die All Blacks in Mbombela. Elke speler kry 'n punt uit 10.

Damian Willemse 8/10

Wys hy het lekker wiele toe hy die sterke Caleb Clarke inhardloop en plattrek. Klop 'n paar verdedigers met sy aftrappe. Neem goeie besluite oor wanneer om te skop of om aan te val.

Kurt-Lee Arendse 9/10

Lewer 'n meesterlike vertoning as lugspeler en op verdediging. Die vreeslose wyse wat hy onder Caleb Clarke inseil, laat die skare brul van lekkerkry. Jy kan hom daardie rooi kaart vergewe.

Lukhanyo Am 8/10

Sy kommunikasie met sy vleuels op die verdediging verrig hy met onderskeiding. Wen in die 71ste minuut belangrike omgekeerde balbesit toe die All Blacks lank balbesit gehad het.

Damian de Allende 7/10

Die kere wat hy gevra is om 'n stormram te wees, het hy vorentoe gegaan en verseker dat die bal weer aan die kant van die Bokke uitkom. Sy verdediging was soos altyd waterdig.

Makazole Mapimpi 9/10

Sover sy beste toets van die jaar. Wys die All Blacks wie is baas onder die lugskoppe. Soek weer vir 'n slag oral werk. Neem uitstekende besluite as verdediger aan die buitekant.

Handré Pollard 9/10

Sy stelskopwerk is uitstekend. Só bou die Bokke druk op telbord. Sy lugskoppe is akkuraat. Beheer sake op tien. Enigste fout kom in 13de minuut toe hy nie 'n strafskop uitskop nie.

Faf de Klerk -/10

Verlaat die veld ná 40 sekondes weens 'n harde stamp teen die kop.

Jasper Wiese 9/10

Speel of dit sy laaste Bok-kans is. Duik soos 'n besetene, gaan kyk veral na die 46ste minuut toe Will Jordan deurbars. Sterk baldraer. Lyk vir 'n slag gemakliker as ontvanger by die inskoppe.

Pieter-Steph du Toit 7/10

Besorg All Blacks hoofbrekens met wyse wat hy as verdediger opskiet. Stel die voorbeeld met die vinnige wyse wat hy ná duikslae opstaan om volgende een uit te voer. Word vroeg vervang.

Siya Kolisi 7/10

Besluite met strafskoppe in die kol. Voer as laaste verdediger belangrike duikslag op Rieko Ioane uit. Duik paar keer op regte plek op om duikslae in te kry, balbesit te wen of te beskerm.

Lood de Jager 6/10

Speel asof die reeks teen Wallis sy energie getap het. Intensiteit waarmee hy teen Wallis verdedig en die bal gedra het, het ontbreek. Doen tog goeie werk in lynstane en dryfmale.

Eben Etzebeth 8/10

Verrig die ondankbare werk by die losgemale en met die dryfmaalbewegings. Beperk die All Blacks se lynstaanopsies met sy goeie mededinging. Kort weer 'n tikkie positiewe aggressie.

Frans Malherbe 9/10

Voer van die belangrikste duikslae van die toets in die 32ste minuut uit, eers op Scott Barrett en sekondes daarna op Beauden Barrett. Skrum soos 'n masjien. Beskerm bal goed by losgemale.

Malcolm Marx 10/10

Wen in die 18de minuut omgekeerde balbesit nadat hy 'n lynstaanbal oor Lood de Jager se kop gegooi het. Wen in die 39ste en 54ste minuut ewe belangrike balle. Yster as baldraer.

Trevor Nyakane 7/10

Lewer 'n sterk skrumvertoning wat drie skrumstrafskoppe in die eerste helfte insluit. Woel by die afbreekpunte. Word in die 39ste minuut vervang nadat hy 'n skrumstrafskop afstaan.

En só vaar die plaasvervangers:

Bongi Mbonambi 7/10

Kry een reuse-plettervat in.

Steven Kitshoff 9/10

Wen 'n skrumstrafskop en speel soos 'n los­voorspeler in vastelos.

Vincent Koch 8/10

Woel as baldraer en verdediger.

Salmaan Moerat 6/10

Kry enkele minute kans, maar plaas sy lyf op die spel.

Franco Mostert 9/10

Ryg die duikslae in en maak 'n yslike impak.

Kwagga Smith 7/10

Klim weer in, maar die All Blacks hou hom dop.

Jaden Hendrikse 9/10

In die konteks van die Bokke se spelpatroon is sy hoë lugskoppe 'n bate. Sy koelkophouding ná hy Faf de Klerk in 1ste minuut vervang, is lofwaardig. Goed as verdediger en by afbreekpunte.

Willie le Roux 8/10

Sy drie was 'n juweeltjie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM