Die Springbok-vrouerugbyspan het Saterdag in Marcoussis, Frankryk, 'n bloedjong Engelse span met 50-17 in 'n oefenwedstryd pak gegee.
Die Suid-Afrikaners, tans op toer in Frankryk en Spanje, was met die rustyd met 24-10 voor.
Die Bokke het agt keer gaan druk. Twee daarvan was deur Jakkie Cilliers (vleuel), wat ook met vyf doelskoppe vir 'n persoonlike bydrae van 20 punte gesorg het.
Die wenspan se agttal het die spiere gebult en die jong Engelse span - grotendeels saamgestel uit o. 20-spelers en 'n paar o. 23's - swaar laat leef.
Op die teenaanval het die Bokke met twee langafstand-drieë beïndruk. Daar was egter hier en daar 'n gebrek aan konsentrasie, wat die Engelse ligter daarvan laat afkom het.
Maar die hoed moet gelig word vir die jong Bleekbene, wat, ondanks 'n gebrek aan ervaring op dié vlak, nooit bes gegee het nie. Die span is hiervoor beloon met twee drieë in die eerste helfte en nog een ná die draaislag.
Franzel September, assistent-afrigter van die Bokke, het agterna gesê die wedstryd het die afrigtingspan van waardevolle inligting voorsien.
"Ons het vandag heelwat positiewe dinge gesien. Ook
'n paar plekke waar ons nog moet skaaf. Oor die algemeen was dit 'n goeie oefening vir ons," aldus September.
"Daar was 'n paar oefenkampe voor die toer en nou kan die spelers op die veld toepas wat ons geoefen het. En dit gaan ons van 'n goeie maatstaf voorsien."
Die Bokke reis nou na Spanje, waar 'n toets volgende naweek teen die tuisnasie wag. September meen die voorbereiding hiervoor was in die kol.

"Ons het al die spelers in die groep nou in aksie gesien en het 'n baie goeie idee van waar ons staan. As afrigtingspan is ons tevrede met die verdedigingstrukture en ons voorspelers het gewys hoe gedug hulle kan wees.
"Ons reis nou vir die toets na Spanje met die wete dat ons in die meeste fasette van ons spel is waar ons moet wees," sê September.
Puntemakers:
Suid-Afrika 50 (24) - Drieë: Luchell Hanekom, Maceala Samboya, Aseza Hele, Jakkie Cilliers (2), Xolelwa Diliza, Nombuyekeso Mdliki, Chumisa Qawe. Doelskoppe: Cilliers (5).
Engeland 17 (10) - Drieë: Sophie Hopkins, Ala Lutui, Millie David. Doelskop: Ella Cromack.










