Springbokke

Bok-vroue is 'anders', sê Swys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Swys de Bruin staan hier tussen van sy vrouespelers tydens 'n Springbok-oefening. Foto's: Gallo Images
Swys de Bruin staan hier tussen van sy vrouespelers tydens 'n Springbok-oefening. Foto's: Gallo Images

"Happy wife, happy life."

Dit klink dalk of Swys de Bruin na sy huwelik verwys wanneer hy dié bekende aanhaling gebruik, maar dit beklemtoon eerder die nuwe benadering wat hy as afrigter by die Springbok-vroue moes leer.

Die afrigter, wat al die Leeus en 'n Springbok-mansspan as hulpafrigter gebrei het, is drie maande by die nasionale vrouespan en moes sy aanslag wysig.

Maar dit is iets wat die hoëprestasie-afrigter van die Bok-vroue gate uit geniet en wat hom nuwe skop gee.

Sy span weet ook nou teen wie hy in 2025 se Wêreldbeker in Engeland speel, nadat die loting Donderdagaand gedoen is. Suid-Afrika het 'n gunstige loting gekry en is saam met Frankryk, Italië en Brasilië in Groep D, met laasgenoemde twee wat beslis troefbaar is.

Volgens De Bruin speel die vroue beter wanneer hulle opgewonde en daar 'n goeie gees is.

"As vroue gelukkig is, speel hulle goed.

"Mans voel weer goed wanneer hulle klaar gewen het, al het jy 'n tawwe week gehad.

"Hoe jy met hulle werk, is twee verskillende goed. Dit het ek vinnig geleer," sê hy aan Rapport.

Verder is vroue baie afrigbaar en "soos 'n spons" om nuwe dinge te leer.

"Jy moet by die vroue baie duidelik die verskil tussen coaching en teaching verstaan. Hulle het nog nie die rugbykennis en agtergrond van sekere goed nie.

"Daarom moet jy baie ure bestee om vir hulle te verduidelik en te leer hoekom ons sekere goed doen.

Swys de Bruin
Swys de Bruin

"By die vroue moet jy goed kan teach, voordat jy goed kan afrig. Kennis is vir hulle mag."

Dit maak natuurlik 'n verskil dat mans reeds van kleins af rugby speel, erken hy. Hy sê vrouerugby in die land is nog in sy babaskoene.

"Die mans ry al fiets van kleins af, terwyl hierdie girls nou eers die fiets kry.

"Jy moet hulle mooi wys waar verander jy ratte en waar is die klokkie. Vir 'n man sê jy klim op die fiets en ry."

De Bruin tree in 2025 saam met die Bok-vroue aan vir sy eerste Wêreldbeker as afrigter en volgens hom is daar nog hope werk wat voorlê. Hy wil onder meer konsultante, wat insluit 'n skopafrigter en dalk 'n sportsielkundige, gebruik om sy span verder te verbeter.

Die Bok-vroue het onlangs in die WXV 2-toernooi in Kaapstad Japan (11de op die wêreldranglys) met 31-24 geklop en naelskraap met 26-33 teen Australië (5de) en met 19-23 teen Italië (8ste) verloor. Suid-Afrika is 12de op die lys.

De Bruin sê sy span se beter verdediging, asook sy goeie vaste fasette, het in die kort tyd tot die opwaartse kurwe bygedra.

Aspekte wat hy meen nog aandag moet kry, is onder meer algemene skopwerk, kondisionering, fisiekheid en die intensiteit waarteen gespeel word.

"Nieu-Seeland, Amerika, Kanada, Engeland en Frankryk speel met reuse-intensiteit.

"Hulle kan in 'n bokskryt ingaan en vir drie minute voluit boks. Ons kan nog net 'n minuut lank boks."

De Bruin sê hy sou vooraf Suid-Afrika se Wêreldbeker-loting gevat het, al kan geen span onderskat word nie. Frankryk is 4de ter wêreld en Brasilië 42ste, terwyl die Bok-vroue byna vir Italië skrikgemaak het.

"Dis 'n goeie loting. Italië het sekere goed wat hulle bitter goed doen wat ons sal moet neutraliseer. Daar is hoop, en as daar hoop is, is daar 'n kans."

Volgens hom is dit die doelwit om die uitkloprondes te haal. Daarvoor sal die vroue, wat nog nooit 'n Wêreldbeker-wedstryd kon wen nie, waarskynlik vir Brasilië en Italië moet klop.

  • Groepe vir 2025 se WB:
  • Groep A: Engeland, Australië, VSA, Samoa. Groep B: Kanada, Skotland, Wallis, Fidji. Groep C: Nieu-Seeland, Ierland, Japan, Spanje. Groep D: Frankryk, Italië, SA, Brasilië.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM