Terwyl Rassie Erasmus in die oë van baie Suid-Afrikaners op water loop, is hy nie skaam om oor sy foute te bieg nie.
Een daarvan was persepsies oor Willie le Roux, wat Saterdag in Gqeberha teen Italië sy 100ste toets vir die Springbokke gaan speel.
Le Roux (35) het destyds sy opgang by die Boland gemaak toe Erasmus die Westelike Provinsie se hoof van rugby was. Erasmus het uit die hoofde van daardie amp ook in die agtergrond die toutjies by die Stormers getrek.
"Willie is 'n interessante karakter. Ek het hom aanvanklik nie goed geken by die Stormers nie. Ek het basies gesê dat hy nie in die Stormers-groep hoort nie omdat hy sy hart op sy mou dra in wedstryde," het Erasmus gister in Gqeberha gesê.
"Ek onthou dat ek by geleentheid vir 'n oorsese afrigter gesê het dat ek nie Willie se gebare verstaan nie. Sy antwoord, wat my bygebly het, was dat dit is omdat Willie soveel omgee. Hy steek nie sy emosies weg nie."
Erasmus het bygevoeg dat hy "baie bly" is dat Le Roux sy 100ste toets gaan speel.
"Ek het destyds beslis 'n fout gemaak deur hom nie by die Stormers te hou nie en nou gaan hy sy 100ste toets speel. Ons is baie trots op hom en hoop dat ons met hierdie wedstryd vir hom 'n spesiale herinnering kan skep."
Die enigste spelers wat tot op hede by 100 toetse uitgekom het, is Eben Etzebeth, Victor Matfield, Bryan Habana, Tendai Mtawarira, John Smit, Jean de Villiers en Percy Montgomery.
Saterdag se wedstryd gaan ook baie spesiaal vir Jasper en Cobus Wiese wees wanneer hulle die 37ste stel broers word wat saam vir die Bokke speel. Jasper is in die beginspan as agtsteman met Cobus wat sy buiging van die plaasvervangersbank af gaan maak.
Erasmus self tel onder die voormalige Oos-Kapenaars in die Bok-opset wat maar net te dankbaar is dat hulle die kans kry om in Gqeberha te wees vir 'n toets. Makazole Mapimpi gaan sy 47ste toets op vleuel speel.
Daar is wel die teleurstelling dat die Bokke se gereelde kaptein, Siya Kolisi, nie sal kan speel in die stad waar hy in rugby geskool is nie. Kolisi het reeds die wedstryd teen die Barbarians en verlede week se eerste toets teen Italië misgeloop.

"Siya wou baie graag in hierdie wedstryd gespeel het, Mapimps wil in hierdie wedstryd speel en ek wil betrokke wees, want ons kom van hier af," het Erasmus gesê.
"Dit was 'n taai een, maar die wyse besluit is om vir Siya nóg 'n week te laat rus. Die besering is nie ernstig nie, maar met 'n haksening kan nóg 'n week se rus jou slegs tot voordeel strek."



















