
Die raaisel of Siya Kolisi weer die Springbokke sal aanvoer en of Rassie Erasmus 'n nuwe Bok-kaptein in die oog het, is nie 'n vreemde scenario vir die nasionale hoofafrigter nie.
John Smit, wat in 2007 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, het gesê in sy tyd as Bok-kaptein moes Peter de Villiers as die Bok-breier ook dikwels bontstaan oor of hy as die Springbok-kaptein moet aanbly tot die volgende Wêreldbeker-toernooi.
Die destydse Bok-afrigter het egter vir die volgende vier jaar met Smit as leier volhard, al was hy aan die ouer kant en al het hy ook in 'n stadium van haker na vaskop geskuif.
Volgens Smit het Erasmus al voorheen soortgelyke draaiboeke gesien afspeel en sal hy waarskynlik ook dié kennis gebruik om te besluit of Kolisi steeds die Bokke gaan lei.
Die voormalige Bok-leier staan bankvas agter Kolisi, maar het volle vertroue in Erasmus se besluite oor Kolisi se toekoms.
Erasmus het 'n paar weke gelede aangedui dat die 32-jarige Kolisi, wat sy land tot twee agtereenvolgende Wêreldbeker-oorwinnings gelei het, nie noodwendig weer voor vir die Bokke gaan uitdraf nie.
Die Bok-bestuur se voorkeur is dat sy kaptein in Suid-Afrika speel om sodoende ook beskikbaar te wees om onder meer oefenkampe by te woon en betyds vir toetse vrygestel te word.
Kolisi speel sedert einde 2023 vir Racing 92 en Rapport het berig die Bokke wag op die Franse klubspan se versekering dat hy Kolisi sal vrystel vir sy Bok-verpligtinge. Indien wel, kan Erasmus Kolisi as kaptein behou.
Rassie is altyd een stappie voor die res en berekend in alles wat hy doen.
"Ek is 'n reuse-aanhanger van Siya en hy het steeds baie om Suid-Afrika te bied. En Rassie het dit duidelik gemaak dat hy ook só glo," het Smit tydens 'n mediasessie wat deur Vodacom en die Verenigde Rugbykampioenskap gereël is, aan Rapportgesê.
"Maar Rassie is ook die ou wat die moeilike besluite moet neem.
"Peter de Villiers was in presies dieselfde posisie met my van 2007 tot 2011 se Wêreldbekers. 'n Mens kan onthou onder watter druk hy was. Hy moes omtrent op elke mediakonferensie die vraag antwoord oor of ek te oud is om die span nog in 2011 te lei.

"Rassie het die fliek al 'n paar keer gesien en hy berei ons voor op verandering. Hy kan dalk dinge verander of hy kan dalk besluit om dit nie te doen nie."
Smit, wat 111 toetse gespeel het, het ná 2007 se Wêreldbeker ook 'n jaar vir Clermont in Frankryk gespeel en steeds die Bok-kaptein gebly.
Francois Pienaar (1995), Smit (2007) en Kolisi (2019 en 2023) is die drie Bok-leiers wat die Wêreldbeker kon wen. Volgens www.genslin.us/bokke/ is Smit die kaptein wat die Bokke in die meeste toetse (83) aangevoer het, gevolg deur Kolisi (53).
Smit het gesê Erasmus is uitgeslape en as hy iets in die media sê, het hy 'n plan daarmee.
"Hy is óf besig om Siya te probeer terugkry (in Suid-Afrika) óf hy berei die land voor dat Siya dalk nie in elke wedstryd kaptein gaan wees nie."
Volgens hom kan Kolisi dalk ook weer na Suid-Afrika terugkeer nadat sy kontrak van drie jaar by Racing klaarmaak.
"Een ding wat ek beslis weet, is dat niemand van ons baie geld sou maak deur te voorspel presies wat Rassie gaan doen nie.
"Hy is altyd een stappie voor die res en berekend in alles wat hy doen," het Smit gesê.















