Springbokke

OORSIG: Bokke klop Wallis met 41-13

Die Springbokke het hul seisoen op 'n wennoot begin met 'n oorwinning oor Wallis wat uiteindelik heel oortuigend was.

2024-06-22 17:08:09Die uitdaging wat Ierland gaan bied in die komende reeks van twee toetse in Suid-Afrika sal aansienlik groter as vandag s'n wees, maar Rassie Erasmus behoort tevrede te wees dat baie van sy spelers hul wedstrydfiksheid kon opskerp en dat 'n grondslag gelê is vir die eerste ontmoeting met Ierland oor twee naweke op Loftus Versfeld. Gepraat van Loftus, die aandag verskuif nou soontoe vir die Bulle se Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd teen die Glasgow Warriors. Kom ons hoop die Bulle kan die Bokke dit nadoen. Groete tot volgende keer.2024-06-22 17:04:30Pieter-Steph du Toit, wat die Bokke gelei het vandag, sê daar was tye wat hulle bietjie drooggemaak het, maar glo daardie haakplekke sal uitgestryk word hoe langer die span weer saam is. 2024-06-22 17:03:00Edwill van der Merwe word in sy debuuttoets as die Speler van die Wedstryd aangewys. Dis welverdiend. Sy spanmaat Aphelele Fassi sou ook 'n waardige ontvanger van die toekenning gewees het. 2024-06-22 16:59:15Die Bokke eindig die wedstryd op die aanval, maar Pieter-Steph du Toit hardloop per ongeluk in 'n spanmaat vas en die skeidsregter sê dis onbedoelde onkantspel. Die eindfluitjie blaas en Suid-Afrika seëvier met 41-13.2024-06-22 16:56:16Die Bokke word by 'n afbreekpunt in hul eie halfgebied gestraf en Wallis gaan kans kry om 'n troosdrie te gaan druk met 'n lynstaan vyf meter van die Bokke se doellyn. Suid-Afrika se verdediging hou egter en nadat die bal oor die doodlyn spat, is daar 'n doellyn-inskop vir die Bokke.2024-06-22 16:51:49Edwill van der Merwe bars deur die kleinste van gapings en nael al die pad doellyn toe vir 'n drie in sy debuuttoets! Die doelskop is oor en die Bokke kan nou, in die laaste vyf minute, maar weer terugkeer na Barbarians-rugby.2024-06-22 16:49:31Die Bokke word nou vasgepen in hul eie halfgebied, maar Wallis se aanvallende spel is maar stomperig en hulle maak nie veel vordering nie.2024-06-22 16:47:10Bongi Mbonambi kry behandeling vir wat lyk na 'n seer skouer of selfs 'n rib. Hy gaan gelukkig aanhou speel.2024-06-22 16:44:36Dis 'n puik, kragtige rolmaalbeweging deur die Bokpak en Bongi Mbonambi beur oor vir 'n drie. Feinberg-Mngomezulu se doelskop is oor en Suid-Afrika is skielik weer met 21 punte voor.2024-06-22 16:42:45Die Bokke begin nou bietjie meer beheer van die wedstryd neem en dwing nog 'n strafskop af. Hierdie keer skop Suid-Afrika toe kantlyn toe en die lynstaan is so ses meter van Wallis se doellyn.2024-06-22 16:40:44Albei spanne sukkel om tans enige momentum te kry. Wallis word weer gestraf en Feinberg-Mngomezulu besluit om van net binne sy halfgebied pale toe te mik. Sy skop is absoluut briljant en hy't sy eerste punte in toetsrugby!2024-06-22 16:37:57Die Bokke verdedig uitstekend en Damian de Allende dwing 'n strafskop af toe hy by die afbreekpunt om die bal meeding. Feinberg-Mngomezul verplaas spel tot net binne Wallis se halfgebied.2024-06-22 16:36:44Eben Etzebeth, wat 'n stillerige wedstryd beleef het, word deur Salmaan Moerat vervang voor die lynstaan vorm.2024-06-22 16:35:46Dis Bongi Mbonambi wat 'n Walliese speler skrams teen die kop tref soos hy 'n dryfbeweging probeer stuit. Dis gelukkig vir Mbonambi net 'n strafskop en Wallis gaan weer die bal naby aan die Bok-doellyn kan uitskop.2024-06-22 16:33:51Nes in die eerste helfte die geval was, begin die Bokke hul weer aan al meer foute en oortredings skuldig maak. Hierdie keer is dit 'n afbreekpunt-strafskop. Gelukkig vir die Bokke skop Costelow die bal oor die doodlyn en dis 'n Bok-skrum. Nou wil die TV-skeidsregter kyk na moontlike kontak met die kop deur 'n Bok.2024-06-22 16:31:14Sacha Feinberg-Mngomezulu word 'n Bok. Hy vervang vir Jordan Hendrikse op losskakel.2024-06-22 16:29:37Die kykwere wys dis nie 'n drie nie en dis 'n doellyn-inskop vir die Bokke.2024-06-22 16:27:57Vir die tweede keer vandag besluit Chris Busby dat die Bokke nie reguit skrum nie en nou gaan Wallis die bal vyf meter van die Bokke se doellyn ingooi. Damian de Allende vervang vir Andre Esterhuizen voor die lynstaan vorm. Wallis dryf oor die doellyn van die lynstaan af, maar Busby wil kyk of die bal in die lug was of geplant is.2024-06-22 16:25:58Makazole Mapimpi word deur Aphelele Fassi gelukgewens nadat hy die Bokke se derde drie teen Wallis gedruk het. Foto: Getty Images

2024-06-22 16:22:43Dis ook Roos se laaste stukkie spel vir die dag en hy word deur sy Stormers-spanmaat Ben-Jason Dixon vervang. Dis Dixon se toetsdebuut. Kwagga Smith sal nou agtsteman toe skuif, met Dixon op flank.2024-06-22 16:21:31Evan Roos is vir 'n tweede keer amper oor die doellyn, maar kan net-net die bal plant nie en Wallis sal 'n doellyn-inskop hê.2024-06-22 16:20:17Wallis word gestraf vir 'n hoë duikslag op Frans Malherbe. Die beamptes het na 'n klomp kykwere gekyk om te sien of dit 'n geel kaart regverdig, maar besluit daarteen. Hendrikse skop die bal diep in Wallis se kwartgebied uit. Grant Williams is nou op die veld in Faf de Klerk se plek.2024-06-22 16:14:51Aphelele Fassi is absoluut skitterend onder Wallis se hangskoppe. Sy spel sal 'n verligting vir die Bok-afrigtingspan wees gegewe dat Damian Willemse tans beseer is.2024-06-22 16:12:43Malherbe-hulle laat hul gou geld in die vaste skrums en Wallis word gestraf op hul eie ingooi. Die Bokke se taktiek is duidelik nou bietjie anders, want Hendrikse wil pale toe mik. Dis 'n redelik moeilike skop van die 10 meter-lyn af, maar hy's oor!2024-06-22 16:08:53Fassi rank weer hoog om 'n hoë skop te bemeester en word in die lug deur Liam Williams gelak. Hendrikse skop kantlyn toe, maar Malcolm Marx se ingooi is skeef en Wallis kan die druk verlig. Marx se eerste wedstryd sedert sy kniebesering in die WB-toernooi is verby en hy word deur Bongi Mbonambi vervang. Frans Malherbe vervang ook vir Vincent Koch.2024-06-22 16:05:47Faf de Klerk neem 'n vinnige tikkie nadat Wallis by die afbreekpunt gestraf word. Die Bokke neem die bal deur 'n paar fases en Makazole Mapimpi gaan druk in die hoekie. Jesse Kriel se laaste aangee na Mapimpi het effe vorentoe gelyk, maar die beamptes sê dis nie die geval nie en die drie staan. Hendrikse se doelskop van die kantlyn is oor en dis die beste wyse waarop Suid-Afrika die tweede helfte kon begin.2024-06-22 16:03:06Wallis skop af en die tweede helfte het begin.2024-06-22 15:53:31Jordan Hendrikse was nie op sy beste in sy eerste 40 minute van toetsrugby nie. 'n Mens wonder of Rassie Erasmus hom dalk iewers in die tweede helfte met nog 'n groentjie, Sacha Feinberg-Mngomezulu, gaan vervang. Foto: Getty Images

2024-06-22 15:48:34Die Bokke stoot Wallis weer terug in die vaste skrum en hierdie keer sê Busby darem dat Wallis oortree het. Die Bokke skop die bal omtrent op die halflyn uit en kry nog een aavalskans. Hul spel is egter slordig en Faf de Klerk besluit uiteindelik om eerder die bal uit te skop en energiedrankies te gaan drink in die kleedkamer. Dit was nou nie 'n baie oortuigende eerste helfte vir die wêreldkampioene nie en Rassie Erasmus sal bietjie die sweep moet klap.2024-06-22 15:45:16Liam Williams raap die bal uitstekend voor die hande van Hendrikse weg met 'n puik dwarsskop deur Costelow. Gelukkig probeer Williams ook die bal lewendig hou met 'n drukaangee en Wallis slaan aan. Fassi keer terug na die veld en die Bokke is vir die laaste paar sekondes van die helfte weer voltallig. 2024-06-22 15:43:27Die Bokke loop met Wallis in 'n skrum, maar hierdie keer sê die skeidsregter dat hulle dit doelbewus laat swaai het en Wallis kan druk met 'n strafskop verlig.2024-06-22 15:42:12Jordan Hendrikse gly met die Bokke mooi op die aanval en smyt die bal onnodig weg. Hy beleef sover 'n moeilike debuut.2024-06-22 15:39:51Die Bokke maak word nog 'n keer gestraf vir onkantspel by 'n lynstaan-rolmaal deur Wallis en skielik is die Drake terug in Suid-Afrika se kwartgebied. Wallis wen hul lynstaan-ingooi en laat loop die bal. Evan Roos klap dit egter af en dis nog 'n strafskop, reg voor die pale. Costelow sê baie dankie en die Bokke is nou net met 'n enkele punt voor. 'n Mens vermoed Rassie Erasmus gaan nie rustyd 'n baie gelukkige man wees nie. Daar is nog so vyf minute spel oor in die eerste helfte.2024-06-22 15:36:51Daar's darem goeie nuus vir die Bokke. Fassi se geel kaart sal nie opgradeer word na 'n rooie nie.2024-06-22 15:36:09Die Bokke klap die bal na hul kant van Wallis se ingooi in die lynstaan, maar kan dit nie bemeester nie en Dewi Lake, haker en kaptein van Wallis, raap dit op en gaan druk so wraggies in die hoekie. Costelow se skop van naby die kantlyn is oor en skielik is die Drake sterk terug in hierdie toets.2024-06-22 15:34:25Apheleli Fassi is sover briljant onder Wallis se hangskoppe, maar die skeidsregter kyk nou hier na 'n voorval waar sy stewel Taine Plumtree teen die skouer tref soos hy grond toe gaan nadat hy hoog gerank het om die bal te wen. Fassi word met 'n geel kaart gestraf en die "bunker" moet besluit of dit 'n erger straf moet kry. Fassi is bitter ongelukkig, want hy was van balans af toe hy Plumtree getref het.2024-06-22 15:30:22Dalk het die Bokke Barbarian-koors omdat die einste Baabaas hierna teen Fidji op Twickenham gaan speel!2024-06-22 15:28:06Die Bokke speel tans amperse Barbarians-rugby, maar soos vroeër genoem is hulle nog nie skerp genoeg vir hierdie taktiek om tans suksesvol te wees nie.2024-06-22 15:26:33Die Bokke probeer uit hul eie halfgebied met die bal hardloop, maar Liam Williams onderskep die bal en word diep in die kwartgebied deur Edwill van der Merwe gelak. Williams voer die senter Mason Grady met die bal en hy word ook deur Van der Merwe geduik. Gelukkig slaan Wallis die bal in die volgende fase aan. Die Bokke wen hul skrum en Van der Merwe hardloop vanuit sy eie kwartgebied mooi langs die kantlyn af voor hy die bal wegskop.2024-06-22 15:23:07Jesse Kriel op pad doellyn toe vir die Bokke se eerste drie. Foto: Getty Images

2024-06-22 15:21:56Die Bokke kan nie 'n Walliese hangskop bemeester nie en Wallis kry weer 'n skrum-ingooi. 'n Mens kan sien dat dit die Bokke se eerste wedstryd van die seisoen is, want almal is nog nie so skerp as wat hulle moet wees nie.2024-06-22 15:19:41Die Bokke slaan die bal van die afskop aan en Wallis dwing 'n strafskop af. Sam Costelow mik pale toe, maar sy korrel is uit met 'n maklike skop.2024-06-22 15:16:43Die Bokke dryf van die lynstaan af en Wallis laat die rolmaal onwettig in duie stort net kort van die doellyn. Dis 'n strafdrie en 'n tweede Wallieser, Aaron Wainwright, kry ook 'n geel kaart! Wallis sal nou vir 'n rukkie met 13 spelers oor die weg moet kom.2024-06-22 15:15:17Wallis se verdediging hou vir eers, maar hy staan nog 'n strafskop af. Die Bokke skop hoekie toe en gaan 'n lynstaan vyf meter van die Drake se doellyn af hê.2024-06-22 15:13:09Maar die Bokke is dadelik weer op die aanval, met Evan Roos wat amper deurnael vir 'n drie. Franco Mostert beur oor die lyn, maar die blaser beslis dat hy nie die bal kon druk nie. Wallis se vleuel Rio Dyer kry egter 'n geel kaart vir onkantspel op sy doellyn. Die Bokke besluit om te skrum.2024-06-22 15:11:50Die Bokke gooi in by die eerste vaste skrum nadat amper nege minute al verloop het. Soos verwag is Wallis dadelik in trurat en word hulle gestraf. Hendrikse skop hierdie keer hoekie toe. Malcolm Marx, wat die eerste keer sedert September verlede jaar speel, kan egter nie sy springer vind nie en dis 'n verlore kans.2024-06-22 15:07:50Wallis kry vir die eerste keer bietjie besit in die Bokke se halgebied nadat Faf de Klerk die bal direk uitskop en dis nie lank nie en die Drake dwing ook 'n strafskop af. Sam Costelow mik pale toe en is in die kol.2024-06-22 15:05:20Van die afskop kry die Bokke die bal terug en Jesse Kriel gaan druk nadat daar pragtige samespel tussen voor en agterspeler is! Hendrikse is hierdie keer in die kol en dis 7-0 vir Suid-Afrika.2024-06-22 15:03:36Die Bokke neem die bal deur 'n klompie fases sonder om veel veld te wen, maar hulle dwing wel 'n strafskop af en Jordan Hendrikse gaan die eerste keer in sy toetsloopbaan aanlê pale toe. Die senuwees moes bietjie gepla het, want hy stoot 'n relatief maklike skop regs verby die pale.2024-06-22 15:00:53Die skeidsregter vandag is die Ier Chris Busby. Hy blaas sy fluitjie en hier gaan ons!2024-06-22 14:58:41Al die nodige formaliteite is afgehandel en dis tyd vir 'n bietjie rugga! 2024-06-22 14:56:12Die volksliedere word nou gesing. 2024-06-22 14:52:53Vincent Koch draf eerste op Twickenham se lowergroen veld uit. Hy speel vandag in sy 50ste toets.2024-06-22 14:52:11Rassie Erasmus is vandag die eerste keer sedert hy in 2018 die Bok-leisels geneem het sonder sy getroue adjudant, Jacques Nienaber, wat nou by Leinster in Ierland afrig. Erasmus het in 'n TV-onderhoud gesê hy mis Nienaber op 'n professionele en persoonlike vlak, maar het bygevoeg dat hulle gereeld met mekaar in verbinding is. Foto: Getty Images

2024-06-22 14:48:00Dis ook 'n groot dag vir Pieter-Steph du Toit, wat slegs die tweede keer in sy loopbaan die Bokke gaan aanvoer vandag. Hy's nie 'n speler wat baie praat nie, maar sal vir seker met sy voorbeeld lei op die veld.2024-06-22 14:44:20Beide die Springbokke en Wallis sal nie vandag op volle sterkte wees nie. Omdat hierdie toets buite Wêreldrugby se amptelike venster vir internasionale kragmetings val, hoef klubs nie hul spelers beskikbaar te stel nie. Gevolglik kon sommige Bokke, wat in Engeland en Frankryk speel, nie oorweeg word nie. Dan is die Bulle se Bok-kontingent natuurlik ook afwesig aangesien hulle later vandag vir Glasglow in die VRK-eindstryd pak.2024-06-22 14:39:43

2024-06-22 14:34:10Dis 'n groot dag vir Jordan Hendrikse (losskakel) en Edwill van der Merwe (vleuel), die twee Leeus wat vandag hul toetsdebuut maak. Hulle is albei in die beginspan. Twee Stormers, Ben-Jason Dixon (flank) en Sacha Feinberg-Mngomezulu (veelsydige agterspeler, sal ook hul debuut maak as hulle speeltyd as plaasvervangers kry.2024-06-22 14:28:37Hoewel hulle in Londen speel, word hierdie wedstryd as 'n "tuistoets" vir die Bokke beskou en sal hulle op groot ondersteuning van die derduisende Suid-Afrikaners in Londen kan staatmaak. Foto: Getty Images

2024-06-22 14:23:24Die Bokke en Wallis is vir die derde keer in 'n toets in die Engelse hoofstad slaags. In 1998 het Nick Mallett se span die Rooi Drake daar met 27-29 geklop en in 2015 het Heyneke Meyer se span 'n senutergende Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Wallis met 23-19 gewen.2024-06-22 14:18:52Die Springbokke is vanmiddag om 15:00 op Twickenham in Londen die eerste keer in aksie sedert daardie glorieryke aand in Parys op 28 Oktober verlede jaar, toe hulle die All Blacks in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi met 12-11 geklop het.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM