Springbokke

Steyn se tydloosheid verstom, sê Beast

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Jong Frans Steyn op losskakel teen Italië in 2008. Foto: Gallo Images
’n Jong Frans Steyn op losskakel teen Italië in 2008. Foto: Gallo Images

Die dag wat Tendai Mtawarira sy eerste van net twee drieë in 117 toetse vir die Springbokke gedruk het, was die laaste keer wat Frans Steyn die nr. 10-trui gedra het. Dit was op 21 Junie in 2008 teen Italië.

Dié 37-jarige voormalige loskopstut van die nasionale span, wat in sportkringe eenvoudig as "Beast" bekend staan, is in verwondering oor die tydloosheid van die 35-jarige Steyn.

Dié veteraan bevind hom Saterdag in Durban teen die Poemas vir net die tweede keer in 78 toetse in die beginspan as die span se generaal.

"Ek is beïndruk met hoe Frans vir so lank op 'n hoë vlak bly speel," het Mtawarira vandeesweek in Kaapstad gesê waar hy tydens 'n geleentheid vir AEG 'n groepie mense op 'n toer deur die DHL-stadion geneem het.

"Ek het baie toetse saam met hom gespeel en dit is indrukwekkend dat hy daardie hoë standaard behou."

Steyn was 14 jaar gelede ook op losskakel in eendeweer teen die Azzurri op Nuweland, met Suid-Afrika wat toe met 26-0 baas was. Hy het daardie dag ook self agter die doellyn gedraai.

"Dit steek nie sommer in enigiemand om die nr. 10-trui vir die Bokke te dra nie. Jy moet dit verdien en hy verdien dit volkome. Ek sien uit om te sien hoe hy sake beheer. Dit gaan fisiek wees, want ons weet Frans is lief daarvoor om die bal te dra."

Tendai Mtawarira het in 2008 een van net twee toetsdrieë gedruk teen Italië. Foto: Gallo Images
Tendai Mtawarira het in 2008 een van net twee toetsdrieë gedruk teen Italië. Foto: Gallo Images

Mtawarira glo die Springbokke het 'n gulde geleentheid om Saterdag die Rugbykampioenskap te wen, maar reken ook dat Argentinië weer eens nie 'n maklike teenstander gaan wees nie.

"Dis sover 'n wedloop wat wyd oop is. Dit is lekker om te sien dat Argentinië ongelooflike rugby speel. Vir hulle om Australië en Nieu-Seeland te kon klop, wys dat die sport groei en meer kompeterend raak.

"Ek glo regtig die Springbokke het 'n ongelooflike kans om dit (die kompetisie) Saterdag te wen, maar ons moet steeds goed speel.

"Die wedstryd in Buenos Aires was 'n goeie vertoning ondanks die feit dat die span in die tweede helfte in 'n stadium ietwat aan die slaap geraak het. Hulle kon minstens sterk terugkom. Ek dink ons moet goed begin en ek glo hulle kan in Durban 'n bonuspunt-oorwinning behaal."

Nie baie Springbokspanne kon al die trofee in die Rugbykampioenskap lig nie, maar Mtawarira was in die groepe wat in 2009 (toe nog die Drienasies-reeks) en 2019 die kompetisie beklink het.

"Ons het nog nie veel van hulle gewen nie. Dit is spesiaal. In 2019 was dit net my tweede keer, so dit was 'n baie lang wag. Wanneer jy die kans het om dit te wen, moet jy dit doen. Suid-Afrika is nou in 'n goeie posisie om die rugbywêreld te oorheers, want die All Blacks is nie meer waar hulle was nie. Dit is 'n goeie geleentheid om voordeel daaruit te put."

Hy reken Jacques Nienaber, die Bok-hoofafrigter, se besluit om weer die sogenaamde "Bomb Squad" - 'n plaasvervangersbank bestaande uit ses voorspelers en twee agterspelers - in te span vir die laaste wedstryd, dui daarop dat die Suid-Amerikaners hul keer sal moet ken.

"Dit gaan 'n stryd wees met 'n fokus op wat voorlangs gebeur. Die Bokke het reeds gewys ons rolmaalbewegings is gevaarlik en hopelik sal ons hulle Saterdag ook met hierdie wapen slae gee, asook in die skrums.

"Dit kan ons help om die bonuspunt te kry. Dit is waarom ouens soos Duane (Vermeulen) en Kwagga (Smith) onder die plaasvervangers is."

Die Springbokke het die afgelope naweek boonop nie geskroom om die agterspelers in die lynstane te betrek nie.

"Dit is 'n lekker afwisseling en hou die teenstanders aan die raai. Ons het voorlangs oorheers en ons kan dit nou weer doen op eie bodem. Dit behoort genoeg motivering te wees om hulle regtig slae te gee," het Mtawarira bygevoeg.

* YouTube-skakel na hoogtepunte van toets teen Italië in 2008:

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM