VRK

Bulle karnuffel Ulster op Loftus

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
David Kriel, binnesenter van die Bulle, druk een van sy span se sewe drieë teen Ulster op Loftus Versfeld.Foto: Gallo Images
David Kriel, binnesenter van die Bulle, druk een van sy span se sewe drieë teen Ulster op Loftus Versfeld.Foto: Gallo Images

Wie het gesê in moderne rugby kan wedstryde nie meer met 'n skrumoorheersing gewen word nie?

Die Bulle het Saterdagmiddag op Loftus Versfeld in dié faset die grondslag gelê vir 'n puik sege van 47-21 oor Ulster in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).

Jake White, die Bulle-breier, het in aanloop tot die ontmoeting voorspel die Bulle-voorhoede gaan die seisoen 'n hele paar spanne opkeil in dié kompetisie.

Die Ligbloues het die besoekers uit die staanspoor voos geskrum met die Bok-voorry van Gerhard Steenekamp, Johan Grobbelaar en Wilco Louw wat in 'n omgekrapte bui was.

Steenekamp, wat verlede Saterdag teen Argentinië in sy agtste toets vir die Springbokke gespeel het, is duidelik besig om wasdom te bereik in die voorry.

Hy het nie net in die skrums te veel spierkrag vir sy direkte teenstander, Corrie Barrett, gehad nie, maar was ook bedrywig in die vaste los.

Ulster, een van die topspanne in die VRK, was onder hewige druk in die skrums en die einste Barrett het in die 31ste minuut 'n verpligte "ruskans" van tien minute gekry nadat Steenekamp hom vir 'n soveelste keer in trurat gehad het.

Die Bulle het, toe daar koers gekies is kleedkamer toe, 'n gerieflike voorsprong van 21-7 gehad.

Jacob Stockdale, die besoekers se linkervleuel, het Ulster in 'n stadium in die eerste helfte vals hoop gegee toe hy die Bok-vleuel Kurt-Lee Arendse aan die buitekant geklop het om te gaan druk.

Ulster het eers in die 68ste minuut weer gaan druk toe die binnesenter Ben Carson oor die doellyn is.

Dit was in daardie stadium reeds gedane sake met die Bulle-senter Canan Moodie wat reeds vroeg in die tweede helfte sy span se bonuspuntdrie gedruk het.

Verlede week se poging teen Edinburgh het veel te wense oorgelaat, maar die Bulle was verby knap teen die Iere.

Steenekamp is welverdiend as die Speler van die Wedstryd aangewys, maar die eer kan maklik ander makkers in die pak soos Elrigh Louw, Cameron Hanekom of die kaptein, Ruan Nortjé, te beurt geval het.

In die agterlyn het Boeta Chamberlain op losskakel sy beste vertoning gelewer sedert hy in Pretoria aangekom het en Arendse en Moodie was ook oudergewoonte op hul stukke.

Daar is nou al baie gesê en geskryf oor die Bulle se flater teen die Glasgow Warriors in verlede seisoen se eindstryd. Dit behoort nou tot die verlede. Saterdagmiddag se poging wys immers die Bulle behoort weer een van die aanspraakmakers te wees. Voorwaarts!

Puntemakers

  • . Driee: Kurt-Lee Arendse, David Kriel, Johan Grobbelaar, Canan Moodie, Cameron Hanekom, Boeta Chamberlain, Elrigh Louw. Doelskoppe: Boeta Chamberlain (3), David Kriel (2), Keagan Johannes (1).
  • Drieë: Jacob Stockdale, Ben Carson, Stewart Moore. Doelskoppe: Nathan Doak, James Humphreys (2).

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM