VRK

Bulle neem wraak in Glasgow

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Bulle vier David Kriel se drie Vrydagaand teen die Glasgow Warriors in die spanne se ontmoeting in die Verenigde Rugbykampioenskap. Foto: Getty Images
Die Bulle vier David Kriel se drie Vrydagaand teen die Glasgow Warriors in die spanne se ontmoeting in die Verenigde Rugbykampioenskap. Foto: Getty Images

Dit is makliker om 'n kampioen te word as om een te bly, lui die gesegde.

Afrigter Franco Smith se Glasgow Warriors is Vrydagaand op hul tuisveld in die Scotstoun-stadion hieraan herinner toe die Bulle hulle met 26-19 in 'n wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) geklop het.

Jy hoor sommer hoe daar in die weste van Skotland protes aangeteken word dat die Warriors midde-in 'n beseringskrisis is.

Maar die Bulle was ook sonder Springbokke soos Kurt-Lee Arendse, Elrigh Louw en Gerhard Steenekamp.

In die opbou tot die stryd tussen die spanne wat verlede seisoen op Loftus Versfeld in die eindstryd kragte gemeet het, is daar in die Bulle-kamp weggebly van wraakpraatjies.

Maar wraak was lanklaas só soet - en dit nogal vir 'n span wat in hul vierde wedstryd op toer in Europa gespeel het.

Die tuisspan was nie 'n skaduwee van die een wat die Bulle verlede seisoen in die eindstryd van die kompetisie in Pretoria verras het nie.

Die Bulle het - soos verlede naweek in Limerick teen Munster - die kontaksituasies oorheers en was weer takties knap en uitgeslape.

Maar dié sege het sy voorsprong voorlangs gehad met die Warriors wat eenvoudig nie opgewasse was teen die Bulle-pak nie.

Die besoekers was die beter span op die veld in die eerste helfte en dit het die Warriors 35 minute gevat om kortstondig voor te loop.

Jamie Dobie, plaasvervanger-agterspeler van die Warriors, het gaan druk kort nadat die Bulle-stut Wilco Louw 'n geel kaart weens 'n hoogvat gekry het.

Die Bulle was nietemin met rustyd met 9-7 voor en die drieë van Johan Grobbelaar en David Kriel vroeg in die tweede helfte het die Ligbloues 'n voorsprong van 26-7 gegee.

Die ou kwaal van die voet van die versneller af haal het weer in die laaste paar minute kop uitgesteek toe Glasgow binne 'n oogwink twee keer gaan afrond het.

Maar die koeël was toe reeds deur die kerk.

Jan-Hendrik Wessels, wat aan die loskopkant van die skrum begin het, was briljant en is verdienstelik as die Speler van die Wedstryd aangewys.

PUNTEMAKERS:

Glasgow Warriors 19 (7). Drieë: Jamie Dobie, Kyle Steyn, Stafford McDowall. Doelskoppe: George Horne (2).

Bulle 26 (9). Drieë: Johan Grobbelaar, David Kriel. Doelskoppe: Johan Goosen (2). Strafdoele: Goosen (4).

VRK-GIDS:

• Bepalings

• Puntelys

• Uitslae

- cobus.claassen@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM