Hoewel die Haaie nie meer 'n kat se kans staan in die Verenigde Rugbykampioenskap nie, het John Plumtree se span gister in Durban twee dinge vermag.
Eerstens het hulle 'n blik gegee op dít waartoe hulle op volsterkte in staat is. En tweedens het hulle waarskynlik ook 'n guns aan 'n paar ander Suid-Afrikaanse spanne bewys deur Ulster met 22-12 op Kingspark te klop.
Die span van Ierland, wat voor die naweek se VRK-aksie afgeskop het die vyfde posisie beklee het, het die Haaitenk met leë hande verlaat.
Die Haaie was van meet af lus om die bal lug te gee, maar hul hanteerwerk het hulle aanvanklik in die steek gelaat, wat beteken het dat hulle telkens onnodige besit afgestaan het.
Die voorspelers het ook beïndruk met hul verdediging van Ulster se dryfmale, al het die Iere halfpad deur die eerste helfte eerste gedruk toe die flank Harry Sheridan langs die pale oor is ná sewe fases.
Dit het egter gelyk of Lukhanyo Am sy arm onder die bal ingekry het om te verhoed dat Sheridan dit op die grond neerkry, maar die beamptes het anders gevoel.
Die Haaie het nietemin teruggeslaan met 'n skouspelagtige drie deur Phepsi Buthelezi, wat die skare van bykans 17 000 in vervoering gehad het.
Aphelele Fassi het, vanaf omgekeerde besit vlak onder sy pale, die bal veldaf gesool. Die 21-jarige binnesenter, Ethan Hooker, het fenomenale vaart aan die dag gelê om die kruisverdediging te klop en die rollende bal beskikbaar te stel vir Buthelezi om te druk. Siya Masuku het verdoel om die rustydtelling op 7-elk te staan te bring.
Van Masuku gepraat, die Haaie se nuwe losskakel het vroeg reeds lekker aanvoeling met die bal in die hand getoon, en ook met tye myle veld gewen met sy geoefende skopvoet.
Ek is so bly vir die spelers. Die afgelope ruk was baie frustrerend.
Die Haaie het die voortou geneem skaars vyf minute ná spel hervat is, toe die blitsige Eduan Keyter met sy spoed die bal neffens die doodlyn kon druk ná 'n puik stukkie ondernemende en ondersteunende spel deur die tuisspan.
Ulster het egter, ten spyte van die hitte en humiditeit in Durban, geweier om te gaan lê. Halfpad deur die tweede skof het die slot Kieran Treadwell hul tweede drie vanaf 'n lynstaan op die Haaie se doellyn behaal.
Die Haaie het intussen hul "Bomb Squad" van Ox Nche en Vincent Koch opgestuur en by die volgende skrum, met Bongi Mbonambi tussen hulle, het die drietal die Ulster-voorry opgedreun om 'n strafskop af te dwing en 'n groot stelling te maak. Dit het glad herinner aan wat dié voorrymanne verlede jaar by die Wêreldbeker-toernooi vermag het.
Met 'n kwartier se speeltyd oor, het Ulster se kaptein en slot, Iain Henderson (hoogvat), hul senter James Hume én die Haaie-flank Vincent Tshituka (albei vir bakleiery), geel kaarte ontvang.
Vanaf die daaropvolgende lynstaan het Mbonambi vir die Haaie oorgedryf vir hul derde drie.
Plumtree het ná die tyd sy terugkerende Bokke, soos Koch en Eben Etzebeth, geloof.
"Hulle het 'n positiewe impak op die res van die spelers," sê Plumtree.
"Ek is so bly vir die spelers. Die afgelope ruk was baie frustrerend. Dis 'n lekker vooruitsig om Maandag oefening toe te kom en nié die spelers emosioneel weer te moet lig nie."
- Punte: Haaie 22 (7): Drieë: Phepsi Buthelezi, Eduan Keyter, Bongi Mbonambi. Doelskoppe: Siya Masuku (2). Strafdoel: Masuku.
- Ulster 12 (7): Drieë: Harry Sheridan, Kieran Treadwell. Doelskop: John Cooney.



















