Hy kon aansienlik meer in die Noordelike Halfrond verdien en dalk selfs aan die deur van Engeland se toetsgroep geklop het, maar Ben Loader is nie vir 'n oomblik spyt oor sy besluit om 'n Stormer te word nie.
"Ek word wakker, trek die gordyne oop en kyk uit op Tafelberg. En ek woon tien minute van die strand af. Soms moet ek myself net knyp om seker te maak ek droom nie," sê Loader, wat Stormers toe gekom het nadat sy Engelse klub, London Irish, bankrot verklaar en uit Engelse rugby geskop is.

"Wat by London Irish gebeur het, was vir elkeen van ons daar hartverskeurend. Tog voel ek geweldig gelukkig en geëerd dat ek vir só 'n ongelooflike span soos die Stormers in só 'n ongelooflike deel van die wêreld kan speel."
Loader (25) het met sy vertrek uit Engeland besef dat hy vir eers nie meer in die prentjie sal wees om vir die Rose te speel nie.
Soms moet ek myself net knyp om seker te maak ek droom nie.
"Nes dit kinders in Suid-Afrika se droom is om vir die Springbokke te speel, was dit ook myne om toetsrugby te speel. Natuurlik wil ek my land graag verteenwoordig. Die vraag was of ek liewers in Engeland moes bly, maar geleenthede soos hierdie kom bitter selde," sê hy.
"My gedagtegang was dat ek 'n beter speler en mens sou raak deur in 'n nuwe kompetisie te speel, aan 'n goeie speelstyl blootgestel te word, onder uitstekende afrigters te werk en om saam met ongelooflike spelers te speel. Indien die oproep van Engeland eendag kom, glo ek dat ek danksy hierdie ervaring 'n meer afgeronde speler sal wees."
Loader sê hy groei baie onder die Stormers se afrigtingspan.
"Die afrigters is ongelooflik. Elkeen van hulle het my op hul eie manier help ontwikkel," sê hy.

"Die wyse waarop Dawie Snyman (agterlynafrigter) oor die spel en aanval dink, is eenvoudig ongelooflik. Jy is soos 'n spons wanneer jy hom hoor praat en hy sy visie uitstippel.
"Norman Laker het my baie op die verdediging gehelp. By die Stormers skiet ons vinnig op, wat vir my 'n nuwigheid was omdat ons nie by London Irish so verdedig het nie. Hy was baie goed met die verduideliking daarvan en om my te leer wanneer om op te skiet en wanneer om terug te hou."
Loader het ook groot waardering vir die hoofafrigter, John Dobson.
"Dobbo was baie akkommoderend en verwelkomend. Ek kon my familie gaan sien ná ons wedstryd (teen Stade Francais) in Parys en ná ons toer in November. Die manier hoe hy my gemaklik en tuis laat voel het, tesame met die omgewing wat hy hier geskep het, is ongelooflik."
Ek is diep geraak deur Dobbo se filosofie dat ons missie is om Kaapstad te laat glimlag .
Loader vereenselwig hom ook met die benadering dat om 'n Stormer te wees oor baie meer gaan as om net op die veld te draf.
"Ek is diep geraak deur Dobbo se filosofie dat ons missie is om Kaapstad te laat glimlag en dat ons niks is sonder die mense van Kaapstad en die Wes-Kaap nie," sê hy.
"Rugby is groot in Brittanje, maar ek nog nie die meelewing van ondersteuners ervaar soos dit hier die geval is nie. Jy sien dit in hoeveel mense wedstryde bywoon en die stortvloed van liefde en ondersteuning wat ons kry. Dis vir my werklik 'n voorreg om hier te speel."
Dis nou al ses maande van nuwe ervaringe, maar ek was en bly steeds versot daarop.
Loader is al lekker ingeburger in die Kaap, maar gee toe dat hy nog gewoond moet raak aan Afrikaans.
"Ek raak nou beter daarmee om dit te verstaan, maar is nog ver daarvan af om dit te praat! Die ouens sal darem na Engels toe oorskakel wanneer ek in die omtrek is, wat baie help," sê hy.
"Dis nou al ses maande van nuwe ervaringe, maar ek was en bly steeds versot daarop."















