Aphelele Fassi is terug op die radar van die Springbokke. So glo die voormalige Springbok-kaptein Bob Skinstad, wat byvoeg dat Fassi se veelsydigheid hom op toetsvlak baie waardevol maak.
Skinstad beskou Fassi as een van die uitblinkers onder die Suid-Afrikaanse spelers in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK).
Volgens Skinstad moet die naam van die Haaie se heelagter beslis deel wees van die gesprek oor 'n Bok-groep. Sy statistiek in die VRK beaam dit.
Fassi, met die bynaam Weekend Special, beïndruk nie net met sy blitsige voetwerk en vaart nie, maar gee ook in verskeie fasette van die spel die pas aan (sien grafika).
Selfs in 'n teleurstellende VRK-reeks vir die Haaie, was die 26-jarige Fassi se spel 'n glanspunt.
Die Haaie, wat verlede naweek as Uitdaagbeker-kampioene gekroon is, kon voor die naweek slegs vier van hul 17 VRK-kragmetings wen en daarom maak dit die oudleerling van Dale College se vertonings nog meer merkwaardig.
"Canan Moodie (ook 'n vleuel en heelagter) kan drie posisies agterlangs speel as jy buitesenter inreken," het Skinstad tydens 'n mediasessie, wat deur die VRK en Vodacom gereël is, aan Rapport gesê.

"Fassi is 'n soortgelyke speler. Hy speel linkervleuel en heelagter. Hy is beslis groot en sterk genoeg."
Volgens Skinstad is daar met Damian Willemse (vingerligamente), wat die toetse teen Ierland in Julie en dalk ook die Rugbykampioenskap gaan misloop, se besering 'n leemte om te vul.
Die ervare Willie le Roux, asook Kurt-Lee Arendse en Cheslin Kolbe, kan almal heelagter speel.
Maar as Rassie Erasmus, die Bok-breier, weer 'n 6/2- of selfs 'n 7/1-plaasvervangerbank wil kies, sal veelsydige agterspelers soos Willemse nodig wees.
"Ongelukkig vir hom (Fassi) het 'n besering ('n paar jaar gelede) op die verkeerde tyd gekom," het Skinstad gesê.
"Ek het geweet hy het baie die bal gedra, maar die feit dat hy ook die meeste skoon breekslae gemaak het, is selfs meer indrukwekkend."

Fassi, wat in 2021 as 23-jarige sy Bok-buiging gemaak het, het drie toetse - teen Georgië, Argentinië en Wallis - gespeel. Laasgenoemde was in 2022 teen die Rooi Drake in Bloemfontein.
Die boorling van Qonce (King William's Town) se lakwerk is voorheen deur kritici as 'n swakheid uitgewys, maar Skinstad glo nie dis só 'n groot probleem nie.
"Het hy op die verdediging soveel foute gemaak? Ek dink nie hy is verskriklik swak in daardie afdeling nie.
"Verdediging gaan dikwels ook oor of spelers mekaar ken en saam met wie jy speel. 'n Binne- en buitesenter wat mekaar ken, is moeiliker om te klop as 'n binne- en buitesenter wat mekaar nie ken nie.
"Ons kan beslis Fassi se naam insluit as 'n speler wat deel van die Bok-groep kan wees.
"Ek is mal oor sy teenaanvalle en hope vaart."
Volgens Skinstad, wat 42 toetse gespeel het, het Fassi sy hand opgesteek en is hy bly die Bok speel weer van sy beste rugby.
Ander plaaslike spelers wat Skinstad ook beïndruk het, is die Stormers se Evan Roos en Warrick Gelant.





















