VRK

Haaie eindelik op koers

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Siya Masuku was in die kol vir die Haaie.Foto: Gallo Images
Siya Masuku was in die kol vir die Haaie.Foto: Gallo Images

Die Haai-herlewing duur voort, maar dit het 'n geswoeg en gesweet afgegee in 'n bedompige Haaitenk om vir Edinburgh met 23-13 te verslaan in die Verenigde Rugbykampioenskap.

John Plumtree, afrigter, se span het nou twee agtereenvolgende seges in die VRK behaal, nadat hulle hul vorige vyf wedstryde op 'n ry verloor het. Die Durbaniete sal dié belowende momentum wil deurdra na hul aller belangrike kragmeting met Zebre Parma in die uitklopronde van die Europese Uitdaagbeker eerskomende Sondag.

Selfs sonder Vincent Koch, wat met 'n maagvirus moes onttrek, het Ox Nche en kie steeds Edinburgh se ervare Skotland-voorry opgedreun in die skrums, en in die eerste helfte reeds nie minder nie as drie skrumstrafskoppe afgedwing.

Eben Etzebeth rank hoog teen Edinburgh in die Haaitenk.  Foto: Gallo Images
Eben Etzebeth rank hoog teen Edinburgh in die Haaitenk. Foto: Gallo Images

Die Haaie het ook gebiedsvoordeel oorheers, maar kon om een of ander rede dit nie laat geld nie.

Dit was totdat Aphelele Fassi, wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, van 60 m 'n halfdosyn verdedigers met fenomenale vaart en voetwerk uitoorlê het om die eerste drie te druk halfpad deur die eerste helfte.

Die Haaie het inderdaad 'n paar oomblikke van sublieme spel opgedis, maar die finale afronding het steeds ontbreek, terwyl die Springbok-haker Bongi Mbonambi, en later Dan Jooste weer minstens vier lynstaaningooie opgemors het.

Die enkele keer wat Edinburgh daarin kon slaag om uit hul halfgebied te kom, het hulle 'n strafskop vlak voor die pale ontvang vir Ben Healy om die Haaie se rustydvoorsprong na 3-7 te laat krimp.

Die Haaie sou beslis nie tevrede gevoel het met so 'n karige beloning vir al die gebiedsvoordeel - bykans 70% - wat hulle gehad en die ondernemingsgees wat hulle aan die dag gelê het regdeur die helfte nie.

Boonop het hulle ook vir Eben Etzebeth teen rustyd verloor met 'n ribbesering.

Ná nogmaals volgehoue druk, het die Haaie die voordeellyn effektief genoeg aangeval, deur Siya Masuku en Francois Venter, vir Lukhanyo Am om nege minute ná die breuk in die hoekie oor te leun vir die tweede drie.

Masuku het misluk met die doelskop, maar met twee strafdoele in die laaste kwart geslaag om 'n effense buffer te bewerkstellig.

Toe Edinburgh se Charlie Shiel boonop 'n geel kaart in die laaste vyf minute ontvang het, was die koeël deur die kerk en met drie minute speeltyd oor, het die hardwerkende Phepsi Buthelezi onkeerbaar oorgebars in die duskantste hoekie vir die finale spyker in die Skotte se kis.

PUNTEMAKERS:

Haaie 23

Drieë: Aphelele Fassi, Lukhanyo Am, Phepsi Buthelezi

Doelskoppe: Siya Masuku (1)

Strafdoele: Siya Masuku (2)

Edinburgh 13

Drieë: Boan Venter

Doelskoppe: Ben Healy (1)

Strafdoele: Ben Healy (2)

Albert Heenop

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM