VRK

Haaie speel Springbok-rugby!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Haaie-flank Vincent Tshituka druk een van sy span se drieë gister teen Munster in Durban.Foto: gallo
Die Haaie-flank Vincent Tshituka druk een van sy span se drieë gister teen Munster in Durban.Foto: gallo

Dis mos Bok-rugby!

Die Haaie, met bykans 20 Springbokke in hul geledere, het 'n reuseslag in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) geslaan deur die Ierse reus Munster oortuigend met 41-24 te klop voor byna 20 000 toeskouers in Durban.

Dié spogsege was geskoei op die beproefde Bok-resep van vernietigende skrumwerk en uitmuntende agterspel.

"Twee agtereenvolgende oorwinnings op tuisbodem is heerlik, en boonop voor so 'n groot skare. Dit was 'n bonus," sê die Haaie-breier, John Plumtree.

"Ons het regtig puik spel opgedis, met die pak wat voor oorheers en die grondslag gelê het. Ek is veral ingenome met ons intensiteit. Dit is die tipe standaard wat ons vir onsself stel.

"David Williams (hulpafrigter) kan heel tevrede voel met ons aanvallende spel.

"Op volsterkte is ons 'n uiters goeie span, maar die realiteit is dat ons nie ten alle tye ons beste spelers beskikbaar het nie. Dit bly 'n tamaaie uitdaging."

Groot André Esterhuizen het kort voor rustyd reeds onkeerbaar oorgebars vir die bonuspuntdrie, vir die tuisspan om 'n gerieflike voorsprong van 31-10 te hê met die omdraaislag.

• VRK-GIDS | Bepalings, puntelys en uitslae

Dit was juis vanaf die soliede platform van nóg 'n moordende skrum, waar Ox Nche oudergewoonte sy opponent aan die loskopkant, Stephen Archer, lelik opdraande gegee en ook 'n paar skrumstrafskoppe afgedwing het.

Agterlangs het Aphelele Fassi voortgebou op sy puik spelpeil vir die Bokke om telkens Munster se verdediging te beproef met sy dodelike teenaanvalle. Hy het ook binne die eerste minuut gaan druk ná 'n vlymskerp breekslag deur Grant Williams.

Williams was deurentyd venynig op die afbreekpunte, terwyl sy diens ook uit die boonste rakke was, en is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys.

Die Bok-kaptein en een van die voorste flanke in wêreldrugby, Siya Kolisi, het gister in die ongewone posisie van agtsteman uitgedraf en 'n barshou gespeel. Die 33-jarige strydros was die veld vol en het veral uitgestaan wat sy ondersteunende spel betref.

James Venter, wat in Kolisi se plek die nr. 6-trui gedra het, het op die verdediging uitgeblink met 'n dosyn duikslae, terwyl sy kollega aan die ander kant van die skrum, Vincent Tshituka, ewe dinamies was in die los.

Munster, VRK-kampioen in 2022-'23, het getrou aan sy reputasie geweier om tou op te gooi, en teruggeveg om 'n bonuspuntdrie in die doodsnikke te druk.

Dié klinkende sege was net die regte doepa vir die Haaie op die vooraand van die maand lange onderbreking van die VRK vir die November-toetsvenster in Europa.

Albert Heenop

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM