VRK

Jake: ‘Leinster soos Bokke’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Luke McGrath bots met sy kop teen dié van die Bulls se Kurt-Lee Arendse. Foto’s: Seb Daly/ Gallo Images
Luke McGrath bots met sy kop teen dié van die Bulls se Kurt-Lee Arendse. Foto’s: Seb Daly/ Gallo Images

Jake White, afrigter van die Bulle, meen die voormalige Springbok-afrigter Jacques Nienaber se invloed is duidelik te sien in 'n Leinster-span wie se "plaasvervangersbank herinner aan die Bok-bank by die Wêreldbeker".

Leinster het Vrydagaand amok gemaak in Dublin toe hulle die Bulle met 47-14 oorrompel het in hul Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting.

Dit nadat White se span in die eerste helfte met 14-12 voorgeloop het.

Die besoekers het in die tweede skof geen antwoord gehad toe die Iere na die hoogste versnelling oorgeskakel het nie.

Leinster, wat voor die wedstryd net vier ligapunte voor die Bulle op die VRK-puntelys was, het sy voorsprong aansienlik vergroot met dié indrukwekkende bonuspuntsege, wat nie minder nie as sewe drieë - teenoor die Bulle se enkele een - ingesluit het.

"Ons praat hier van waarskynlik die beste klubspan in die kompetisie, en die beste klubspan vir 'n aantal jare," het White gesê.

"Leinster wen geruime tyd reeds 95% van hul wedstryde. Hulle het nou wel nie toernooie gewen nie, maar daar is nie veel spanne wat kan sê dat hulle Leinster in die laaste paar jaar geklop het nie.

"Dié uitslag wys vir my dat ons nog tyd nodig het.

"Om met 14-12 voor te loop teen rustyd, en só klei te trap in die tweede helfte, maak nie lekker sin nie.

"Leinster het egter die spel na 'n totaal nuwe vlak geneem ná die omdraaislag.

"Ons moet daaruit leer, veral wat betref hoe ons as 'n klub die soort hoogtes kan bereik om weekin en weekuit met dié klas spanne te kan meeding.

McGrath kry 'n geel kaart vir die duikslag.
McGrath kry 'n geel kaart vir die duikslag.

"Wat my beïndruk het van Leinster, was hul vermoë om instinktief oor te skakel van verdediging na aanval. Hulle was fenomenaal in daardie opsig.

"Elke keer wanneer ons 'n fout begaan het, het hulle ons gestraf.

"Ons het by 'n paar geleenthede die lyn gebreek, maar kon eenvoudig nie daarop kapitaliseer om drieë te druk nie. Hulle, daarenteen, het elke kans met al twee hande aangegryp.

"In die begin was ons skrumwerk uitstekend, ons lynstane was taamlik akkuraat en ons het kanse gehad. Alles is nie verlore nie.

"Die Ierse klubs stel nietemin die standaard waarna ons as Suid-Afrikaanse spanne moet streef.

Wat Jacques ongetwyfeld na die tafel toe bring, is om waarde toe te voeg tot 'n reeds gevestigde wenresep.

"Ons moet leer. Dis lesse wat ons ter harte moet neem.

"En tyd is die een ding wat ons nodig het."

Leinster se indrukwekkende tweede helfte was in 'n groot mate toe te skryf aan vyf veranderinge wat hulle aan die pak voorspelers aangebring het, en wat duidelik die voormalige Bok-breier Nienaber se invloed gewys het.

"Wat Jacques ongetwyfeld na die tafel toe bring, is om waarde toe te voeg tot 'n reeds gevestigde wenresep," meen White.

"Dit was 'n baie slim skuif van Leo Cullen om iemand in te bring wat weet wat dit geverg het vir die Bokke om suksesvol te wees.

"Een aspek wat beslis vir hulle suksesvol is, is om so 'n sterbelaaide bank op te bring in die tweede helfte. Dit is wat Leinster aan ons gedoen het, veral wanneer 'n mens in ag neem hoe jonk en onervare ons bank is.

"As ek so na hul reserwebank kyk, herinner dit my aan die Bok-bank in die Wêreldbeker; 'n bank gelaai met toetsspelers. Nie sommer enige toetsspeler nie, maar ouens wat onlangs die Sesnasies gewen het en Suid-Afrika kon klop in die WB.

"Sommige van hul spelers het meer toetse agter die blad as die hoeveelheid VRK-wedstryde wat ons outjies gespeel het.

"En, Suid-Afrika kan nie bekostig om Bok-brekers soos RG Snyman, Jason Jenkins en Han­dré Pollard te hê wat teen ons plaaslike spanne speel nie."

  • Punte: Leinster 47 (12) Drieë: Josh van der Flier, Rónan Kelleher, James Lowe, Michael Milne, Dan Sheehan, Jack Conan, Liam Turner; Doelskoppe: Harry Byrne (3), Ross Byrne (3).
  • Bulle 14 (14) Drie: Kurt-Lee Arendse; Strafdoele: Johan Goosen (3).
Albert Heenop

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM