VRK

Lasarus-Haaie!

Vincent Tshituka druk sy drie teen die Dragons. Foto: getty
Vincent Tshituka druk sy drie teen die Dragons. Foto: getty

As hul eerste twee wedstryde van die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen enigsins 'n aanduiding is, gaan die Haaie se wedstryde vanjaar allesbehalwe vervelig of voorspelbaar wees.

Verlede week het hulle 'n voorsprong van 27-7 teen Connacht weggesmyt om met 30-36 te verloor. Gister het hulle nou weer die omgekeerde vermag: 'n Agterstand van 5-22 uitgewis om met 'n drie in die doodsnikke met 33-30 te wen in hul kragmeting met die Dragons van Wallis in Newport.

John Plumtree het vandeesweek benadruk hoe belangrik dit is vir die Haaie om sterk te eindig. En hóé het sy troepe nie toe gehoor aan dié pleidooi gegee nie.

Dit was eers in die 85ste minuut en ná bykans 20 meedoënlose fases dat Fez Mbatha die knoop kon deurhak vir die Haaie.

Die Dragons, met die Walliese breier Warren Gatland wat die aksie gade geslaan het, was beter daaraan toe wat sowel gebiedsvoordeel as balbesit betref in die eerste kwart. Toe die Haaie-flank James Venter boonop 'n geel kaart vir kopkontak kry in die 11de minuut, het volgehoue druk gelei tot die eerste drie deur die Dragons se flank Taine Basham halfpad deur die helfte.

Vyf minute later het die Haaie ná 13 fases 'n strafskop voor die opposisie se pale afgedwing, verkies om 'n tikskoppie te neem en die kaptein, Vincent Tshituka, het oorgegaan vir sy span se eerste drie.

Die Haaie se jong loskop, Ntuthuko Mchunu, het sy regstreekse teenstander, Chris Coleman, kwaai opdraande gegee in die skrums en 'n tweede skrumstrafskop het aan die Haaie 'n gunstige lynstaan binne die Dragons se kwartgebied gebied. Die lynstaangooi was egter skeef en 'n paar minute later het die Dragons se skrumskakel, Rhodri Williams, hul derde drie gedruk.

Ntuthuko Mchunu op loop.
Ntuthuko Mchunu op loop.

Die Haaie het in die 40ste minuut egter teruggeslaan met hul tweede drie, deur Jaden Hendrikse, ná 'n vlymskerp breekslag deur die jong buitesenter, Jurenzo Julius, vir 'n rustyd-agterstand van 12-22.

Julius is self beloon met 'n drie vyf minute ná die omdraaislag.

Die Haaie se oorheersing in die skrums het voortgeduur en 'n paar minute later gelei tot hul bonuspuntdrie deur die linkervleuel, Ethan Hooker, wat hulle eerste geplaas het op die telbord.

Die voorsprong was van korte duur toe Jason Jenkins ook geel gesien het, vir 'n doelbewuste aanslaan, en die Dragons se slot en kaptein, Ben Carter, oorgedryf het. Ná 60 minute was die Walliesers met 30-26 voor, maar die Haaie het bly veg.

Plumtree sou in sy noppies wees met die Haaie se geduld in die doodsnikke teen die verbete verdediging van die Dragons, wat vir die laaste 15 minute telkens daarin geslaag het om 'n drie te verhoed. Totdat Mbatha die Haaie se VRK-veldtog aan die gang gedryf het.

  • Punte: Dragons 30 (22): Drieë: Taine Basham, Chris Coleman, Rhodri Williams, Ben Carter. Doelskoppe: Lloyd Evans (2). Strafdoele: Evans, Will Reed. Haaie 33 (12): Drieë: Vincent Tshituka, Jaden Hendrikse, Jurenzo Julius, Ethan Hooker, Fez Mbatha. Doelskoppe: Siya Masuku (4).
Albert Heenop

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM