Die Leeus is ná drie wedstryde steeds onoorwonne
in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) nadat hulle die Dragons Sondagmiddag op Rodney Parade in Newport, Wallis, met 23-19 geklop het.

Dit was nie die Johannesburgers se beste vertoning nie, maar 'n oorwinning weg van die huis af is altyd 'n bonus.
Die rustydtelling was 13-12 in die guns van die besoekers.
Die Dragons het drie drieë gedruk teenoor die twee van die Leeus.
Dié oorwinning volg op die Leeus se skitterende tuisseges oor die sterk spanne van Ulster (Noord-Ierland) en Edinburgh (Skotland).
Die Dragons, wat in die tweede helfte die meeste gebiedsvoordeel geniet het, het die Leeus se verdediging 'n paar keer getoets en self ook goed verdedig.
• VRK-GIDS | Bepalings, puntelys en uitslae
Die manne van die Goudstad was nie naastenby so gevaarlik op die aanval as 'n week vroeër toe hulle in die eerste helfte teen Edinburgh sewe drieë ingeryg het nie.
Die Leeus moes Sondag teen die einde vasbyt om hul eerste van drie wedstryde op toer met 'n sege af te skop.
Beide spanne het te veel hanteerfoute gemaak om dit 'n rugbyskouspel te maak. Die Leeus het egter goed verdedig en was met 97% van hul duikslae suksesvol.
Die tuisspan sal homself skop omdat hy nege strafskoppe teen die vyf van die Leeus afgestaan het. Dít het die besoekers in staat gestel om die telbord aan die rol te hou.
Die Leeus het boonop agt keer omgekeerde balbesit bewerkstellig teenoor die ses van die Newport-span.

Die Leeus het in die 11de minuut die voortou geneem danksy 'n drie deur die Springbok-heelagter Quan Horn.
Nico Steyn, wat dié keer losskakel gespeel het, het verdoel.
In die 15de minuut het die Dragons teruggeslaan met 'n onderskepdrie deur die flank Harri Keddie teen die verloop van die spel in. Keddie het uit sy eie halfgebied deurgenael.
Lloyd Evans, losskakel, het verdoel om die telling 7-7 te maak.
Franco Marais is in die 23ste minuut 'n geel kaart gewys nadat hy 'n bal uit 'n losskrum geskop het. Kort hierna het die Walliese toetsflank Taine Basham gaan druk. Evans het die doelskop verby die regter-regoppaal gestuur (12-7).
Basham, wat baie goed gespeel het, het vyf minute later 'n strafskop afgestaan deur Francke Horn, agtsteman en kaptein van die Leeus, laag te vat sonder dat dié die bal gehad het.
Steyn het die bal deur die mikke gejaag (12-10).
In beseringstyd van die eerste helfte het Steyn met 'n strafdoel geslaag en die Leeus was weer voor (13-12).
In die eerste helfte het die Dragons die bal in die los vinniger gewen as die Leeus, maar meer strafskoppe afgestaan.
• RUGBYKAMPIOENSKAP-GIDS | Klik hier vir al die bepalings, puntelys en uitslae
Kort ná rustyd het Bashet sy tweede drie langs die linkerregoppaal gedruk ná 'n strafskop in die Leeus se kwartgebied (19-13) kantlyn toe geskop het. Die Leeus is gestraf omdat hulle die bal nie uit die losskrum laat kom het nie.
Hierna het Sanele Nohamba vir Steyn op losskakel vervang. In die 50ste minuut het Nohamba met 'n strafdoelpoging van 38 m geslaag om die Walliese span se voorsprong tot 19-16 te laat krimp.
Hierna het die flank Jarod Cairns gaan druk nadat hy twee keer in dieselfde beweging die bal hanteer het. Nohamba het verdoel (23-19).
Cairns, wat di seisoen van krag tot krag gaan, is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys.
In die 63ste minuut het Will Reed, plaasvervanger-losskakel, met 'n nie te moeilike strafdoel vir die Dragons misluk. Die bal het die linkerregoppaal getref en weggesspat.
As dié skop oor was, sou die tuisspan met net een punt agter gewees het.
Die Leeus se volgende wedstryd is Saterdag teen die Italiaanse span Zebre op dié se tuisveld in Parma.
• Puntemakers: Leeus 23 (13): Drieë: Quan Horn, Jarod Cairns. Doelskoppe: Nico Steyn, Sanele Nohamba. Strafdoele: Steyn (2), Nohamba.
Dragons 19 (12): Drieë: Harri Keddie, Taine Basham (2). Doelskop: Lloyd Evans (2).



















