VRK

Leeus brul uiteindelik weer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Leeus se vleuel Edwill van der Merwe rond sy drie af teen Connacht op Ellispark. Foto: Gallo Images
Die Leeus se vleuel Edwill van der Merwe rond sy drie af teen Connacht op Ellispark. Foto: Gallo Images

Ná vyf opeenvolgende nederlae is die Leeus weer op die wenpad.

Die Johannesburgers het die Ierse span Connacht Saterdagmiddag op Ellispark in die twee spanne se kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) met 26-7 geklop.

Die Leeus, wat deur die veteraan-haker Jaco Visagie in die plek van die beseerde agtsteman Francke Horn aangevoer is, het rustyd met 11-0 voorgeloop.

Hoewel die Leeus gewen het, is sy kans om die kwarteindronde van dié kompetisie te haal steeds skraal.

Dit was dalk nie 'n baie goeie wedstryd nie, maar die Leeus kan weer hul kop omhoog hou ná 'n moeilike paar weke.

Connacht het glad nie gelyk soos die span wat die Stormers verlede naweek in Kaapstad byna geklop het nie.

Die besoekers het veral in die eerste helfte tam gelyk, maar in die tweede helfte beter gespeel toe hulle hul plaasvervangers opgestuur het.

Verskeie van Connacht se spelers moes mediese behandeling ontvang.

Die Leeus se lyftaal was stukke beter as met die vorige paar wedstryde en daar was meer vuur.

Dit was veral die jong flank Renzo du Plessis, verlede seisoen se Curriebekerspeler van die Seisoen, die jong senter Bronson Mills wat in sy eerste internasionale wedstryd gespeel het, en ook Morgan Naudé, baie beweeglike loskopstut, wat daartoe bygedra het.

Die senter Henco van Wyk, wat ná 'n besering sy terugkeer gemaak het, het ook 'n groot verskil gemaak.

Du Plessis, welverdiend die Speler van die Wedstryd, het telkens goed met die bal gedryf en sy span so oor die voordeellyn gehelp. Hy is egter in die tweede helfte met 'n geel kaart gestraf.

Die Springbokvleuel Edwill van der Merwe, wat die Leeus binnekort vir die Haaie verruil, was weer pure Bok en het een van sy span se drieë gedruk.

'n Ander "drie" van hom is deur die TV-skeidsregter van die hand gewys.

Van der Merwe se vleuelmaat, Richard Kriel, was ook uitstekend terwyl die voormalige Blitsbok JC Pretorius soos altyd sy hart uitgespeel het.

Du Plessis het die Leeus in 14de minuut die voortou laat neem toe hy 'n mooi beweging van die Johannesburgers afgrond het.

Hoewel die Leeus gewen het, sal die afrigtingspan bekommerd wees daaroor dat die Leeus te veel keer in die besoekers se kwartgebied gekom het sonder om punte aan te teken.

Met hul veggees was niks fout nie.

Die Leeus sal wel asem ophou oor sy buksie-Springbokskrumskakel Morné van den Berg, wat lyk of hy 'n voetbesering opgedoen het.

Puntemakers:

Leeus 26 (11): Drieë: Renzo du Plessis, Edwill van der Merwe, JC Pretorius. Doelskop: Lubalalo Dobela. Strafdoele: Kade Wolhuter (3).

Connacht 7 (0): Drie: Eoin de Buitleas. Doelskop: David Hawkshaw.

VRK-GIDS:

• Bepalings

• Puntelys

• Uitslae

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM