VRK

Leeus léér om te wen

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pj Botha van die Leeus en Luca Andreani van Zebre Parma is slaags in gister se stryd wat die Leeus net-net gewen het.Foto: Gallo Images
Pj Botha van die Leeus en Luca Andreani van Zebre Parma is slaags in gister se stryd wat die Leeus net-net gewen het.Foto: Gallo Images

Sy span het die laaste twee naweke waardevolle lesse geleer en dit het baie sweet gekos, maar die Leeus het steeds 'n manier gevind om te wen.

Só het Ivan van Rooyen, die Leeus-hoofafrigter, gesê nadat sy span gister in die Verenigde Rugbykampioenskap teen Zebre deurgeskraap het.

Die Leeus is ná vier wedstryde steeds onoorwonne nadat hulle in Parma naelskraap met 10-9 in nat toestande baas was.

"Zebre het slim gespeel deur die bal telkens terug te skop en goed veld te wen," het Van Rooyen gesê.

"Ons moet elke keer 'n ander manier vind om die oorwinning te beklink.

"Sowel Zebre as die Dragons was moeilik om op hul tuisvelde te troef en dit het elke keer 'n taamlike armdruk afgegee.

"Die toer was tot dusver 'n groot karaktertoets en dis belangrik vir die groep om aan te hou groei."

Die Leeus moes die laaste vyf minute vir 'n vale verdedig om as wenners van die veld te stap.

• VRK-GIDS | Bepalings, puntelys en uitslae

Hul poging is amper ongedaan gemaak toe Francke Horn, die Leeus-kaptein, in beseringstyd vir 'n hoogvat gestraf is.

Gelukkig vir die besoekers kon die tuisspan nie dié geleentheid gebruik om die wenpunte aan te teken nie.

"Die toestande was nie goed nie en dit was 'n stryd. Ons het vasgebyt en 'n wonderlike sege behaal.

"Die bal was baie glad en ons moes daardie laaste paar minute woes verdedig," het Horn, wat die Speler van die Wedstryd was, gesê.

Dit was die Leeus se tweede oorwinning op 'n toer van drie wedstryde.

Hulle kon in die eendeweer teen Zebre nie hul gebruiklike hardlooprugby speel nie.

Die Leeus het te veel strafskoppe (sewe) afgestaan en hanteerfoute gemaak, omdat die bal glad was. Boonop was hul skopspel nie goed nie.

Hul laagvat-sukseskoers was slegs 65% en hulle het 14 duikslae verbrou.

Dit was ook duidelik hulle het hul kolos-vaskopstut Asenathi Ntlabakanye gemis. Hy kon weens harsingskudding nie speel nie.

Met sowat tien minute se spel oor, kon die Zebre-losskakel, Giovanni Montemauri, sy span laat voorloop met 'n strafdoel, maar dié skop was mis.

Die Leeus sal egter aansienlik beter moet speel wanneer hulle volgende naweek vir Leinster pak.

"Dis 'n massiewe vooruitsig vir ons om volgende Saterdag vir Leinster op die Aviva-stadion aan te durf. Ons verkeer onder geen illusies oor die taak wat op ons wag nie," het Van Rooyen gesê.

"Leinster het 'n swetterjoel spelers van Ierland, wat tans die nr. 1-span op Wêreldrugby se ranglys is.

"Die kragmeting bied 'n heel nuwe uitdaging en gaan teen 'n totaal verskillende tempo gespeel word."

  • Leeus: 10 Drie: Edwill van der Merwe. Doelskop: Sanele Nohamba. Strafdoel: Nohamba.
  • Zebre: 9 Strafdoel: Giovanni Montemauri (2).
Albert Heenop en Sarel van der Walt

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM