VRK

‘Manie en Sacha het ons gered’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sacha Feinberg-Mngomezulu duik oor vir ’n drie teen die Dragons.Foto: Gallo
Sacha Feinberg-Mngomezulu duik oor vir ’n drie teen die Dragons.Foto: Gallo

Vir John Dobson en sy afrigtingspan het dit gelyk soos die Titanic wat voor hul oë besig is om te sink, maar die Stormers se reddingspoging was skouspelagtig.

Die Kapenaars het hul Verenigde Rugbykampioenskap-veldtog Vrydagaand in Newport, Wallis, aansienlik versterk met wat in 'n stadium gelyk het na 'n onwaarskynlike bonuspunt-oorwinning van 44-21 oor die Dragons.

"Dit was beslis nie 'n gerieflike oorwinning nie en die eindtelling vlei ons," erken Dobson.

Die Walliesers het aanvanklik die septer geswaai om binne die eerste halfuur 'n voorsprong van 11-0 op te bou met 'n drie en twee strafdoele, maar die Stormers, VRK-kampioene in 2022 en naaswenners verlede jaar, se gehalte het deurslaggewend gewys in die laaste kwart, veral nadat die Dragons-voorryman, Rodrigo Martinez, 'n geel kaart ontvang het.

"Die Dragons was manjifiek in die eerste helfte," sê Dobson.

"Hoewel ons uiters swak vertoon het, en ek die span moes gas gee met die omdraaislag, was dit nietemin moeilik om 'n vinger te plaas op presies waar ons tekort geskiet het. Ek het selfs gevoel dat ons orraait verdedig het.

"Al wat ek wél besef het, was dat ons besig was om te verloor. Ons is goed genoeg om ons stempel te kan afdruk teen 'n span soos die Dragons, maar ons het nie.

"Ons het beslis onnodige strafskoppe afgestaan. 'n Paar van daardie beslissings was boonop taamlik twyfelagtig.

"Ons het ook nie veel van die bal gesien nie. Hulle het ons onder enorme druk geplaas in die skrums, ons het 'n paar van ons eie lynstaanballe afgestaan en die afskoppe was 'n gemors.

"Daar was grootliks 'n gebrek aan intensiteit. Die spelers se liggaamstaal het dit weerspieël.

Die plaasvervangers het inderdaad 'n massiewe verskil gemaak.

"Ons was waarskynlik ook aanvanklik te konserwatief in ons benadering. Ons moes vroeër reeds die sneller getrek en die verdediging begin uitdaag het."

Twee drieë elk deur die vleuel Angelo Davids en Sacha Feinberg-Mngomezulu, wat as 'n plaasvervanger opgekom het met skaars vyf minute speeltyd oor; 19 punte van die skopkegel af deur die Bok-losskakel Manie Libbok; en 'n dryfmaaldrie deur die agtsteman, Evan Roos, het die uiteindelike wegholsege vir die Stormers beklink.

"Ons karakter het na vore gekom en ons het daarin geslaag om 'n greep op die kragmeting te kry. Ons het in die verlede dikwels sulke wedstryde oorsee verloor," sê Dobson.

"Daardie skoppe van Manie (Libbok), in 'n wedstryd wat ons besig was om te verloor, was van deurslaggewende belang. Veral die doelskop waarmee ons vir die Dragons die taak gestel het om twee keer te moes punte aanteken. Dit het ons in staat gestel om die krane oop te draai in die laaste paar minute vir die bonuspuntdrie.

"Manie het 'n foutlose vertoning gelewer.

"Die plaasvervangers het inderdaad 'n massiewe verskil gemaak. Sacha (Feinberg-Mngomezulu) was eenvoudig skitterend; hy is 'n spesiale speler."

Met dié waardevolle weg-oorwinning het die Stormers hul vyfde posisie op die VRK-ranglys verstewig, maar Dobson het die belangrikheid benadruk om ten minste in die topsewe te eindig, ten einde vir die volgende Kampioenebeker-reeks te kwalifiseer, indien die Haaie later vandeesmaand as die nuwe Uitdaagbeker-kampioene gekroon sou word.

"Ek het geen twyfel dat die Haaie vir Gloucester sal klop in die Uitdaagbeker-eindstryd, en sodoende ook outomaties sal kwalifiseer vir die Kampioenebeker nie," meen Dobson.

"Ons sal egter aanhou veg. Ons het onsself nou goed geposisioneer.

"Daar is geen span in die kompetisie vir wie ons werklik skrik nie. Ons is in die wedloop en vol vertroue.

"As ander uitslae in ons guns tel, kan ons selfs nog in die boonste vier eindig.

"Die fokus op die oomblik is om weg van die huis te wen, om te seëvier op die grondpad, en in daardie opsig was die uitslag teen die Dragons van kardinale belang.

"Ons sal nietemin 100% beter moet speel eerskomende Saterdag teen Connacht in Galway," sê Dobson.

  • Dragons 21 (11) Drieë: Harri Keddie, Aaron Wainwright. Doelskoppe: Angus O'Brien (1). Strafdoele: Will Reed (3).
  • Stormers 44 (10) Drieë: Angelo Davids (2), Sacha Feinberg-Mngomezulu (2), Evan Roos. Doelskoppe: Manie Libbok (5). Strafdoele: Manie Libbok (3).
Albert Heenop

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM