VRK

Mathie herenig met sy mentor

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Scott Mathie in sy dae as Griekwa-breier.Foto: gallo
Scott Mathie in sy dae as Griekwa-breier.Foto: gallo

Die afgelope week was een van gemengde gevoelens vir Scott Mathie.

"Dit is nogal snaaks en 'n nuwe ervaring. Maar wanneer jy terugkom na jou land, voel jy dadelik tuis," sê Mathie, 'n voormalige afrigter van Griekwas, aan Rapport.

Die 41-jarige breier het hom kort voor die begin van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) by sy rugbymentor, Sean Everitt, en sy Edinburgh-bestuurspan aangesluit om die volgende tree in sy loopbaan te gee. Edinburgh het die Bulle gister in Pretoria gepak, en dit was die eerste keer dat Mathie 'n oorsese span teen sy landgenote afgerig het. Hy dien nou as Edinburgh se aanvals-en-agterlynafrigter.

Buiten Everitt, hoofafrigter, draf daar ook heelwat Suid-Afrikaners vir die span uit. Onder hulle tel Pierre Schoeman, Boan Venter, Wes Goosen en Duhan van der Merwe.

Mathie is deur Everitt nadergetrek ná groot sukses as hoofafrigter van die New England Free Jacks in Major League Rugby (MLR). Mathie-hulle het die laaste twee jaar die MLR-titel in Amerika gewen, terwyl hy ook in 2024 en 2022 as die liga se Afrigter van die Jaar aangewys is.

Ná sy VSA-sukses glo die voormalige Griekwas-hoofafrigter die Edinburgh-geleentheid is 'n tree vorentoe. Om die volgende twee jaar saam met Everitt te werk, maak hom opgewonde.

"Ek en Sean ken mekaar lank en ons het oor die jare al baie rugby gepraat. Ek het baie respek vir hom, hoe hy dinge doen en 'n span bestuur."

Mathie was direkteur van rugby by sy alma mater, Durban High School (DHS) toe Everitt se twee seuns daar op skool was.

"Sean was lank by die Haaie en ook by College Rovers betrokke. Ek het hom toe al bietjie uitgehelp by byvoorbeeld die Haaie se akademie en o. 19's.

"Maar ons het nooit amptelik saam afgerig nie. Ons het wel spanne teen mekaar afgerig toe ek by Griekwas was."

Verder glo Mathie om met toetsspelers te werk, sal hom as breier laat groei.

"Dit was natuurlik 'n bietjie van 'n risiko om Amerika toe te gaan, maar ek het geweet ek moet skuif om nuwe dinge te ervaar.

In sy speeldae het Mathie skrumskakel vir die SA o. 19-span, Bulle, Haaie en Oostelike Provinsie gespeel, asook vir Leeds Carnegie en Sale Sharks oorsee.

Die boorling van Durban het in 2013 uitgetree en toe begin afrig, onder meer by DHS en Durban Collegians. In 2021 is hy vanaf die Poubloues na die Free Jacks.

"Dit was natuurlik 'n bietjie van 'n risiko om Amerika toe te gaan, maar ek het geweet ek moet skuif om nuwe dinge te ervaar en om met ander kulture en afrigters te werk."

Mathie is trots op die kultuur wat hy by die Free Jacks kon help skep. "Om 'n omgewing van niks af op te bou, gee jou baie genoegdoening. Om die titels te wen, was werklik spesiaal. Ons het gegroei tot 'n groep wat baie na aan mekaar is."

Vir hom gaan afrigting oor meer as net resultate en wedstryddae.

"Jy wil nie hê spelers moet uitsien na hul afdag nie. Hulle moet mal daaroor wees om werk toe te kom.

"As jy dít kan regkry, dan skep jy energie en motivering. Jy moet dinge vars hou. Dan is dit nie vir hulle net werk nie. Soms vergeet 'n mens dat jy die rugby steeds moet geniet."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM