Die Haaie het dalk die vierde keer vanjaar op sy tuisveld die knie gebuig teen Benetton, maar John Plumtree glo daar is nie veel tyd om oor dié nederlaag met 25-24 te tob nie.
Die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) is lankal 'n verlore saak wat hul aanspraak op die titel betref, maar die Europese Uitdaagbeker-reeks is 'n ander storie.
Die Haaie pak die komende naweek vir Cardiff in die VRK in Durban, maar die span se groot krygers sal nie vir dié kragmeting oorweeg word nie aangesien hulle op pad na Londen sal wees vir die Uitdaagbeker-eindstryd teen Gloucester in die Tottenham Hotspur-stadion.
"Cardiff wag nog eers volgende naweek, maar ons sal natuurlik 'n ander span kies vir daardie wedstryd omdat ons reeds gaan reis," het Plumtree ná Saterdag se nederlaag gesê.
Drie van die Haaie se Bokke het Plumtree die skrik op die lyf gejaag weens beserings. Plumtree hou egter duim vas dat Vincent Koch, Eben Etzebeth en Lukhanyo Am weer slaggereed sal wees vir die eindstryd.
"Lukhanyo het 'n litbesering, maar ek dink nie dis te ernstig nie. Eben is oukei, maar sy nek is net lam.
"Toe Vincent hinkepink op die veld was, het ek ietwat geskrik, maar hy het agterna oukei geloop. Dit was egter beter dat hy afgekom het. Hopelik sal die drie van hulle reg wees oor twee weke."
Vir die Haaie se breier was dit 'n dag waar byna niks volgens plan verloop het nie.
"Dis teleurstellend. Ek het gehoop om Eben en Vincent speelkans te gee tot en met rustyd sodat hulle 'n goeie 40 minute in hul bene kry met die oog op die eindstryd.
"Die frustrerende ding is dat ek natuurlik geen beserings sou wou hê nie, die wedstryd wen en ons plan in plek val, maar ja, toe gebeur omtrent presies die teenoorgestelde."

Op 'n vraag oor of die Haaie eenvoudig uit stoom geraak het, erken Plumtree dat die bal lang tydperke binne die speelveld was, maar glo hy dis eerder die hoeveelheid gebiedsvoordeel wat die Haaie vir Benetton gegun het wat die verskil was.
"Hulle het die meeste gebiedsvoordeel geniet en gevolglik meer geleenthede gehad om ons onder druk te plaas. Toe ons dit omgekeer het en hulle onder druk geplaas het, het ons 'n paar goeie drieë gedruk.
"Ek dink ook die veranderinge wat ek aangebring het, het ons momentum ontneem. Verskeie sleutelspelers het natuurlik afgekom, maar dit was alles deel van die plan.
"Ek was steeds tevrede met van die plaasvervangers se vertonings, soos die flank Tino (Mavesere). Ek het gedink hy het baie goed gedoen toe hy stelling ingeneem het. Die voorry het ook hul oomblikke gehad.
"Dis egter net belangrik dat ons nie nou die pad byster raak nie. Dis nou net om die ouens wat seergekry het weer fiks te kry," voeg hy by.
"Ons sal kyk na die oomblikke wat ons in die steek gelaat het en daaruit leer."

















