VRK

Nuwe VRK-datums vir SA derbies wat uitgestel is

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Stormers moet bontstaan om Elrigh Louw, Springbok-losvoorspeler van die Bulle, grond toe te bring in die spanne se vorige ontmoeting in die Verenigde Rugbykampioenskap.Foto: Gallo Images
Die Stormers moet bontstaan om Elrigh Louw, Springbok-losvoorspeler van die Bulle, grond toe te bring in die spanne se vorige ontmoeting in die Verenigde Rugbykampioenskap.Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse derbies wat in September in die eerste ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) sou plaasgevind het, het nuwe datums - 8 Februarie en 8 Maart 2025 - gekry.

Die Stormers was veronderstel om op 21 September in Kaapstad sy veldtog teen die Bulle te begin, terwyl die Haaie op dieselfde dag gasheer vir die Leeus in Durban sou speel.

Daar was groot ontevredenheid in die Stormers- en Haaie-kamp nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) besluit het om die wedstryde uit te stel om 'n botsing met die Curriebeker-eindstryd te vermy.

John Plumtree, hoofafrigter van die Haaie, het nie doekies omgedraai nie en het teen Suid-Afrikaanse rugby uitgevaar oor die besluit wat op kort kennisgewing geneem is.

Pleks daarvan om die kompetisie tuis te begin, het dit beteken die Stormers het hul aanslag die volgende naweek in Wallis teen die Ospreys begin en die Haaie in Ierland teen Connacht.

Die Stormers het met 24-37 verloor en die Haaie het 'n nederlaag van 30-36 gely.

Daar is nou nuwe datums vir die derbies, met die Stormers wat die Bulle op 8 Februarie in die DHL-stadion pak en die Haaie en die Leeus 'n maand later op Kingspark (8 Maart).

Marius Louw, senter van die Leeus, word deur die Bok-slot Eben Etzebeth, wat die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskap aanvoer, beetgekry. Foto: Gallo Images
Marius Louw, senter van die Leeus, word deur die Bok-slot Eben Etzebeth, wat die Haaie in die Verenigde Rugbykampioenskap aanvoer, beetgekry. Foto: Gallo Images

Albei wedstryde sal om 14:00 afskop.

Die twee plaaslike kusspanne het ná die swak begin gesukkel om uit die wegspringblokke te kom en tel ná hul eerste vyf wedstryde nie onder die voorste agt spanne in die kompetisie nie.

Die Haaie is met die drie seges in die negende plek op die puntelys, terwyl die Stormers nog net in twee wedstryde aan die wenkant was en lê 13de.

In die stadium gee die twee Gautengse spanne, wat elk nog net een kragmeting verloor het, die pas onder die SA spanne aan.

• VRK-GIDS | Bepalings, puntelys en uitslae

Die Bulle is derde op die puntelys met 19 ligapunte en die Leeus vierde (18).

Leinster het sover ses uit ses gewen en is 'n hele 10 ligapunte voor die Bulle in die eerste plek.

Wanneer die kompetisie op 30 November met die sewende ronde hervat, sal die Haaie opruk Kaap toe om die Stormers te pak, terwyl die Bulle en die Leeus moeilike afsprake in Ierland het.

Die Bulle tree in Galway teen Connacht aan en die Leeus durf Munster later die aand op Thomond Park in Limerick aan.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM