As 'n rugbyspan teen rustyd reeds met 48-0 voorloop, sal jy verskoon word as jy dink die teenstanders is Pofadder se dorpspan.
Gewis nie Edinburgh, wat wemel van die Skotse toetsspelers nie. Maar sowaar - die Leeus het hul kragmeting met die besoekers uit Skotland gister in Johannesburg teen rustyd reeds beklink. En hoe.
"Dit was waarskynlik een van die beste helftes wat ons nóg gespeel het," het die Leeus se senter Rynhardt Jonker gister gesê nadat sy span dié wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap met 55-21 gewen het.
Dat hulle slegs sewe punte in die tweede helfte kon aanteken, en 21 afgestaan het, het die vreugdevure in Doornfontein so effens gedemp.
"Almal weet rugby is 'n 80-minute-spel en ons het effens laat slaplê ná die omdraaislag," sê Jonker.
"Dit is iets waaraan ons sal moet aandag gee voordat ons op toer gaan. Dit is 'n uiters mededingende kompetisie en 'n mens moet vir die volle 80 minute speel."
Die Leeus het verlede week ook 'n oortuigende sege oor die Ierse span Ulster behaal, en is duidelik op die regte trajek. Veral as 'n mens in ag neem dat Edinburgh verlede week slegs met 16-22 teen die Bulle op Loftus verloor het.
Wat gister baie duidelik was, is dat die Leeus se drie Springbokke, Quan Horn (heelagter), Morné van den Berg (skrumskakel) en Edwill van der Merwe (vleuel), die lesse wat Rassie Erasmus en sy afrigtingspan hulle in die Springbok-kamp geleer het, ter harte geneem het en dit nou toepas.
Al drie speel met selfvertroue en visie en soek deurentyd werk.
Hul uitmuntende spel het hul spanmaats beïnvloed en dit het - veral in die eerste helfte - gelei tot waarskynlik die beste Leeus-vertoning sedert die gloriedae van 'n Faf de Klerk, Kwagga Smith, Franco Mostert, Malcolm Marx en ander.
Die harde werk van Ivan van Rooyen, hoofafrigter van die Leeus, en sy afrigtingspan van die laaste paar seisoene begin nou vrugte afwerp.
Van der Merwe het beïndruk toe hy vroeg skitterend deurgebreek het vir wat eindelik tot 'n drie vir Horn gelei het.
Van der Merwe het self twee drieë gedruk - een wat gevolg het op 'n puik skoppie deur Van den Berg.
Die ander vleuel, Rabz Maxwane, het self weer gewys hoe giftig hy is, met 'n driekuns aan drieë.
Die flank JC Pretorius was self kookwater, en is as Speler van die Wedstryd aangewys. Hy is duidelik die Leeus se nuwe Kwagga Smith.
Die Leeus se stewige stut Asenathi Ntlabakanye was ook ná die tyd heel in sy noppies oor die vertoning, veral voorlangs.
"Edinburgh beskik oor 'n uiters gedugte skrum, met bykans 'n volledige Skotse voorry," sê Ntlabakanye.
"Dit het 'n behoorlike armdruk afgegee, maar ons is geweldig trots op ons vertoning."
Die Leeus vertrek nou oorsee vir die wedstryde teen die Dragons in Wallis, Zebre in Italië en die immer gedugte Leinster in Ierland.
• Edinburgh se giftige vleuel Duhan van der Merwe moes hom voor die wedstryd weens 'n kuitbesering onttrek.
• Punte: Leeus 55 (48): Drieë: Quan Horn, Rabz Maxwane (3), Edwill van der Merwe (2), Rynhardt Jonker, Francke Horn. Doelskop: Kade Wolhuter (3), Morné van den Berg, Sanele Nohamba (2). Strafdoel: Wolhuter. Edinburgh 21 (0). Drieë: Grand Gilchrist, Paddy Harrison, Ben Muncaster. Doelskoppe: Ben Healy (3).




















