Jake White het sy spelers die afgelope week aan die "Slag van Treviso" herinner.
Sy Bulle-span is in Junie 2021 Italië toe as die oorweldigende gunsteling om Benetton in die eindstryd van die Reënboogbeker-kompetisie te klop.

Die loesing van 8-35 wat die Bulle gely het, was nie net 'n ontnugtering vir die besoekers nie, maar ook vir Suid-Afrikaanse rugby, wat pas 'n nuwe heenkome in die Noordelike Halfrond gevind het.
White sê dit was nodig om daardie dag te onthou in die aanloop tot Saterdag se afspraak met dié Italiaanse span in die kwarteindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) op Loftus Versfeld.
"Dit help 'n afrigter wanneer jy jou spelers so kan motiveer. Mense het gedink ons sou maklik wen en dit was uiteindelik 'n groot teleurstelling.
"Dit is eintlik nie nodig om die spelers te waarsku nie, want hulle weet hoe goed Benetton kan wees. Ons het dit meer onlangs ook ervaar toe hulle 35 punte aangeteken en vyf drieë teen ons gedruk het op Loftus. Ons gaan hulle beslis nie onderskat nie."
Die Bulle pak Benetton boonop sonder twee Springbokke, die vleuel Canan Moodie en baljagter-flank Marco van Staden.
Moodie het verlede week in Durban 'n wysvinger teen die Haaie gebreek, terwyl Van Staden sy enkel beseer het.
White sê hulle weet nie hoe lank Moodie op die herstelpad gaan wees nie.

"Hy word vandag (Vrydag) geopereer en ons sal eers ná afloop daarvan weet hoe ernstig dit is.
Hopelik is dit een van daardie beserings wat jy oor twee weke sal kan verbind, maar hy gaan waarskynlik ook nie volgende week kan speel nie.
"Ek hoop hy sal beskikbaar wees vir die Springbokke, want 'n ou sal graag wil sien dat hy in die Ierse reeks speel."
Die Bulle-breier sê hulle wou nie 'n kans waag met Van Staden nie.
• VRK-GIDS | Al die wedstrydbepalings, puntelys en uitslae
"Ons sou hom kon kies as dit die laaste wedstryd van die seisoen was. Dit maak, ter wille van die Bokke, nie sin om 'n kans met hom te waag nie.
"Veral nie met Jasper (Wiese) wat 'n paar toetse gaan misloop en Kwagga (Smith) wat terugkom van 'n besering nie."
Sebastian de Klerk neem Moodie se plek in die beginspan, terwyl Nizaam Carr die nuwe nr. 6-flank is.
White het Sergeal Petersen en Jannes Kirsten op die plaasvervangersbank ingesluit.
Wilco Louw, 140 kg se Afrikaanse boerevleis. Dít was die verskil.
White glimlag steeds oor die Bulle se oorheersing teen die Haaie in die skrums verlede week.
Wat was die groot verskil in dié faset?
"Wilco Louw, 140 kg se Afrikaanse boerevleis. Dít was die verskil. Wilco is 'n uitstaande skrumwerker, maar ek vat niks weg van Gerhard Steenekamp en Johan Grobbelaar nie; hulle het net so goed teen Vincent Koch en Bongi Mbonambi geskrum.
SPANNE:
• Bulle: Willie le Roux, Sebastian de Klerk, David Kriel, Harold Vorster, Kurt-Lee Arendse, Johan Goosen, Embrose Papier, Cameron Hanekom, Elrigh Louw, Nizaam Carr, Ruan Nortjé (k), Ruan Vermaak, Wilco Louw, Johan Grobbelaar, Gerhard Steenekamp. PLAASVERVANGERS: Akker van der Merwe, Simphiwe Matanzima, Francois Klopper, Reinhardt Ludwig, Jannes Kirsten, Keagan Johannes, Sergeal Petersen.
Benetton: Rhyno Smith, Tommaso Menoncello, Ignacio Brex, Malakai Fekitoa, Onisi Ratave, Tomas Albornoz, Andy Uren, Toa Halafihi, Michele Lamaro (k), Alessandro Izekor, Federico Ruzza, Edoardo Iachizzi, Simone Ferrari, Bautista Bernasconi, Thomas Gallo. PLAASVERVANGERS: Gianmarco Lucchesi, Mirco Spagnolo, Giosué Zilocchi, Eli Snyman, Niccolò Cannone, Lorenzo Cannone, Alessandro Garbisi, Jacob Umaga.
Skeidsregter: Mike Adamson (Skotland).
TV-skeidsregter: Ben Whitehouse (Wallis).
Afskop: 15:30; regstreeks op SS 201 en 211.

















