VRK

Seisoen van brekers wink

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die VRK begin volgende week. Jóhann Thormählen gesels met die SA breiers.

Ruan Nortjé
Ruan Nortjé

Bulle: ‘Kyk, jy kán in SA bly én gedy'

Die nuwe geslag Springbokke laat Jake White glimlag - en nie net omdat 'n klomp van dié groentjies vir die Bulle speel nie.

Volgens die Bulle se direkteur van rugby wys spelers soos Sacha Feinberg-Mngomezulu en Ruan Nortjé vir ander jonges hulle hoef nie oorsee koers te kies nie. Hulle wys ook Suid-Afrika hoef nie 'n groot gros oorsese Bokke in te span om te presteer nie.

White het self die laaste twee jaar gehelp om sewe nuwe Bokke by die Bulle op te lewer. Hy is 'n groot voorstander daarvan dat die beste Bokke hul rugby in Suid-Afrika in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) moet speel.

"Iets waaroor ek werklik opgewonde is, is oor die Sachas wat hier speel. Die Ruan Nortjés, Elrigh Louws, Johan Grobbelaars, Jan-Hendrik Wesselse en Ben-Jason Dixons wat almal in Suid-Afrika speel," het White tydens 'n aanlyn mediasessie van die VRK gesê.

"Hulle wys jy hoef nie oorsese spelers te kies nie."

Die voormalige Bok-breier het juis sy groep met spelers soos Cobus Wiese, Sintu Manjezi en Aphiwe Dyantyi versterk, spelers wat vorentoe dalk deel van 'n Bok-gesprek kan wees.

"Spelers wat altyd getwyfel het oor of hulle moet bly of gly, het nou gesien as jy bly en gekies word, is jy steeds goed genoeg om teen die beste spanne in die wêreld mee te ding."

White sal wel vir 'n paar maande moet klaarkom sonder Kurt-Lee Arendse, wat vanaf Desember tot Mei sabbatsverlof kry om vir die Mitsubishi Sagamihara DynaBoars in Japan te speel. Die Bok-vleuel sal voor en ná dit vir die Bulle uitdraf.

Arendse is nog tot Junie 2026 op die Bulle se boeke en is onlangs 'n tweede agtereenvolgende jaar as die span se waardevolste speler aangewys.

"Ons moet daardie spelers sulke geleenthede gun om hulle in die land te kan hou," sê White oor Arendse se sabbatsverlof. "Anders sal 'n groot uittog van spelers wat oorsee wil gaan geld verdien, onafwendbaar wees. Dit is 'n geval van gee en neem."

Die SA spanne begin almal hul veldtog op 28 September nadat die plaaslike derbies na 2025 geskuif het om nie met die Curriebeker te bots nie. Die Bulle se eerste wedstryd is tuis teen Edinburgh.

  • Aanwinste: Cobus Wiese (Sale Sharks), Boeta Chamberlain (Haaie), Nama Xaba (Stormers), Aphiwe Dyantyi (Haaie), Alulutho Tshakweni (Cheetahs), Sintu Manjezi (Glasgow Warriors).
  • Verliese: Jacques du Plessis (Bath), Wandisile Simelane (Stormers), Chris Smith (Oyonnax), WJ Steenkamp (Leeus), Deon Slabbert (Pumas), Janko Swanepoel (Honda Heat), Robert Hunt (Cheetahs).
Morné van den Berg
Morné van den Berg

Leeus mik na nog vier tot ses Bokke

Van nul tot vyf Springbokke die afgelope seisoen. En minstens nog vier tot ses voor die volgende Wêreldbeker.

Dit is hoeveel Bokke Ivan van Rooyen glo sy span kan oplewer in aanloop tot 2027 se skouspel. Die Leeus-afrigter is vol vertroue sy trop kan voortbou op sy poging in verlede seisoen se VRK en ook nóg 'n groter nasionale bydrae maak.

Volgens hom wil sy span nie net 'n eerste keer die VRK-uitkloprondes haal nie, maar is 'n plek onder die laaste vier in sy visier. Die Leeus het verlede seisoen negende geëindig en was 'n enkele ligapunt weg van die uitkloprondes.

Ruan Venter, Morné van den Berg, Quan Horn, Jordan Hendrikse, wat nou 'n Haai is, en Edwill van der Merwe het almal in 2024 Bokke geword.

"Ek glo in die volgende Wêreldbeker-siklus kan ons, en ons praat openlik daaroor in ons groep, nóg vier tot ses spelers hê wat heeltyds in die Bok-prentjie is," sê Van Rooyen.

Die Leeus is baie trots op hul nuwe Bokke, wat byna almal deur die franchise se strukture gekom het. Hulle is nie 'n span wat die tjekboek die praatwerk laat doen en 'n klomp groot name van elders teken nie. Hulle glo eerder daarin om sterre van binne hul eie strukture te kweek.

"Ons is die eerste wat sal sê Covid was taai vir ons. Ons het 40 of meer spelers en twee afrigtingspanne verloor. Maar die laaste twee seisoene het dit beter gegaan. Ruan Venter is 'n junior wat deur ons stelsel gekom en 'n Springbok geword het. Morné van den Berg het 'n sprokiesverhaal van iemand sonder 'n kontrak wat by ons junior-stelsel aangesluit het. Hy het 'n kontrak gekry en Springbok geword. Quan Horn was ook 'n junior by ons wat deurgekom het. So ook Jordan Hendrikse. Die enigste een wat werklik 'n bietjie later by ons aangesluit het, was Edwill van der Merwe."

Die ervaring wat die Leeus se nuwe Bokke vanaf die nasionale span terugbring, is op verskeie vlakke van waarde.

"Wat my opgewonde maak, is die soort gesprekke tussen die spelers oor hul ervaring by die Bokke, en ook hoe ons een of twee goed wat die Bokke doen, by ons kan implementeer."

Twee van Van Rooyen se sterre sal ook weer binnekort reg wees vir aksie. Van der Merwe (enkelbesering) kan vir sy span se tweede VRK-wedstryd, tuis teen Edinburgh, beskikbaar wees. Die senter Henco van Wyk (kniebesering) sal waarskynlik oor twee of drie weke sy terugkeer maak.

Die Leeus se veldtog begin op 28 September met 'n tuiswedstryd teen Ulster.

  • Aanwinste: Kade Wolhuter (Stormers), Franco Marais (Urayasu D-Rocks), Juan Schoeman (Bath), Siba Qoma (Cheetahs), WJ Steenkamp (Bulle), Tapiwa Mafura (Cheetahs), Lubabalo Dobela (Griekwas).
  • Verliese: Jordan Hendrikse, Emmanuel Tshituka (albei Haaie), Tyler Bocks (Ealing Trailfinders), Corné Fourie (Cheetahs), Hanru Sirgel (Grenoble), Ruan Dreyer (Haaie), Johan Mulder (Cardiff), Travis Gordon (Rotherham Titans), Stean Pienaar, Andries Coetzee, Sibusiso Sangweni, Ruan Smith, JP Smith (almal vrygestel), Willem Alberts, Rhynardt Rijnsburger (albei uitgetree).
Ethan Hooker
Ethan Hooker

Haaie se groot balanseertoertjie

Dis lankal nie net meer 'n rugbyafrigter se werk om sy span op die oefenveld te slyp of taktiek uit te werk nie.

En dis iets wat John Plumtree, die Haaie se hoofafrigter, alte goed weet ná sy span se power vorige VRK-veldtog.

In 'n volgepakte rugbykalender, wat ook die Kampioenebeker insluit, word daar weke en maande vooruit beplan wie wanneer speel en hoe die voorste sterre bestuur sal word. Plumtree se vernuf sal weer in dié afdeling getoets word, veral omdat die Haaie baie diepte en hope Springbok-skop het.

'n Posisie waar hy al sy kennis sal moet inspan, is in die middelveld. Want die Haaitenk wemel van gehalte.

Met 'n senter-spens van André Esterhuizen, Francois Venter, Ethan Hooker, Lukhanyo Am en Jurenzo Julius kan hy kies en keur. Esterhuizen, Venter en Am is almal Bokke, terwyl Hooker en Julius albei voormalige Junior Bokke is. En dan is daar nog Litelihle Bester, 'n SA o.20-ster, asook Diego Appollis en Eduan Keyter.

Esterhuizen is een van die Haaie se grootste aanwinste, nadat hy van Harlequins in Engeland af teruggekeer het.

Hooker en Venter was in hul span se grootste wedstryd van die vorige seisoen, die Uitdaagbeker-eindstryd teen Gloucester, die senterpaar in Am se afwesigheid.

Julius en Bester het in die Curriebeker na vore getree.

"As jy 'n tuiswedstryd het en daar word verwag jy moet 'n week later in Brittanje wees en weer die week daarna in Durban, het jy baie diepte nodig," sê Plumtree.

Hy het erken die spelers wat nie toetsrugby speel nie, is net so belangrik en die uitdaging bly om te wen wanneer sy Bokke weg is. 'n Gesukkel in dié tydperk het verlede seisoen daartoe gelei dat die Haaie net vier uit 18 VRK-wedstryde gewen en 14de klaargemaak het.

"Die uitdaging is om die spelers te roteer. Hoe vars ek hulle hou en seker maak die ouens met 'n hoë werkslading voel of hulle reg is en kan hul kant in die trui bring. Dit is nou spelers soos Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Vincent Koch, Bongi (Mbonambi) en Ox (Nche). Soos die werkslading vir spelers meer word, word die geswoeg meer. As iets 'n geswoeg word, geniet jy dit nie meer nie. As hulle dit nie geniet nie, gaan jy nie die beste uit hulle kry nie."

Die Haaie se veldtog begin op 28 September met 'n wegwedstryd teen Connacht.

  • Aanwinste: Jordan Hendrikse, Emmanuel Tshituka, Ruan Dreyer (almal Leeus), André Esterhuizen (Harlequins), Jason Jenkins (Leinster), Trevor Nyakane, Siya Kolisi (albei Racing 92).
  • Verliese: Coenie Oosthuizen (uitgetree), Le Roux Roets (Sale Sharks), Werner Kok (Ulster) Aphiwe Dyantyi, Boeta Chamberlain (albei Bulle), Curwin Bosch (Brive), Sikhumbuzo Notshe (Montauban), Simon Miller (Shizuoka Blue Revs), Murray Koster (Hino Red Dolphins), Anthony Volmink (Cognac), Zee Mkhabela, Lionel Cronjé, Kerron van Vuuren, Nevaldo Fleurs, Kabous Bezuidenhout (almal vrygestel).
Steven Kitshoff
Steven Kitshoff

Stormers: ‘Tweede linie wen bekers'

Ysters wat nie Springbokke is nie.

Dít is waarmee John Dobson glo 'n span die VRK wen.

Volgens die Stormers se direkteur van rugby is dié soort spelers egter bitter duur, omdat franchises hul volle salarisse moet betaal.

Twee van sy drie aanwinste, die slot JD Schickerling en losvoorspeler Dave Ewers, val in hierdie kategorie. Hul dienste, asook die terugkeer van die Bok-stut Steven Kitshoff, is spesifiek bekom om die Kapenaars se agttal meer "Europese byt" te gee.

Al is top-Bokke veral in uitklopwedstryde bitter belangrik, is dit dikwels die krag en diepte van die res van 'n groep wat die span deur die seisoen dra. Veral wanneer daar in meer as een kompetisie gelyk gespeel word.

"As jy die VRK wil wen, het jy spelers nodig wat nie gereeld vir die Springbokke speel nie. Hulle kry nie 'n bydrae van SA Rugby se Poni-gelde (vir spelers van nasionale belang) nie en dit beteken ons moet hul volle salaris betaal. Dit is 'n reuse-balanseertoertjie. Ek weet nie of ons dit altyd regkry nie," sê Dobson.

Hy meen haarfyn beplanning is ook nodig om te bepaal wanneer spelers rus en wie wanneer beskikbaar is.

Al is Schickerling (Kobelco Kobe Steelers), Ewers en Kitshoff (albei Ulster) die enigste nuwelinge in Dobson se VRK-groep, is dit juis voorlangs waar hy meer spierkrag wou hê. Al drie het sedert hul aankoms reeds Curriebeker-rugby vir die Westelike Provinsie gespeel.

"Hul toevoegings het baie te doen met ons Europese ervaring. Ons het gevoel ons was een of twee keer geboelie."

Volgens Dobson is dit 'n pak voorspelers wat moet opstaan wanneer daar klippe gekou word tydens 'n taai Europese skedule. "Om Exeter een week en Munster die volgende week te speel, kort ons meer diepte voorlangs. Ons wil graag bietjie meer Europese byt hê en Dave Ewers het ingekom. Hy het iets soos 200 wedstryde vir Exeter gespeel en al die Kampioenebeker gewen."

Die Stormers begin hul VRK-veldtog sonder Kitshoff, wat weens 'n nekbesering eers later terugkeer. Dobson het gesê hy word weer oor ses weke geherevalueer, waarna hulle sal weet hoe lank hy uit is.

Nadat die Suid-Afrikaanse spanne se eerste naweek van VRK-derbies weens die Curriebeker-eindstryd tot 2025 uitgestel is, speel die Stormers Woensdag 'n oefenwedstryd teen die Pumas. Die Kapenaars se eerste kragmeting in die nuwe VRK-seisoen, is op 28 September teen Ospreys in Wallis.

  • Aanwinste: Steven Kitshoff, Dave Ewers (albei Ulster), JD Schickerling (Kobelco Kobe Steelers).
  • Verliese: Kwenzo Blose (Exeter Chiefs), Tristan Leyds (Blitsbokke), Nama Xaba (Bulle), Hacjivah Dayimani (Racing 92), Kade Wolhuter (Leeus), Godlen Masimla (Pumas), Lee-Marvin Mazibuko, Chad Solomon, Junior Pokomela, Mnombo Zwelendaba (vrygestel), Leon Lyons (Griekwas).

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM