Nadat die Bulle se vleuels hulle in hul vorige kragmeting meestal in die lug geklop het, wag daar straks in die gedaante van Duhan van der Merwe 'n heel ander uitdaging op die Stormers in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Edinburgh in die DHL-stadion.
John Dobson (Stormers-hoofafrigter) verwag dat die Skotse span - tans vierde op die puntelys - op volle sterkte sal wees nadat die toetsspelers oor die naweek nog teen Ierland in aksie was. In daardie geval is 'n ontmoeting met Van der Merwe, 'n reus wat moeilik vasgevat word, onafwendbaar.

"Waarteen ons moet waak, is om gebroke spel te skep waar hy in besit gestel word. As hy 'n skop ontvang en ons hom duik dat hy op die grond beland, is dit reg so," sê Dobson oor Van der Merwe.
"Ons het al in baie wedstryde teen Europese teenstanders gespeel waar hulle groot ouens het wat die bal sterk dra. Dit gaan net daaroor om slim te wees oor gebroke spel. As ons nie goeie beskerming vir ons spelers bied wat die bal moet vang nie en ons skoppe swak opvolg, sal daar vir hom geleenthede wees. Doen ons daardie dinge egter reg, sal dit nie 'n probleem wees nie."
Nes die Bulle se Bok-vleuels - Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie - is Van der Merwe ook goed in die lug. In Ali Price het Edinburgh ook 'n toetsskrumskakel wat akkuraat is met sy hangskoppe.
"Die Bulle se hoë skoppe het baie goed teen ons gewerk. Hulle was takties uitstekend. Ons het egter ons foute raakgesien," sê Dobson.
"Ons het nie ons ontvangers beskerm nie en daardie wekroep (op Loftus) sal help voor hierdie wedstryd."
Daar's by my geen twyfel nie dat ons momentum op ons tuisveld sal kry. Alles sal dan volg.
Dobson meen die Stormers is nou goed geposisioneer om momentum te bou. Die nederlaag teen die Bulle het seergemaak, maar die Stormers het al sewe hul voorafgaande wedstryde gewen.
"Ons nederlae op toer (verlede jaar) is wat ons geknou het, nie die wedstryd teen die Bulle nie. As ons net een wedstryd op toer gewen het en jy vyf ligapunte by ons totaal voeg, het ons nou vierde op die puntelys gelê. Ek is egter nie bekommerd oor ons huidige posisie op die puntelys nie," sê Dobson.
"Daar's by my geen twyfel nie dat ons momentum op ons tuisveld sal kry. Alles sal dan volg. Die puntelys sal anders lyk as ons vir Edinburg kan klop. En selfs meer so as ons daarna met Ulster kan afreken."
Dobson sê dat hy ook goeie dinge in die nederlaag van 22-40 teen die Bulle gesien het om op voort te bou.
Die nederlaag op Loftus Versfeld het ons onder 'n bietjie druk geplaas op die puntelys . . .
"Daar was baie ligpunte in daardie wedstryd, soos hoe ons in die Bulle se kwartgebied gekom het, wat my bly gemaak het. Ons het binne trefafstand van hul doellyn die druk op die Bulle gelaai, maar daardie kans om punte aan te teken daarna dan opgemors. Dit voel wel vir my asof ons besig is om weer ons ritme te vind," sê hy.
Dobson meen dat die Stormers die ervaring het om die druk oor die volgende klompie weke te verwerk.
• VRK-GIDS | Al die wedstrydbepalings, puntelys en uitslae
"Ons het as leiersgroep gesels oor hoe belangrik dit is om nou momentum te bou. Jou tuiswedstryde is baie belangrik," sê hy.
"Die nederlaag op Loftus Versfeld het ons onder 'n bietjie druk geplaas op die puntelys, maar ons het die druk in die laaste twee seisoene te bowe gekom en sal dit nou weer doen."



















