VRK

Stormers ‘buiteperde, maar desperaat’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sacha Feinberg-Mngomezulu se tweestryd met die Haaie se Siya Masuku kan Saterdag in Durban vir een van vele hoogtepunte sorg. Foto: Gallo Images
Sacha Feinberg-Mngomezulu se tweestryd met die Haaie se Siya Masuku kan Saterdag in Durban vir een van vele hoogtepunte sorg. Foto: Gallo Images

John Dobson, die Stormers se hoofafrigter, sê die feit dat die Haaie 14 Springbokke gekies het vir dié twee spanne se VRK-stryd Saterdag in Durban, het as geen verrassing gekom nie.

Dobson sê hy weet die Haaie is oorgehaal om sy swak vertoningslys teen die Stormers in dié kompetisie reg te stel en erken dat sy span as buiteperd in die Haaitenk gaan uitdraf.

"Ek dink nie hierdie is 'n wedstryd wat baie mense glo ons kan wen nie, maar ons is desperaat en ek dink ons het 'n paar lekker planne in plek," het Dobson Vrydag gesê.

"Die een voordeel wat ons het, is dat net een van ons spelers (Manie Libbok) saam met die Springbokke op toer was en die groep nou al vir drie weke saam is in die aanloop tot dié kragmeting. Die Haaie se spelers gaan dalk wedstrydskerp wees (ná die afgelope maand se toetsrugby), maar ons ouens is uitgerus."

Dobson gee toe dat hy vorentoe behoorlik sal kopkrap oor wie van die begaafde Sacha Feinberg-Mngomezulu en die opwindende Libbok die nr. 10-trui gaan dra, maar sê hy het nie enige twyfel gehad oor wie Saterdag in die beginspan moet wees nie. Feinberg-Mngomezulu sal op losskakel begin - sy eerste wedstryd sedert hy in die tweede toets teen die All Blacks in die Rugbykampioenskap gespeel het.

" 'n Losskakel is nie 'n flank nie en word geïntegreer by al die planne wat ons oor die afgelope drie weke beraam het. Manie het eers Dinsdag by die span aangesluit, maar ons het drie weke gelede al besluit hoe die span gaan lyk, so verdienste het g'n invloed gehad op die keuse om Sacha bo Manie te kies nie."

Dobson het ook insig gegee oor waarom Ali Vermaak ná 'n lang tydperk buite aksie bo Brok Harris begin op loskopstut.

"Dit sou 'n risiko wees om met Brokkie (Harris) te begin en dan word hy dalk in die tweede minuut beseer en dan moet Ali 'n volle wedstryd speel. Ali kry nie altyd die nodige respek wat hy verdien nie, maar hy kom altyd die mas op in die skrums. Hy lyk wel tans goed, maar die besluit neem sy welstand in ag."

Dobson sê hulle is gerat vir 'n sterk aanslag van die Haaie, maar vertrou dat hulle self vir 'n verrassing of twee kan sorg.

"Ons is bewus van die Haaie se gehalte, die grootsheid van die geleentheid en ook die aantal Wêreldbeker-wenners in hul span, selfs met die twee afwesiges (Eben Etzebeth en Bongi Mbonambi). Ons het self 'n paar WB-wenners op die krukkelys.

Die senter Lukhanyo Am is een van 14 Springbokke in die Haaie se 23-tal vir die VRK-stryd teen die Stormers. Foto: Gallo Images
Die senter Lukhanyo Am is een van 14 Springbokke in die Haaie se 23-tal vir die VRK-stryd teen die Stormers. Foto: Gallo Images

"Ons strategie was om 'n week te rus ná afloop van die wedstryd teen Glasgow en die daaropvolgende drie weke hard te oefen vir dié naweek se wedstryd.

"Ons het harde gesprekke gehad, goeie oefensessies, 'n paar aanpassings aan ons oefentegnieke gemaak en 'n paar lekker planne beraam. Dit was 'n positiewe tydperk vir ons."

Intussen sê John Plumtree, die Haaie se breier, dat sy spelers nie hul Kaapse teenstanders sal onderskat nie.

"Ons is bewus van die bedreiging wat die Stormers inhou. Hulle het nie 'n magdom Springbokke gehad wat nie saam kon oefen nie. Hulle het wel 'n paar beserings, maar ons weet hulle het baie tyd saam gehad as 'n groep oor die afgelope vier weke.

"Hulle beskik oor gevaarlike spelers in die agterlyn en het ervare spelers voorlangs," sê Plumtree.

"Die geleentheid is nou daar (om die Stormers te klop). Die ouens sien uit daarna. Al was ons voorbereiding nie perfek nie, het ons nou 'n gulde geleentheid, maar ons weet ons moet goed speel indien ons dié Stormers-span wil klop."

• VRK-GIDS | Bepalings, puntelys en uitslae

SPANNE:

Haaie: Aphelele Fassi, Ethan Hooker, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Siya Masuku, Jaden Hendrikse, Siya Kolisi (k), Vincent Tshituka, James Venter, Gerbrandt Grobler, Jason Jenkins, Vincent Koch, Dylan Richardson, Ox Nche. PLAASVERVANGERS: Ethan Bester, Ntuthuko Mchunu, Trevor Nyakane, Corné Rahl, Phepsi Buthelezi, Emmanuel Tshituka, Grant Williams, Jordan Hendrikse.

Stormers: Warrick Gelant, Suleiman Hartzenberg, Ruhan Nel, Dan du Plessis (k), Leolin Zas, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Herschel Jantjies, Marcel Theunissen, Ben-Jason Dixon, Dave Ewers, Ruben van Heerden, JD Schickerling, Neethling Fouché, Joseph Dweba, Ali Vermaak. PLAASVERVANGERS: André-Hugo Venter, Brok Harris, Sazi Sandi, Adré Smith, Keke Morabe, Louw Nel, Stefan Ungerer, Manie Libbok.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen.

Afskop: 17:00; regstreeks op SS 211 en 216.

- wim.pretorius@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM