Dis buite die kwessie dat die Stormers 'n sogenaamde B-span sal kies vir volgende Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-wedstryd teen die Leeus in die DHL-stadion in Kaapstad.
John Dobson, afrigter, sê dat die Stormers dit beskou as 'n wedstryd wat hulle moet wen, eerder as om hulle met die permutasies vir die kwarteindronde te bemoei.

Die Stormers het reeds vir die uitspeelrondes gekwalifiseer en kan enige plek van vyfde tot sewende eindig.
Ironies kan dit gebeur dat die beste uitkoms vir Dobson se span is om sewende te eindig, want dit kan dalk beteken dat hulle in Suid-Afrika bly vir 'n uitspeelwedstryd teen die Bulle.
As die Bulle die Haaie op 1 Junie in Durban met 'n bonuspunt klop en Munster met Ulster afreken, sal die Pretorianers beslis tweede eindig.
'n Sege oor die Leeus sal aan die Stormers die vyfde plek besorg. In die geval van 'n nederlaag kan die Stormers moontlik nog deur Ulster en Edinburgh - wat onderskeidelik teen Munster en Benetton speel - verbygesteek word.
Daar is egter genoeg goeie redes vir Dobson om nie sy voorste spelers van die spervuur te spaar nie, al sal die Stormers die risiko van beserings loop.
"Ons gaan ons nie met die puntelys bemoei nie en sal voluit gaan om ons laaste ligawedstryd te wen. Ons skuld dit aan die mense van Kaapstad in ons laaste ligawedstryd van dié seisoen op ons tuisveld," sê Dobson.
"Dit gaan 'n taai wedstryd wees. Die Leeus het vir Connacht in Galway meer oortuigend geklop as wat ons dit kon doen. Hulle is 'n gevaarlike en desperate span."
Dobson sal 'n nuwe plan met sy senterkombinasie moet beraam nadat Damian Willemse vingerligamente beseer het. 'n Logiese skuif sou wees om die belowende Sacha Feinberg-Mngomezulu as sentermaat vir Dan du Plessis te kies. 'n Alternatief is dat Du Plessis en Wandisile Simelane herenig word.

Elders agterlangs kan Dobson sterk oorweeg om die Engelse vleuel Ben Loader weer te kies.
Hy het die Stormers se toerwedstryde weens 'n besering misgeloop en Angelo Davids het in sy afwesigheid twee drieë teen die Dragons en die Stormers se enigste een teen Connacht afgerond. Hulle het dié wedstryde onderskeidelik met 44-21 en 16-12 gewen.
Dit kan ook 'n oorweging wees om 'n paar spelers wedstrydfiks te kry sonder dat die span verswak hoef te word. Die slot André Smith en baljagterflank Nama Xaba kan opsies wees.
Ook kan dié wedstryd 'n goeie geleentheid bied om die loskopstut Kwenzo Blose se selfvertroue 'n hupstoot te gee.
Hy is in die Stormers se eerste wedstryd van hul veldtog teen die Leeus op Ellispark só deur Ruan Dreyer in die skrums verniel dat hy reeds in die eerste helfte vervang is. Sedertdien het Blose, wanneer hy geleenthede gekry het, goeie rekenskap van homself gegee, maar dit kan veral vir hom goed wees as hy 'n goeie wedstryd teen die Leeus kan speel, gegewe wat in die Goudstad gebeur het.



















