Die Stormers kan straks met 'n handvol Springbokke versterk word vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Leeus in die DHL-stadion in Kaapstad.
Deon Fourie, Ben-Jason Dixon (albei losvoorspelers), Frans Malherbe (vaskopstut) en Sacha Feinberg-Mngomezulu (losskakel) gaan dalk almal in die prentjie wees.
Fourie en Malherbe het lanklaas gespeel, maar hul ervaring kan ongeag of hulle verroes is of nie van onskatbare waarde wees in 'n wedstryd wat die Stormers sal voel hulle móét wen. In Feinberg-Mngomezulu sal die Stormers ook 'n potensiële wedstrydwenner op losskakel hê.
Anders as in die afgelope naweek se nederlaag van 16-53 teen Harlequins in 'n Kampioenebeker-wedstryd in Londen, behoort daar nie 'n ooglopende swak plek in die span te wees nie. Die Stormers se eerste linie is uitgerus nadat hulle nie saam getoer het Noordelike Halfrond toe nie.
Dit plaas natuurlik ook groter druk op die span. Tot op hede moes 'n mens beserings in berekening bring wanneer jy die Stormers beoordeel, maar daar sal nie verskonings wees indien hulle met Bokke en al weer tekortskiet nie.
'n Paar moeilike besluite wag nietemin op Dobson. Een daarvan is die keuse van nr. 4-slot. Salmaan Moerat het vanjaar 'n paar keer die Bokke aangevoer, maar Dobson sal waarskynlik ewe graag vir Ruben van Heerden op die veld wil hê.
Fourie se beskikbaarheid is soos manna uit die hemel. Vir hoe lank sy 38-jarige lyf sal hou in sy eerste wedstryd in agt maande is 'n ope vraag, maar Dobson kan nou rustiger slaap oor mededinging by die afbreekpunte op die verdediging.
Dat die Stormers die afgelope naweek verloor het, maak met die groter prentjie in gedagte nie saak nie. Om in die wedloop te bly vir 'n plek in die uitspeelrondes van die VRK is in dié stadium hul prioriteit.

Tog sou 'n mens meer van die Stormers verwag het as wat hulle in Engeland opgedis het. Al drie spelers wat in die tweede helfte geel kaarte gekry het - Stefan Ungerer, Seabelo Senatla en Angelo Davids - is al 'n geruime tyd op die toneel. Daar was die sogenaamde sagte oomblikke wat op drieë vir Harlequins uitgeloop het.
Moerat behoort om mee te begin nooit die bal te skop nie, maar as hy regtig moes, sou dit gehelp het as dit nie na Marcus Smith toe was nie. Ditto Clayton Blommetjies se steekskoppie na Tyrone Green toe.
Hoe afgewater hulle ook al was, kon die Stormers hul teenstanders baie harder laat werk het vir die sege.
Dobson het groentjies soos die loskopstut Vernon Matongo, die flank Louw Nel en die senter Jonathan Roche vir lof uitgesonder, maar meen dat die Stormers eindelik net nie genoeg skietgoed gehad het nie.
• VRK-GIDS |Bepalings, puntelys en uitslae
"Teen 'n span so goed soos Harlequins is dit moeilik as talle van jou spelers onbeskikbaar of by die huis gelaat is. Dis 'n geweldige taai wedstryd," het hy gesê.
"Ons moet wel ook selfondersoek doen. Jy kan nie drie geel kaarte bekostig teen 'n span só goed soos Quins nie. Dis nie goed genoeg nie. Ons kan ook nie juis met enige van die beslissings oor die geel kaarte stry nie."
Moerat meen dat die Stormers se konsentrasie hulle ná 'n goeie begin in die steek gelaat het. Die Stormers was vroeg met 6-0 voor.
"Ons swak lakwerk het hulle terug in die wedstryd gebring. Ons het twee maklike drieë afgestaan en dis baie moeilik wanneer jy inhaalrugby moet begin speel," het hy gesê.
- stephen.nell@24.com


















