VRK

Stormers struikel in Eikestad

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Johnny Matthews druk die Glasgow Warriors se eerste drie in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Stormers in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Foto: Gallo Images
Johnny Matthews druk die Glasgow Warriors se eerste drie in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Stormers in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Die Stormers is terug op die agtervoet in dié seisoen se Verenigde Rugbykampioenskap nadat hulle Saterdagmiddag in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch teen die Glasgow Warriors vasgeval het.

Franco Smith se Warriors was met 28-17 baas nadat hulle die Stormers in die tweede helfte ore aangesit het.

Met die rustyd was dit 7 elk, maar die Stormers was aan die ontvangkant van die noodlot. Twee Springbokke - eers Ben-Jason Dixon en daarna Damian Willemse - moes die veld met beserings verlaat.

Boonop moes die Stormers die tweede helfte sonder Manie Libbok afskop nadat hy hom 'n geel kaart op die hals gehaal het deur die bal op die verdediging af te klap.

John Dobson, die Stormers se afrigter, sal teleurgesteld wees nadat die Stormers hulle dikwels in goeie posisies in gespeel het, maar nie kon munt slaan nie.

Toe Willemse eindelik die eerste drie van die wedstryd druk, was dit hul vierde besoek aan die Warriors se kwartgebied.

Glasgow het egter 'n vinnige antwoord gevind en vir Johnny Matthews van 'n dryfmaalbeweging oorgestuur om dit 7 elk te maak. Die Stormers het binne die bestek van 'n paar minute nie net hul voorsprong prysgegee nie, maar ook Libbok vir 10 minute en Willemse vir die res van die wedstryd verloor.

Glasgow het hul voorsprong vroeg in die tweede helfte tot 14-7 laat rek nadat die bal gunstig vir Sione Tuipulotu gespring het. Daarna het die Stormers hulle egter in 'n posisie gekry van waar 'n mens van hulle sou verwag om die wedstryd te wen.

Dan du Plessis het die gelykmakende drie gedruk en Manie Libbok het dit kort daarna - nadat die Stormers hul vierde strafskop by die skrums afgedwing het - 17-14 gemaak.

Nes in die eerste helfte het die Stormers egter 'n duur prys betaal nadat hulle gou ná die afskop weer besit afgestaan het. Kyle Rowe se drie het aan die Warriors die voorsprong gegee voordat Henco Venter vir die bonuspuntdrie gesorg het.

Puntemakers

Glasgow Warriors 28 (7): Drieë: Johnny Matthews, Sione Tuipulotu, Kyle Rowe, Henco Venter. Doelskoppe: Adam Hastings (3), Tom Jordan.

Stormers 17 (7): Drieë: Damian Willemse, Dan du Plessis. Doelskoppe: Manie Libbok (2). Strafdoel: Libbok.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM