VRK

VRK: ‘SA spanne gaan nêrens’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Al stel Engelse Premierliga-klubs glo daarin belang om in 'n nuwe liga saam met spanne van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) te speel, is ringkoppe van die VRK nie van plan om Suid-Afrika uit die kompetisie te skop nie.

Steven Kitshoff met die VRK-beker in 2022.
Steven Kitshoff met die VRK-beker in 2022.

Volgens Rapport se inligting het geen gesprekke tussen die VRK en die Engelse Premierliga plaasgevind om van Suid-Afrika ontslae te raak nie.

Suid-Afrikaanse spanne se VRK-deelname word inteendeel gevier en SA Rugby word boonop volgende jaar 'n volwaardige aandeelhouer van die VRK, wat hom sal laat deel in die winste. Daar word ook verneem die kontrakte tussen SA Rugby en die VRK is waterdig en nie van die soort waaruit daar maklik losgewikkel kan word nie.

Gesprekke wat aan die lig gekom het dat Engeland deel wil wees van 'n kompetisie bestaande uit Britse en Ierse spanne, het die afgelope week opspraak gewek. So 'n kompetisie sal spanne van Suid-Afrika en Italië uitsluit. Volgens die koerant The Telegraph het Premierliga-klubs Donderdag 'n raadsvergadering in Londen gehou en is daar onder meer bespreek hoe die liga sy inkomstestrome deur uitsaairegte kan vermeerder.

Van die voorstelle was skynbaar die kompetisie met Britse en Ierse spanne en 'n nuwe Anglo-Walliese liga. Die Engelse spanne was glo meer ten gunste van eersgenoemde, waarby Suid-Afrika en Italië uitgesluit word.

Die VRK en SA Rugby het ook Vrydag in 'n mediaverklaring die bewerings ontken en gesê die Suid-Afrikaanse spanne het 'n groot positiewe invloed op die reeks gehad.

Jóhann Thormählen en Hendrik Cronjé

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM