Die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) het uit die as herrys en op sy tuisveld die Hoërskool Waterkloof met 57-31 streepsuiker gegee.
Ná sy rekord-nederlaag teen Maritzburg College 'n week tevore, het Affies se Wit Bulle die drieë ingeryg en nege keer die Klofies se doellyn oorgesteek.
Hendré Schoeman (skrumskakel) het met skitterspel die besoekers se verdediging aan die raai gehou, terwyl Braam Swanepoel (flank) by die afbreekpunte gewoel het.
Schoeman sowel as Eagan Roux (linkervleuel) het 'n driekuns aan drieë behaal.
Affies sal verlig wees dat hy terug op die wenpad is voordat hy komende naweek vir die 118de keer swaarde kruis met sy aartsvyand, Pretoria Boys' High. Dié twee skole het al in 1923 die eerste keer teen mekaar gespeel.
Vir die Klofies was dit net hul derde nederlaag van die seisoen. Hulle sal sake wil regstel wanneer hulle die Hoërskool Marais Viljoen volgende in die Noordvaal-reeks se Beker-kompetisie pak.
• Gepraat van Marais Viljoen. Dié span van Alberton het die Hoërskool Menlopark 'n sewende agtereenvolgende nederlaag vanjaar toegedien deur hom met 48-15 te oorrompel in die Noordvaal-reeks.
Die Hoërskool Garsfontein en die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg is reeds seker van hul plek in die halfeindronde nadat hulle met onderskeidelik die Hoërskool Noordheuwel van Krugersdorp (30-28) en die Hoërskool Nelspruit (48-17) afgereken het.
Die Garsies se Bere het vir die tweede week op 'n streep uit die kloue van 'n potensiële nederlaag geglip. Dié slag het hy met 'n strafdoel in die doodsnikke deur Nicallen Gabrielsen (losskakel) sy onoorwonne status in die reeks behou.
Jansies is self nog onoorwonne en die tweestryd tussen dié twee op 12 Augustus tydens die laaste ronde van die ligafase, gaan 'n watertandstryd wees.
Helpmekaar Kollege se JP Lombaard (slot) het met die laaste beweging van die wedstryd 'n skop afgestorm en oorgeduik om sy span met 38-31 oor die Hoërskool Monument van Krugersdorp te laat seëvier.
• Die Hoërskool Rustenburg is nog onoorwonne in die Plaat-kompetisie nadat hy geswoeg het om die Hoërskool Transvalia van Vanderbijlpark met 25-21 te troef.
GJ Steenberg, Jayden Meyer, Zulu Khumalo en Reuben Delport het almal vir die wenspan agter die pale gedraai.
Die Hoërskool Kempton Park moes sweet vir sy oorwinning met 24-18 oor die Hoërskool Zwartkop.
Die Kempies se Milano Hattingh (flank) het sterk gedra, by die afbreekpunte met sy inklimspel sy stem dik gemaak en boonop een van sy span se drieë gedruk.
Zander Erasmus (losskakel) was die Hoër Tegniese Skool Middelburg se driekuns-held in sy span se oorwinning met 33-22 oor die Hoërskool Klerksdorp. Erasmus het boonop met sy vier doelskoppe 'n totale bydrae van 23 punte gehad.
Die Hoërskool Middelburg het op sy beurt die Hoërskool Montana met 19-17 geklop.
• In die Skild-kompetisie het die Hoërskool Secunda die Hoërskool Oos-Moot met 45-41 uitoorlê met Jarno Haarhoff (skrumskakel) en Luan Lottering (linkervleuel) wat albei twee keer gedruk het, terwyl Ayanda Mkwebane (flank) twee keer onder die driedrukkers getel het in Ligbron Akademie se sege met 21-14 oor die Hoërskool Lichtenburg.




















