Skole

KYK | Begeesterde Maritzburg laat Grey byna groot skrik

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Grey Kollege moes Maandagaand by die Afrikaanse Hoër Seunskool harder as wat verwag is werk om 'n begeesterde Maritzburg College met 37-24 uit te oorlê op die derde dag van die Noord-Suid-toernooi.

Maritzburg het soos Trojane baklei en was in 'n stadium met 17-12 voor, maar Grey het nooit koelkop verloor nie en op hul strukture vertrou.

Grey se flank Jean-Henri Smit was 'n bielie en het hakskene gewys vir sy wegbreek-drie wat die gety eindelik geswaai het, terwyl sy spanmaats Liam van Wyk (haker) en Schalk du Plessis (slot) ook uitgeblink het. Van Wyk het twee oorstootdrieë vir sy span gedruk.

Vir Maritzburg was die heelagter Luyanada Kunene 'n kopseer vir die Vrystaters met sy breekslae en twee drieë.

Grey Kollege se flank Jean-Henri Smit op die aanval teen Maritzburg College. Foto: Frans Lombard
Grey Kollege se flank Jean-Henri Smit op die aanval teen Maritzburg College. Foto: Frans Lombard

• Paarl Gimnasium het King Edward VII School (KES) van Johannesburg met 49-19 gegaffel in 'n uitslag waar die telling die wenspan effe vlei.

Die Paarliete was soos blits uit die blokke en Xander Mynhardt, Jannie Grobbelaar, Enzo Labuschagne en Tazreeq Moerat het almal afgerond om 'n voorsprong van 28-0 op te bou.

KES het nooit die wit vlag gehys nie en die Johannesburgers het drie drieë van hul eie gedruk voordat Gimmies laat in die tweede helfte die wind finaal uit hul seile geneem het.

Paarl Gimnasium se plaasvervanger-skrumskakel, Liam van der Merwe, probeer die aandag van twee verdedigers van King Edward VII School ontwyk. Foto: Frans Lombard
Paarl Gimnasium se plaasvervanger-skrumskakel, Liam van der Merwe, probeer die aandag van twee verdedigers van King Edward VII School ontwyk. Foto: Frans Lombard

Die manne van die Paarl se losskakel, Kyle Smith, het een keer agter die doellyn gedraai en boonop al sewe sy span se drieë verdoel vir 'n persoonlike bydrae van 19 punte.

Aan die kant van KES kan sy flank Olwethu Biyela die wêreld in die oë kyk.

• Veggees is een ding wat die Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan van 2023 in oorvloed het.

Die Hoërskool Waterkloof se heelagter, Hernus Marais, en Glenwood High School se Tumisho Mofidokoane ding mee om die bal. Foto: Frans Lombard
Die Hoërskool Waterkloof se heelagter, Hernus Marais, en Glenwood High School se Tumisho Mofidokoane ding mee om die bal. Foto: Frans Lombard

Dié span het sy doodsnik-sege oor die Hoër Tegniese Skool Drostdy op die eerste dag opgevolg deur weer die kastaiings uit die vuur te krap teen die Glenwood High School van Durban in sy naelskraapse oorwinning met 32-28.

Klofies se flank Dewald Muller se twee drieë met enkele minute se speeltyd oor het sy span gered.

Vir Glenwood was sy agtsteman, Zukisani Tom, 'n kruiptrekker en is met 'n goeie drie beloon.

• Boksburg se verteenwoordiger op die toernooi, die Hoërskool Dr. EG Jansen, het so byna sy onoorwonne vertoningslys prysgegee teen die Drostdy se Donkies.

Jansies het geswoeg om met 23-22 die pyp te rook.

Die span van Worcester het kort voor die eindfluitjie 'n geleentheid gehad om te wen toe daar met 'n strafskop aangelê is pale toe. Die skop was egter regs van die regter regoppaal verby.

Jansies se slot Reon Pretorius se wegbreek-drie in die eerste helfte sou hom breëbors laat. Die agtsteman, Nathan Matthee, en buitesenter, Cameron van Wyk, kan ook tevrede voel met hul vertonings.

Vir Drostdy was sy heelagter, Graham Thompson, 'n bedreiging, terwyl die flank Ettienne Claasen ook beïndruk het.

• Die Durban High School (DHS) het hopeloos te veel skietgoed gehad vir die Hoërskool Nelspruit en het hom met 35-7 oorrompel.

Die Durbaniete se losskakel, Deano Boasak, was een van sy span se groot gevaarmanne, terwyl die flank Siseko Mani ook sterk gedra het en moeilik gestuit is.

Die Hoërskool Nelspruit se flank Heino Meiring het die aandag van drie verdedigers van Durban High School. Foto: Frans Lombard
Die Hoërskool Nelspruit se flank Heino Meiring het die aandag van drie verdedigers van Durban High School. Foto: Frans Lombard

Puntemakers:

EG Jansen 23 (15): Drieë: Reon Pretorius, Cameron van Wyk, Juandré Jacobs. Doelskoppe: David Twala. Strafdoele: Twala (2). HTS Drostdy 22 (10): Drieë: Ettienne Claasen, Aljay Skipper, Graham Thompson. Doelskoppe: Kenneth Jansen (2). Strafdoel: Jansen.

Waterkloof 32 (15): Drieë: Sjaan Steyn, Stephan Jacobsz, Happy Mokate, Dewald Muller (2). Doelskoppe: Franco Cronjé (2). Strafdoel: Cronjé. Glenwood 28 (15): Drieë: Jaco Williams, Okanta Chijindu, Zukisani Tom. Doelskoppe: Johandré van Rooyen (2). Strafdoele: Van Rooyen (3).

Durban High School 35 (16): Drieë: Chris Everitt, Maurice Willemse, Deano Boesak, Zingce Simka. Doelskoppe: Deano Boesak (3). Strafdoele: Boesak (3). Nelspruit 7 (7): Drieë: Ruben Lorist. Doelskop: Kian van Tonder.

Paarl Gimnasium 49 (28): Drieë: Xander Mynhardt, Jannie Grobbelaar, Enzo Labuschagne, Tazreeq Moerat, Kyle Smith, Danio Botha, Dean Louw. Doelskoppe: Smith (7). King Edward VII 19 (7): Drieë: Lesedi Moloi, Andrew Engelbrecht, James Kobrowisky. Doelskoppe: Tirhani Masondo (2).

Grey Kollege 37(19): Drieë: Hayden Tolmay, Liam van Wyk (2), Jean-Henri Smit, Ranon Fouché, Schalk du Plessis. Doelskoppe: Ian van der Merwe (2). Strafdoel: Van der Merwe. Maritzburg College 24 (17): Drieë: Luyanada Kunene (2), Langelihle Makhathini, Sasha Kadira. Doelskoppe: Luc du Toit (2).

Bepalings:

Dinsdag 4 April

A-veld

07:30: Monument 2de t. Outeniqua 2de

08:45: Affies 2de t. Paarl Boishaai 2de

10:00: Garsfontein t. Oakdale Landbou

11:30: Noordheuwel t. Durbanville

13:00: Helpmekaar Kollege t. Stellenberg

14:30: Pretoria Boys High t. Paul Roos Gimnasium

16:00: Menlopark t. Welkom Gimnasium

17:30: Monument t. Outeniqua

19:00: Affies t. Paarl Boishaai

B-veld

08:45: Noordheuwel 2de t. Durbanville 2de

10:00: Menlopark 2de t. Welkom Gimnasium 2de

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM