Paul Roos Gimnasium het vir Grey Kollege pimpel en maroen geslaan tydens die spanne se interskole-kragmeting in die Markötter-stadion in Stellenbosch.
Die Maroen Masjien se sege van 36-3 is verreweg die grootste nederlaag wat Grey nog gely het. Boonop het Paul Roos met dié sege vir die eerste keer sedert 1991 daarin geslaag om sy seisoen onoorwonne af te sluit. In 1991 het twee toekomstige Springbokke, Justin Swart en Cobus Visagie, vir Paul Roos uitgedraf.
Soos enige roemryke sege is dié grondslag hier ook voorlangs gelê. Dit was veral die slot Charl Holwill, flank Gert Kemp en haker, Altus Rabe, wat Grey se gal voorlangs gewerk het.
Agterlangs het die binnesenter, Samuel Badenhorst, vir die besoekers hoofbrekens besorg.
Vir Grey het die skrumskakel, Philip McLaren, en die flank Julian Cosmo moedig probeer.
Grey se vorige grootste nederlae was met 22 punte teen Affies (1996, 3-25) en Monument (1993, 12-34).
• Charlie Hofmeyer van Ceres het ook daarin geslaag om sy seisoen onoorwonne af te sluit met 'n klinkende sege van 29-8 oor Robertson tydens hul jaarlikse interskole.
• Die Hoërskool Waterkloof kon vir die eerste keer sedert 2011 daarin slaag om tot die eindstryd van die SDC Noordvaal Cup deur te dring.
Die Klofies het 'n naelskraapse oorwinning van 35-34 teen Monument van Krugersdorp op sy tuisveld in Pretoria behaal om sy plek ná 13 jaar weer in die eindstryd te bespreek.
Monnas het amper, nadat speeltyd reeds verstreke was, Waterkloof se makietie bederf. Die span se regtervleuel, Ewan van der Walt, het gaan druk om die telling op 35-34 te bring. Die binnesenter, Hugo van der Merwe, kon egter nie met die doelskop slaag nie.
Die ervare Jan Mollentze wat as hoofafrigter vir die Blou Tornado waargeneem het, was in 2011 ook die Klofies se afrigter toe hulle die kroon as kampioen van die Beeld-trofee gedra het.
Die span se hoofafrigter, Cobus van Dyk, sal volgende week weer die leisels neem wanneer hy van die SA o. 18-span terugkeer.
Die Klofies sal op sy tuisveld in die eindstryd teen sy aartsvyande, Hoërskool Garsfontein, te staan kom. Die Garsie Bere het vir EG Jansen van Boksburg met 27-25 danksy 'n drie kort voor die einde deur die plaasvervanger-vleuel, Brooklyn Newman, gewen.
- Uitslae:
- SDC NOORDVAAL CUP
- Groep 1 | Halfeindstryde
- Beker: Waterkloof 35, Monument 34; Garsfontein 27, EG Jansen 25. Plaat: Transvalia 31, Ligbron Akademie 18; HTS Middelburg 22, Hoërskool Middelburg 17. Skild: Wesvalia 33, Secunda 21; Lichtenburg 32, Die Anker 29. Bowl: Potchefstroom Gimnasium 50, Merensky 32; Eldoraigne 24, Potchefstroom Volkskool 23.
- Groep 2-5 | Eindstryde
- Groep 2: Overkruin 28, Bergsig Akademie 27. Groep 3: Riebeeckrand 31, Linden 18. Groep 4: Kanonkop 27, Carletonville 17. Groep 5: Die Wilge 21, Morgenzon Landbou 19. Groep 5B: Sannieshof 24, Christiana 21.
- KOVSIESTREEKKOMPETISIE | HALFEINDSTRYDE
- Shimla-liga: Voortrekker (Bethlehem) 24, Landboudal 22; Welkom Gimnasium 44, Duineveld 21. Irawa-liga: Curro Kathu 36, Ficksburg 24; Wilgerivier 29, Hendrik Potgieter 21. Colt-liga: Hoopstad 55, Zastron 10; Vrede 27, Douglas 20.
- WES-KAAP
- Paul Roos Gimnasium 36, Grey Kollege 3; Rondebosch Boys' High 22, Bishops 5; Wynberg Boys' High 9, SACS 7; Charlie Hofmeyr 29, Robertson 8; Stellenberg 15, Hoërskool Durbanville 8; Outeniqua 8, HTS Drostdy 0; Milnerton 36, Melkbosstrand 7; Brackenfell 25, Tygerberg 14; Hoërskool Bellville 31, DF Malan 18; Hugenote (Wellington) 17, Swartland 15; Labori 48, Parow 15.




















