Die Vrystaat sal Saterdag vir die eerste keer sedert 2011 in die hoofwedstryd van die o. 18-Cravenweek-toernooi in aksie wees.
Dít volg nadat hy met 'n onstuitbare rolmaal en die vlugvoetige Alzeadon Felix Donderdag die Bulle se doppie met 34-27 op die vierde dag van die toernooi by die Hoërskool Monument in Krugersdorp geklink het.

Die Vrystaat sal in die hoofwedstryd teen die Westelike Provinsie, 'n span wat onoorwonne is in sy laaste 14 wedstryde in dié toernooi, te staan kom.
Waar die Goue Leeus vroeër in die week nie juis gepoog het om die Bulle se dodelike rolmaalbewegings te ontwrig nie, het die Vrystaat nie net deurlopend dié wapen van die Ligbloues ontlont nie, maar boonop hul eie agttal ingespan om aan die Pretorianers 'n stewige dosis van hul eie medisyne te gee.
Die slot AJ Meyer en agtsteman Liam Santos was uitstaande, terwyl die haker Liam van Wyk twee keer vir die Vrystaat oorgebeur het. Die losskakel Felix het die Bulle deurlopend aan die raai gehou, die bestendige heelagter Heinz Stockenström se posisionele spel was puik en die skrumskakel Philip McLaren se diens agter die oond was ook flink. Dié trio is almal van Grey Kollege.
Stöckenstroom se 36 punte ná twee wedstryde plaas hom tans in die voorste plek onder die puntemakers in vanjaar se toernooi, terwyl sy vier drieë hom ook gesamentlik in die eerste plek plaas saam met WP se Josh Neill (Rondebosch Boys' High).
Vir die Bulle het hul binnesenter Janco Purchase (Affies) sterk vertoon. Sy skoolmaat JD Hattingh was ook fisiek. Die linkervleuel Junaide Stuart (Garsfontein) se individuele poging langs die kantlyn af verdien ook lof.
• Die Goue Leeus het in 'n taai kragmeting die Westelike Provinsie-vyftiental met 37-33 getroef. Die Gautengers se linkervleuel Cheswill Jooste (Noordheuwel), wat verlede jaar lid van die Suid-Afrikaanse Skole-A-span was, het met sy vertoning onderstreep dat hy eerder in die agterste driehoek hoort as in die middelveld, waar hy meeste van die seisoen al vir sy skool diens doen.

Min spelers is so gevaarlik soos Jooste wanneer hy hom in 'n bietjie ruimte bevind.
Die gasheerspan se binnesenter Michael Benzien (Helpmekaar Kollege) het ook beïndruk en self twee keer gedruk.
Sango Zangqa (Sacs), haker van die WP se naasbestes, het voorlangs gewoel, terwyl die slot Jayden Joubert (die Hoër Jongenskool Paarl) ook alles in die stryd gewerp het.
• In een van die kragmetings wat sonder twyfel vir van die aanskoulikste drieë van die toernooi gesorg het, was Griekwas met 53-37 baas teen die Limpopo Blou Bulle.

Griekwas het in 'n stadium met 48-18 voorgeloop, voordat die manne van Limpopo met 'n sterk terugvegpoging vorendag gekom het.
Die Poubloues se buitesenter Sylvester Hoffman (Upington) en heelagter Gregan Jansen (Duineveld) het Limpopo vele hoofbrekens besorg, terwyl die plaasvervanger-vleuel Jacquin Jasson (Duineveld) ook giftig was ná sy toetrede. Al drie dié spelers het onder die driedrukkers getel.
Limpopo se losskakel Mignon Stevens (Ben Viljoen) kan ook trots wees op sy vertoning.
Die Pumas het hopeloos te veel skietgoed vir die Griffons gehad en 'n wegholoorwinning met 57-26 behaal.

Met 'n stewige vertoning deur die agtsteman Vaughn van Zyl (Nelspruit) en die losskakel Matthew Abbey (Middelburg) wat agterlangs die toutjies getrek het, kon die Perses net geen antwoord vind nie.
Net so moet die slot Frank Rossouw (Secunda) ook uitgesonder word vir sy kragvertoning. Hy het twee skitterdrieë vir sy span gedruk.
Vir die Griffons het die skrumskakel Rewaldo Farmer (Welkom Gimnasium) agter die pak uitgeblink en is hy met een van sy span se drieë beloon.
SATERDAG SE BEPALINGS:
A-veld:
09:15: Westelike Provinsie XV t. Pumas; 10:35: Goue Leeus t. Suidwestelike Distrikte; 11:55: Bulle t. Haaie; 13:15: Westelike Provinsie t. Vrystaat.
B-veld:
08:00: Luiperds t. Limpopo Blou Bulle; 09:20: Valke t. Griekwas; 10:40: Grens t. Griffons; 12:00: Boland t. Oostelike Provinsie.
PUNTEMAKERS:
Griekwas 53 (19): Drieë: Marno Greeff, Gregan Jansen, Jade Coetzee, Zuan Rautenbach (2), Jacquin Jasson (2), Sylvester Hoffman, Gregan Jansen. Doelskoppe: Hoffman (3), Ethan Van Zyl. Limpopo Blou Bulle 37 (18): Drieë: Fredie Pinto, Pontsho Selowa, Aza Mabe, Mignon Stevens (2), Juan Jansen Van Vuuren. Doelskoppe: Byron Hendricks (2). Strafdoel: Stevens.
Pumas 57 (38): Drieë: Frank Rossouw (2), Vaughn van Zyl, Sfundo Mayisa, Wandisa Mthobeni, Matthew Abbey, Tinyiko Silubane, Johhny dos Santos, Ryan Erasmus. Doelskoppe: Abbey (6). Griffons 26 (7): Drieë: Rewaldo Farmer, Rorisang Marumo, Leano Williams, Cecil Parson. Doelskoppe: Marumo (3).
Goue Leeus 37 (20): Drieë: Michael Benzien (2), Cheswill Jooste (2), Kebotile Maake, Jamaal Feldman. Doelskoppe: Vusi Moyo (2). Strafskop: Moyo. Westelike Provinsie-vyftiental 33 (12): Drieë: Sango Zangqa, Jayden Joubert, Steph van der Merwe, Derick du Preez, Tom Barnard. Doelskoppe: Retagen van Rooi (2), David Simon (2).
Vrystaat 34 (17): Drieë: Liam van Wyk (2), Heinz Stockenström (2), Toriq Schambreel, Liam Santos. Doelskoppe: Stockenström (2). Blou Bulle 27 (8): Drieë: Dewron Aford, JD Hattingh, Hendré Schoeman, Junaide Stuart. Doelskoppe: Ruben Pienaar (2). Strafdoel: Ruben Pienaar.




















