Grey Kollege moes verwoed vir die laaste 20 minute van sy kragmeting teen die Hoërskool Outeniqua wal gooi om met 19-17 in 'n titaniese stryd as oorwinnaars van die veld te stap.
Die span van die Rosestad is bekend dat hulle spanne in die laaste 20 minute met aanvallende rugby tot oorgawe dwing. Hulle het nou gewys hulle kan ook die teenoorgestelde doen.
Grey het teen rustyd 'n skrale voorsprong van 12-10 gehad, maar die Kwaggas se hoofseun en senter, Ashwin Damons, het kort daarna sy span met 'n drie laat voorloop.
Grey se buitesenter, Benito Goeda, het met sy tweede drie in die 39ste minuut sake weer gelyk getrek. Die losskakel, Ian van der Merwe, het die moeilike doelskop oorgeklits wat op die ou einde deurslaggewend was.
Van der Merwe, Goeda asook die heelagter, Vincent Wolhuter, het agterlangs goed vir die wenspan vertoon. Voorlangs was die flank Jean-Henri Smit, kaptein en agtsteman, JJ Theron, en die haker, Liam van Wyk, ysters.
Die Kwaggas se heelagter, JT Strydom, was gevaarlik elke keer wat hy in besit geplaas is.
Verlede jaar was nie 'n vloekskoot nie.
Garsfontein se Bere het vir Affies se Wit Bulle in nog 'n vertoonvenster van Suid-Afrikaanse skolerugby vir die tweede jaar in 'n ry verslaan. Garsies was met 45-38 op Affies se tuiste baas.
Die Bere het verlede jaar met 'n sege van 20-19 op sy tuisveld die eerste keer daarin geslaag om die Wit Bulle om te dop. Die wenspan het gister reeds teen rustyd 'n stewige voorsprong van 33-10 opgebou.
Die skrumskakel, Zian Cilliers, was uitmuntend agter die agttal. Hy het met sy dartellopies asook op verdediging die Wit Bulle onder druk geplaas.
Garsies se kaptein en flank, Abri van der Westhuizen, was ook uitstaande en het veral voorlangs fisiek ingeklim. Ander uitblinkers sluit in Jason Hugo (heelagter) en Ruan Enslin (linkervleuel).
Enslin het 'n driekuns aan drieë behaal, terwyl Hugo twee keer soos 'n warm mes deur botter deur Affies se verdediging vir twee drieë gesny het.
Affies se binnesenter, Janco Purchase, het met sy direkte spel beïndruk, terwyl die agtsteman, Dieter Schubert, asook die slot Johnathan Eloff harde werk voorlangs verrig het om die Wit Bulle terug in die wedstryd te kry.
Feitlik alle skolerugbywedstryde kan weer gekyk word op SuperSport Schools (www.supersportschools.com). SuperSport Schools spog nou ook met sy eie kanaal op DStv - SuperSport 216.
- Uitslae
- NWU SKOLE-REEKS
- Menlopark 64, Hoërskool Nelspruit 0; EG Jansen 45, Transvalia 20; Kempton Park 49, Eldoraigne 26; Hoërskool Klerksdorp 22, HTS Middelburg 17.
- NWU PRESTIGE-REEKS
- Montana 46, Oosterlig 10; Noordheuwel 69, Die Anker 22; Oos-Moot 37, Hoërskool Rustenburg 30; Heidelberg Volkskool 30, Wesvalia 29; Hoërskool Middelburg 24, Marais Viljoen 11; Hugenote (Springs) 35, Potchefstroom Volkskool 5; Potchefstroom Gimnasium 32, Jeugland 24; Lichtenburg 34, Zwartkop 21.
- NWU SPORT-REEKS
- Hans Moore 35, Bergsig Akademie 11; Randburg 50, Dr. Malan 5; Overkruin 33, Standerton 12; Dinamika 32, Hoërskool Alberton 10; Florida 12, Wonderboom 7.
- NWU 16-REEKS
- Vryburg 33, Riebeeckrand 19; Piet Retief 47, Delmas 12; Leeuwenhof 31, Fochville 19; Hans Strijdom 22, Wolmaransstad 12; Bekker 17, Schoonspruit 15; Ferrum 29, Oosterland 10; Pretoria-Noord 36, Volksrust 19.
- KWAZULU-NATAL/OOS-KAAP
- Nico Malan 40, Langenhoven Gimnasium 5; Marlow Landbou 35, Die Brandwag (Uitenhage) 14; Pearson 25, Selborne College 22; Despatch 34, Victoria Park 3; Queen's College 75, Stirling 14; Northwood 29, Glenwood 22; Maritzburg College 32, Clifton 5; Durban High School 24, Westville Boys' High 13.
- NOORDVAAL
- Garsfontein 45, Affies 38; King Edward VII 28, Pretoria Boys' High 19; Jeppe 30, Monument 24; Parktown Boys' High 19, Ellisras 17; Secunda 57, HTS John Vorster 10; Hoërskool Pietersburg 19 HTS Tom Naudé 0; Centurion 38, HTS Witbank 31; Ben Vorster 11, Frikkie Meyer 7; Midstream College 84, Brits 0; Northcliff 29, Sutherland 12; Curro Roodeplaat 50, Hercules 0; Die Wilge 29, Roodepoort 17; Springs Boys' High 46, Alberton High 5; Curro Nelspruit 32, Ermelo 22; Steelcrest 59, Hendrina 21; Driehoek 24, Hoogenhout 23.
- VRYSTAAT/GRIEKWAS
- Grey Kollege 19, Outeniqua 17; Voortrekker (Bethlehem) 24, Hoërskool Trio 18; Welkom Gimnasium 59, Hentie Cilliers 7; Fichardtprk 39, Jim Fouché 33; Witteberg 23, Goudveld-Hoërskool 19; Hoërskool Upington 43, Diamantveld 31; Duineveld 86, Kalahari 8; Wildeklawer 14, Douglas 12; Wilgerivier 66, HTS Welkom 0; Landboudal 43, Sentraal 22; Vrede 26, Harrismith 0; Bothaville 35, Wessel Maree 12; Salomon Senekal 52, St Annes 0; Hoopstad 29, Hennenman 20; Curro Kathu 57, Martin Oosthuizen 12.
- WES-KAAP
- Paul Roos Gimnasium 39, Grey High School 24; Oakdale Landbou 20, Hoër Jongenskool Paarl 17; Boland Landbou 17, Stellenberg 10; Durbanville 35, Rondebosch Boys' High 19; Paarl Gimnasium 33, Wynberg Boys' High 11; SACS 38, Brackenfell 27; DF Malan 47, Parel Vallei 31; Strand 17, Charlie Hofmeyr 17; Melkbosstrand 22, De Kuilen 7; Vishoek 17, Jan van Riebeeck 12; Hoërskool Punt 64, Hoërskool Langenhoven 12; Monumentpark 42, Fairmont 32, Robertson 10, Montagu 6; Bosmansdam 24, Bergvliet 3; Hoërskool Oudtshoorn 29, Sao Bras 22; Curro Langebaan 14, Piketberg 13.




















