'n Uitstekende tweedepaaltjie-vennootskap van 186 lopies tussen Jordan Neill (127) en Fayaad Daniels (63) het die pad geplavei vir Rondebosch Boys' High se weghol-sege met 164 lopies oor Wynberg Boys' High in 'n o.19A-krieketwedstryd Saterdag in die WP.
In antwoord op Rondebosch se 317/6 kon Wynberg net 153 lopies versamel.
Ook Curro Durbanville (335/5) het Parklands College (35) 'n behoorlike opstopper gegee ná skitterende bydraes deur Sean Dednam (91), Matt Florence (74*) en Timmy Simpaya (6/15).
Dit was egter in 'n o.15A-wedstryd waarin die kolwers die tellinghouers behoorlik laat skarrel het. Vaughn Flannigan (229) en Matt Scobie (67) het in Curro Durbanville se kolfbeurt teen Parklands College 333 lopies in hul aanvangsvennootskap opgestapel om die grondslag te lê vir Curro (392/4) se sege met 294 lopies. Flannigan het net 107 balle benodig vir sy dubbele honderdtal wat 10 sesse en 30 viere ingesluit het.
In die Boland se o.19A-liga het die Hoërskool Charlie Hofmeyr (252) behoorlik stof in die oë van Hugenote Hoërskool (64) geskop. Petrus Bakkes (65) en Marcus Nasson (4/19) het die grootste aandeel in die sege gehad.
Paarl Gimnasium was met 'n goeie spanpoging gans te sterk vir New Orleans (92) en het met agt paaltjies geseëvier.
Verlede naweek het Rondebosch en SACS se o.19A-spanne in 'n rare voorval albei 220/8 aangeteken om presies gelykop te speel. Op grond van verkeerde inligting wat ontvang was, is aanvanklik in Jip berig dat Rondebosch aan die wenkant was teen SACS.





















