Die Hoërskool Monument van Krugersdorp het van die krytvloer opgestaan ná sy dramatiese nederlaag teen die Hoërskool Outeniqua in die Noord-Suid-toernooi en die Hoërskool Framesby van Gqeberha Donderdag met 28-7 uitoorlê op die eerste dag van Kearsney College se Paastoernooi.
Monnas se skrumskakel Ceano Everson was veral 'n doring in die vlees van sy teenstanders. Hy het die eerste drie van die wedstryd gedruk en sy dartellopies het ook 'n aandeel gehad in die tweede, wat deur die flank, Nathan Erasmus, afgerond is, voordat hy ook die laaste vyfpunter agter sy naam geskryf het.
Net so was die losskakel Daylon Myners giftig op die aanval en het sy teenstanders deurmekaar geswenk voordat hy die slot Michiel Burger weggestuur het vir een van sy span se drieë.
• Die Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg en Hartpury College, 'n toerspan van Engeland, het die louere in hul kragmeting gedeel. Die eindtelling was 28-28.

Hartpury, wat in 2018 en 2019 deel was van die Wêreld-skolerugbyfees in onderskeidelik die Paarl en Stellenbosch, was in 'n stadium in die tweede helfte met 21-7 voor.
Juandré Jacobs, die Jansies se regtervleuel, het sy span met 'n opportunistiese drie terug in die kragmeting gebring, voordat Hartpury weer gaan druk het.
'n Strafdrie nadat Jansies se rolmaalbeweging onwettig gestuit is, het Hartpury se voorsprong na sewe punte laat krimp.
Die Boksburgers se losskakel Ruan van Heerden is daarna langs die pale oor en David Twala (heelagter) se doelskop het sake gelyk laat eindig.
• Die Worcester Gimnasium het vir ietwat van 'n verrassing gesorg toe hy die Durban High School (DHS) met 36-31 verslaan het.
DHS, wat ook deel was van die onlangse Noord-Suid-toernooi, het 'n voorsprong met 31-17 prysgegee om eindelik te verloor.
'n Drie deur Hope Dliso (die Bolanders se regtervleuel) met 30 sekondes se speeltyd oor, het die Durbaniete se harte gebreek.
Worcester Gimnasium se binnesenter, Carick Kustoor, verdien ook 'n pluimpie vir sy akkurate stelskopwerk, wat sy span deurlopend in die wedstryd gehou het. Alungile Mothibe (linkervleuel) het twee keer vir Worcester afgerond.
• Dale College van Qonce (King William's Town) het danksy 'n merkwaardige terugvegpoging die gasheer met 23-20 geklop nadat hy rustyd nog met 8-20 agter was.
Drieë deur Lindokuhle Xozwa en Athi Msileni het Dale toegelaat om sake gelykop te maak voordat Xozwa se naamgenoot, Lindokuhle Ndlela, 'n strafskop oorgeklits het vir sy span se oorwinning.
• Die Westville Boys' High School het die Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley met 31-19 getroef.
Die wenspan se binnesenter, Likhona Finca, het meeste van die skade aangerig. Finca was verwoestend met die bal onder sy arm en buiten sy twee pragdrieë, het hy ook 'n hand in verskeie ander gehad.
• Die Glenwood High School het die dag se aksie afgesluit deur die Hoër Landbouskool Marlow van Cradock met 22-10 te verslaan.
• In St. Stithian's se Paastoernooi het die gasheer 'n liederlike nederlaag van 3-64 teen Bishops van Kaapstad op die lyf geloop.
• Kingswood College van Grahamstad het die Clifton High School van Durban met 45-12 oorrompel, terwyl St. John's College van Harare in 'n opwindende stryd met 33-29 baas was teen St. Alban's College van Pretoria.
• Michaelhouse het ook die toernooi op 'n wennoot afgeskop met 'n taai oorwinning van 29-22 oor St. Andrew's College.




















