'n Begeesterde terugvegpoging deur Midstream College het Saterdag vrugte afgewerp toe die manne van Olifantsfontein die trofee in Afdeling 2 van die Noordvaal-reeks gelig het nadat hy die Hoërskool Merensky van Tzaneen met 22-12 getroef het.
Die twee spanne het mekaar in die eerste 20 minute met tipiese eindstrydrugby getoets voordat die tuisspan uiteindelik bloed geruik het met 'n strafdoel deur sy losskakel, Jaedon de Leeuw.
Merensky se heelagter, Dirk de Nyschenn, het die eerste drie van die wedstryd gedruk ná 'n goeie agterlynbeweging. De Nysschen het sy eie steekskoppie opgevolg om af te rond.
Die besoekers was lemoentyd met 5-3 naelskraaps agter voordat sy losskakel, Phillip Ludick, ná 'n fopaangee onaangeraak deur 'n gaping geglip het. Sy spanmaat Neil van Vuuren het sy drie verdoel om die manne van Limpopo in die saal te plaas.
Die gety het binne drie minute geswaai.
Eers het die Midstream-linkervleuel, Nathan Manonga, Merensky oopgekloof en die regtervleuel, Hilton Thomas, weggestuur. Daarna het Manonga 'n draai agter die doellyn gaan maak.
Die laaste tien minute het nie net die toeskouers op die punt van hul stoel gehad nie, dit het hulle ook behoorlik laat kopkrap.
Merensky se besluit om in dié tydperk vinnige tikskoppe te neem wanneer hulle binne trefafstand van die pale was, het hom van 'n potensiële oorwinning ontneem. Met sekondes se speeltyd oor het so 'n tikskop juis skeefgeloop toe Midstream se skrumskakel en kaptein, Rhynardt Henning, die bal afgeneem het, langs die kantlyn af genael het en die spoedvraat Thomas aan sy binnekant gevind het om die kroon op 'n suksesvolle veldtog vir die tuisspan te span.
Ander kragmetings
• In Afdeling 3 se eindstryd was daar eindelik niks wat die Hoërskool Die Wilgers en die Hoërskool Vryburg van mekaar onderskei het nie.
Die spanne moes die louere deel nadat sake met die eindfluitjie 15-15 was.
Dit is Die Wilgers wat waarskynlik gelukkiger sou voel nadat hy vir 'n groot gedeelte agter was voordat hy sy aanslag gered het.
Drieë deur HJ Kruger en Jan Espag, asook Kruger se skopskoen, het verseker dat Vryburg een hand op die trofee kon kry. Twee drieë deur Tiaan Joubert, tesame met 'n doelskop en 'n strafdoel deur Armand Griessel, het Die Wilgers se hand ook op die trofee gekry.
• Die Hoërskool Garsfontein sal komende naweek na Krugersdorp reis, waar hy vir die Hoërskool Monument in die eindstryd van die Noordvaal-reeks se Beker-kompetisie die stryd sal aansê.
Die Garsies het die Hoërskool Noordheuwel in die halfeindronde met 'n klinkende sege van 43-10 verslaan, terwyl Monnas moes swoeg om die Hoërskool Dr. E.G. Jansen van Boksburg met 29-20 uit te skakel.
Die Garsies sal die eindstryd nie net teiken as 'n geleentheid om die trofee omhoog te hou nie, maar ook om te vergoed vir sy enigste nederlaag tot dusver van die seisoen. Hy is in die ligafase met 43-19 ore aangesit deur die Wit Bulle, maar die Bere sal hoop om op die Ras van Rooyen-veld vir 'n opskudding te sorg en die een wat saak maak te wen.
• In die Plaat-afdeling het 'n driekuns deur die Hoërskool Middelburg se buitesenter, Grant de Jager, sy span in staat gestel om 'n wegholoorwinning van 52-0 oor die Hoërskool Rustenburg te behaal om 'n eindstryd teen die Hoërskool Nelspruit af te dwing.
Die Nellies se Rhinos het die Hoërskool Kempton Park met 38-17 gegaffel.


















