Suid-Afrika het die internasionale o. 18-rugbyreeks Dinsdag onoorwonne afgesluit nadat hy Engeland by die Hoër Jongenskool Paarl met 39-14 afgestof het.
Die Suid-Afrikaners het vyf drieë ingeryg onderweg na 'n klinkende sege. Was dit nie vir slordige en oorgretige spel met tye nie, kon die telling selfs groter gewees het.
Die jong Rose het in geen stadium gelyk het asof hulle die Suid-Afrikaners se dag sou bederf nie en dit wou voorkom asof hul ingesteldheid eerder was om die skade tot 'n minimum te beperk.
Die besoekers is hard geduik en lank in hul eie kwartgebied vasgepen, maar ofskoon die Suid-Afrikaners oorgenoeg geleenthede gehad het, het hulle eers diep in die tweede helfte, nadat 'n rits plaasvervangers opgestuur is, werklik losgetrek.
Verskeie kanse om punte aan te teken is aanvanklik verspeel met 'n gebrek aan geduld op die aanval 'n Achilleshiel. Hanteerfoute het die span verhoed om behoorlik te baljaar, maar 'n sterk eindpoging het verseker dat die telling 'n meer akkurate prentjie van die wedstryd geskets het.
Vusi Moyo (losskakel) het vroeg die telbord aan die rol gekry met 'n suksesvolle strafdoel. Ná volgehoue druk en die bal wat vinnig versprei is, het Khuthadzo Rasivhaga (regtervleuel) oorgedraf vir die eerste drie van die kragmeting.
Engeland het oomblikke later teruggeslaan toe George Newman (skrumskakel) die tuisspan se verdedigers aan die slaap gevang en langs 'n losskrum deurgebreek het om onder die pale af te rond.
Reuben Kruger (agtsteman) het teruggeslaan met 'n drie en Suid-Afrika was rustyd met 17-7 voor.
Moyo, wat 'n perfekte dag met sy skopstewel beleef het voordat hy vervang is, het 'n tweede strafdoel oorgeklits, wat die tuisspan 'n nuttige voorsprong besorg het.
Die wind is daarna behoorlik uit die Engelse se seile gehaal toe 'n rits plaasvervangers, onder wie Ellie Meyer (skrumskakel), Pieter van der Merwe (binnesenter) en Markus Muller (buitesenter), opgestuur is.
Dié skuiwe was 'n broodnodige inspuiting in die agterlyn met Suid-Afrika se aanvallende spel wat skielik weer skerp gelyk het.
Engeland se kaptein, Connor Treacey (agtsteman), het sy span nog 'n sprankie hoop met 'n drie gegee, maar twee drieë deur Cheswill Jooste (linkervleuel), wat die besoekers albei kere met sy vaart na lug laat gryp het, en een deur Meyer, het eindelik vir 'n gemaklike oorwinning gesorg.

Die slotpaar, Riley Norton en AJ Meyer, het Suid-Afrika se aanslag op die verdediging gelei. Hulle is goed bygestaan deur Josh Neill (flank) en Kruger in die pak.
Agterlangs was Aqa Boqwana 'n deurlopende bedreiging met die bal in die hand terwyl Moyo ook tevrede kan voel met sy poging.
Suid-Afrika het Ierland in sy eerste stryd met 38-26 verslaan, terwyl die SA o. 18-A-span in sy enigste kragmeting Georgië met 20-3 getroef het.
• 'n Verbroude strafskop met speeltyd verstreke het Georgië 'n geskiedkundige oorwinning oor Ierland se o. 18-span in die dag se tweede wedstryd ontneem. Die Iere moes 'n agterstand van 7-15 met die rustyd uitwis voordat hulle uiteindelik met 17-15 geseëvier het.
PUNTEMAKERS:
• Suid-Afrika 39 (17):Drieë: Khuthadzo Rasivhaga, Reuben Kruger, Cheswill Jooste (2), Ellie Meyer. Doelskoppe: Vusi Moyo (2), Yaqeen Ahmed (2). Strafdoel: Moyo (2).
Engeland 14 (7):Drieë: George Newman, Connor Treacey. Doelskoppe: James Linegar (2).
• Ierland 17 (7): Drieë: Joe Finn, Jack Deegan. Doelskoppe: Conor O'Shaughnessy (2). Strafdoele: O'Shaughnessy.
Georgië 15 (15):Drieë: Anri Shvelidze (2). Doelskoppe: Gigi Sirbiladze. Strafdoele: Sirbiladze.





















