Skole

Tradisioneel? Nee. Greyt? Sonder twyfel!

Paarl Boishaai se Ruan van Willing word deur Ian van der Merwe van Grey geduik, met Jean-Henri Smith wat nader staan.Foto: gallo
Paarl Boishaai se Ruan van Willing word deur Ian van der Merwe van Grey geduik, met Jean-Henri Smith wat nader staan.Foto: gallo

Hulle speel dalk nie tradisionele Grey-rugby nie, maar die span van 2023 is Greyt in eie reg.

Grey-kollege het gister vir die Hoër Jongenskool Paarl in die Brugstraat-stadion in die Paarl met 39-30 getroef. Die sege was gemakliker as wat die telling aandui, sonder om enigiets van Boishaai se poging weg te neem.

Niemand gaan vanjaar vir Grey klop nie. Behalwe natuurlik as heelwat van hul spelers die SA Skole-span haal en hulle sonder die staatmakers moet klaarkom. Dit sal ook vyf of meer van hul spelers moet wees.

Die span se kaptein en agtsteman, JJ Theron, speel elke week beter as die vorige en gaan 'n sterk aanspraakmaker vir 'n plek in die nasionale skolespan wees. Hy was teen Boishaai uitstaande met die bal in die hand asook op verdediging.

Die vaskopstut, Jean Erasmus, het die toekenning as Speler van die Wedstryd ontvang. Dit was ook welverdiend. Hy het telkemale soos 'n senter deur gapings in die tuisspan se verdediging gebars.

Dan natuurlik speel die losskakel, Ian van der Merwe, met sy geleerde skopskoen 'n beduidende rol in die span van Bloemfontein se sukses vanjaar. Hy sool die bal myle ver en hou die span se agttal daarmee op die voorvoet.

Vir Boishaai het die flank Divan Fuller hard voorlangs gewerk, terwyl die vleuel Jameel de Jongh twee pragtige drieë afgerond het.

Durbanville se skrumskakel, Monray Daars, het 23 punte in sy span se wegholsege van 77-0 oor Parel Vallei aangeteken. Hy het nege doelskoppe oorgeklits en self een keer 'n draai agter die doellyn gemaak.

In die SDC Noordvaal Cup het Helpmekaar-kollege gewys dat hulle vanjaar veral op hul tuisveld nie 'n katjie sal wees wat sonder handskoene aangepak kan word nie.

Helpies het met hul kaptein en agtsteman, Christian Steyn, aan die spits vir Noordheuwel met 42-32 getroef. Die span van die Goudstad beklee tans die boonste posisie op die puntelys.

Nories het verlede week nog sy titel as kampioen van die NWU Prestige-reeks suksesvol verdedig. Die span van Krugersdorp se heelagter, Cheswill Jooste, het wel weer gewys dat daar dalk nie vanjaar 'n beter aanvallende heelagter op skolevlak in Suid-Afrika is nie.

Garsfontein het nou wel meer gesukkel as wat verwag is om Menlopark met 48-6 te bêre, maar die span is waarskynlik erg ontwrig deur die feit dat hul losskakel, Nicallen Gabrielsen, nie kon uitdraf nie weens 'n besering.

Die Parkies het egter ook heelwat meer vuur gehad as in sy vorige kragmeting met veral die agtsteman en kaptein, Steyn Landman, wat sy lyf op die spel geplaas het.

Daar was die naweek ook heelwat FNB Classic Clashes. Noord-Kaap het in Kimberley 'n naelskraapse sege van 18-17 oor Diamantveld behaal, terwyl Jim Fouché met 38-17 oor Sentraal koning gekraai het.

Tydens die Klein Interjol in Upington het die Hoërskool Upington vir Duineveld met 22-17 geklop, terwyl Voortrekker in Bethlehem vir Witteberg met 24-16 geklop het.

  • SDC NOORDVAAL CUP
  • Afdeling 1
  • Beker: Garsfontein 48, Menlopark 6; Helpmekaar 42, Noordheuwel 32; Waterkloof 28, Hoërskool Nelspruit 24; EG Jansen 22, Marais Viljoen 17.
  • Plaat: Transvalia 28, Kempton Park 20; Zwartkop 37, HTS Middelburg 24; Hoërskool Rustenburg 37, Montana 31.
  • Skild: Secunda 38, Jeugland 21.
  • Bowl: Wesvalia 31, Hoërskool Alberton 5; Merensky 32, Eldoraigne 22; Potchefstroom Volkskool 45, Dr. Malan 0.
  • Afdeling 2
  • Blou Bulle: Midstream College 93, HTS John Vorster 0; Wonderboom 12, Pretoria-Noord 12; Centurion 13, Overkruin 12. Limpopo: Frikkie Meyer 22, HTS Tom Naudé 15. Pumas: Rob Ferreira 55, Pionier 26; Ermelo 20, Piet Retief 7; HTS Witbank 43, Ferrum 17. Valke: Hans Moore 28, Brandwag (Benoni) 27.
  • Afdeling 3
  • Goue Leeus: Linden 25, Fochville 12. Limpopo: Louis Trichardt 24, Nylstroom 22; Eric Louw 19, Northern Academy 0. Pumas: Lydenburg 29, Lowveld High 19.
  • VRYSTAAT/GRIEKWAS
  • Grey-kollege 39, Hoër Jongenskool Paarl 30; Noord-Kaap 18, Diamantveld 17; Voortrekker (Bethlehem) 24, Witteberg 16; Jim Fouché 38, Sentraal 17; Hoërskool Upington 22, Duineveld 17; Welkom Gimnasium 44, Hoërskool Trio 17; Goudveld­Hoërskool 26, Hentie Cilliers 3; Fichardtpark 21, Landboudal 19; Zastron 45, President Steyn 12; Brandfort 61, Hoërskool Bloemfontein 12; Harrismith 68, Ntsu 7; Ladybrand 69, New Horizon 0; St Andrews 35, Sand du Plessis 24; Brandfort 14, Grey-kollege VI 27; Vrede 50, Reitz 0; Wilgerivier 74, Wessel Maree 7; Curro Kathu 47, Daniëlskuil 6; Hopetown 42, Adamantia 5; Hendrik Potgieter 46, Sand du Plessis 10.
  • NOORDVAAL
  • Affies 43, King Edward VII 20; St Stithians College 31, St John's College 19; Lichtenburg 31, Hoërskool Klerksdorp 27; Jeppe 73, St David's Marist 8; Parktown Boys' High 38, Northcliff 25; Wagpos 26, Hoërskool Tuine 20; Cornwall Hill College 44, St Andrews (Bloemfontein) 10; St Alban's College 22, Clifton 10; Dinamika 34, Bergsig Akademie 19; Penryn College 50, Stanford Lake College 3; Wolmaransstad 27, Schoonspruit 14; Die Anker 27, Ligbron Akademie 10.
  • KWAZULU-NATAL/OOS-KAAP
  • Grey High School 19, St Andrew's College 0; Queen's College 21, Dale College 12; Selborne College 45, HTS Port Rex 0; Marlow Landbou 25, Nico Malan 15; Glenwood 18, Kearsney College 13; Michaelhouse 31, Durban High School 27; Northwood 61, St Charles College 29; Hilton College 39, Pretoria Boys' High 15; Kingswood College 18, Pearson 0; Winterberg Landbou 19, Aliwal-Noord 12.
  • WES-KAAP
  • Paarl Gimnasium 36, Boland Landbou 18; Rondebosch Boys' High 22, SACS 7; Bishops 14, Wynberg Boys' High 10; Durbanville 77, Parel Vallei 0; Worcester Gimnasium 30, Hoërskool Bellville 19; Hoërskool Punt 31, Montagu 7; Robertson 16, Swartland 14; Augsburg Gimnasium 27, Vredendal Sekondêr 0; Hoërskool Oudtshoorn 19, Hermanus 14; Milnerton 22, Tygerberg 20; Strand 34, DF Malan 27; Brackenfell 19, HTS Bellville 17; Melkbosstrand 38, Elsiesrivier 12; Porterville 23, Vredendal 7; Hottentots-Holland 89, Somerset College 5; Charlie Hofmeyr 17, Oakdale Landbou II 18.
Hannes Nienaber

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM