Die Westelike Provinsie het Maandag die Boland met 41-12 van sy voete gespeel op die eerste dag van die Grant Khomo-rugbyweek vir o. 16-spanne by die Hoër Landbouskool Boland in die Agter-Paarl.
In 'n grootliks eensydige affêre het die Streeptruie sewe drieë ingeryg om hul bure te bêre. Die span was met rustyd reeds met 29-0 voor.
Jayden Joubert (slot), Albert Lourens (buitesenter), Jadon Ocks (regtervleuel), Jayden Brits (skrumskakel), Quintin Potgieter (flank), Jordan Jooste (plaasvervangerstut) en Josh Neill (agtsteman) het almal afgerond.
Neill, 'n leerling aan die Rondebosch Boys' High School, en Joubert, van die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai), het skitterspel gelewer, terwyl Ocks voor sy tuisskare 'n gifangel was.
• Die Bulle se Zirk Meyer (skrumskakel) het in die doodsnikke deurgeglip vir die wendrie teen die Haaie om die Ligbloues met 31-27 te laat seëvier.
Hiermee het dié Affie-speler die kroon gespan op 'n merkwaardige terugvegpoging deur die Pretorianers. Dít nadat die Bulle vroeg met 0-19 met hul rug teen die muur was.

Die KwaZulu-Natallers se gevaarman Zekhethelo Siyaya (heelagter), van die Westville Boys' High School, het in die eerste helfte uitgeblink en twee keer agter die pale 'n draai gemaak. Die span het ook by die afbreekpunte oorheers en die Bulle se hantering was 'n groot kwelpunt.
Albert Smit (flank) se drie en Ruben Groenewald (losskakel) se doelskop en 'n strafskop kort voor die rustyd het die Bulle in die stryd gehou.
Die keerpunt was Stefan Mcdonald (agtsteman) se afstorm-drie vroeg in die tweede helfte. Leskin Samuels (buitesenter), van die Hoërskool Menlopark, het ook toegeslaan vir die Bulle.
Met die telling op 24-24 en skaars 'n minuut se speeltyd oor, het die Haaie die voortou teruggeneem danksy 'n strafskop deur die plaasvervanger Stefan Moolman. Maar Meyer het die laaste sê gehad.
• Soortgelyk aan die Bulle, moes die Vrystaat self 'n agterstand met 0-13 uitwis om die oorhand met 29-20 oor die doelgerigte span van Grens te kry.
Die manne van die Rosestad se sloopgewig Ethan Adams (buitesenter), wat verlede jaar as o. 15-speler al op dié week uitgedraf het, was 'n doring in die vlees van Grens.
Dit het keer op keer meer as een speler geverg om die staatmaker van Grey Kollege te stuit. Sy skoolmaat AJ Meyer (slot) het ook met inklimspel beïndruk.
• Die Leeus se Clinton Agu (haker) was sy span se driekuns-held in hul wegholoorwinning met 39-7 oor die Valke.
Die bielie-haker van die Hoërskool Marais Viljoen het 'n barshou gespeel en die verdediging kon nie anders as om vir hom terug te staan nie.

• Die Pumas het in die tweede helfte vlam gevat om die Griekwas met 38-10 streepsuiker te gee nadat daar teen lemoentyd niks tussen die spanne te kies was nie.
Danksy 'n begeesterde vertoning deur Matthew Abbey (losskakel), het die gety in die tweede helfte geswaai en die Noord-Kapenaars het nie weer punte aangeteken nie.
Die generaal van die Hoërskool Middelburg het die toutjies agterlangs getrek en sy drie kort ná die omdraaislag het sy span se neus vir die eerste keer voor gekry, waarna daar nie weer teruggekyk is nie.
• Die Luiperds se Kgolagano Legodi (agtsteman), van die Hoërskool Lichtenburg, se twee drieë was deurslaggewend in sy span se naelskraapse oorwinning met 15-12 teen die Limpopo Bulle.
• Die Suidwestelike Distrikte het met 36-12 met die span van die Griffons klaargespeel, terwyl die Oostelike Provinsie met 26-14 vir Grens-Platteland omgedop het.
• Die WP XV-tal het hopeloos te veel skietgoed vir sy Vrystaatse eweknie gehad en hom met 50-3 afgeransel.
Namibië moes sweet om vir Zimbabwe met 12-10 te klop.
Dinsdag se bepalings:
A-veld
08:30: Boland t. Luiperds
09:50: Grens t. Oostelike Provinsie
11:10: Westelike Provinsie-vyftiental t. Pumas
12:30: Suidwestelike Distrikte t. Haaie
13:50: Leeus t. Vrystaat
15:30: Westelike Provinsie t. Bulle
B-veld
08:30: Vrystaat-vyftiental t. Zimbabwe
09:50: Grens-platteland t. Namibië
11:10: Griffons t. Limpopo Bulle
12:30: Valke t. Griekwas















