Sokker

Chelsea-spelers ‘net mense’, sê breier

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Chelsea se waarnemende afrigter Bruno Saltor verduidelik Dinsdagaand in Stamford Bridge iets aan die plaasvervanger Mykhaylo Mudryk gedurende die wedstryd teen Liverpool. Foto: Getty Images
Chelsea se waarnemende afrigter Bruno Saltor verduidelik Dinsdagaand in Stamford Bridge iets aan die plaasvervanger Mykhaylo Mudryk gedurende die wedstryd teen Liverpool. Foto: Getty Images

Chelsea se spelers is net mense en die span se ondersteuners moet geduldig met hulle wees, het dié klub se waarnemende afrigter, Bruno Saltor, ná nog 'n teleurstellende vertoning gesê.

Chelsea, wat Sondag sy breier, Graham Potter, afgedank het, het Dinsdagaand met 0-0 elk teen Liverpool gelykop gespeel in 'n wedstryd in die Engelse Premierliga.

"Ja, ons het kanse geskep om die wedstryd te wen en twee doele is nie toegeken nie," het Saltor gesê.

"Die ouens het alles gegee, hulle het hul harte uitgespeel en jy kan nie meer as dit vra nie."

Chelsea kon hierdie seisoen nog net 29 doele in 29 ligawedstryde aanteken. Dit is die klub, wat voor die seisoen baie geld uitgegee het om verskeie topspelers te koop, se swakste doele-rekord in 99 jaar.

"Hulle is net mense en moet net die nodige selfvertroue kry. Ons moet aanhou om die ouens te help, want hulle is al deur baie hierdie seisoen," het Saltor gesê.

Leeds United, wat ook kwaai sukkel hierdie seisoen, het goed teruggeveg om met 2-1 teen Nottingham Forest te wen.

Orel Mangala het in die 12de minuut vir Forest 'n doel aangeteken voordat Jack Harrison en Luis Sinisterra vir Leeds doele in die eerste helfte behaal het.

"Om eerlik te wees, ons het die sege verdien. Ons het 'n uitstekende eerste helfte gespeel. Die reaksie van die span (op Mangala se doel) was perfek," het Javi Gracia, Leeds se breier, gesê.

Twee tieners, Evan Ferguson en Pascal Gross, het vir Brighton & Hove Albion doele aangeteken in dié span se sege van 2-0 teen Bournemouth.

Danksy die oorwinning het Brighton & Hove Albion nog 'n kans om vir die Kampioeneliga te kwalifiseer.

In nog 'n wedstryd was Aston Villa met 2-1 teen Leicester City baas.- Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM