Die Franse middelveldspeler Paul Pogba, wat sy loopbaan wil hervat nadat hy weens dwelmgebruik geskors is, het Sondag op Franse televisie gesê hy is tans met 'n klub in gesprek. Volgens bronne na aan hom is dit Monaco.
Die 32-jarige het ook gesê hy het weer kontak gemaak met sy broer Mathias, wat verlede Desember tot 'n jaar tronkstraf gevonnis is vir sy betrokkenheid by 'n komplot om dié Wêreldbeker-wenner van 2018 vir €13 miljoen (bykans R270 miljoen) af te pers.
Pogba, wat vir Manchester United en Juventus gespeel het, hoop om aan te beweeg ná drie chaotiese jare.
Pogba het aan die begin van dié tydperk deurlopend met beserings en wisselvallige vorm gesukkel wat in 2022 tot sy vertrek by United gelei het. Hy het vir 'n tweede keer vir Juventus gaan speel, waar sy probleme egter voortgeduur het.
Hy het 'n dwelmtoets ná 'n wedstryd in Italië in Augustus 2023 gedruip en is 'n skorsing van vier jaar weens dwelmverbruik opgelê, wat met 18 maande verminder is op appèl. Dit het in Maart ten einde geloop.
"Dit was baie, baie moeilik," het hy gesê.
Hy het gesê hy "praat" met 'n klub, wat volgens verskeie bronne AS Monaco is wat in die Franse Ligue 1 speel.
Pogba het gesê hy is vasbeslote "om terug op die veld te kom, geestelik gereed, fisiek gereed - dis net 'n kwessie van tyd".
Die afpersingsaak waarby ses mans betrokke is wat met Pogba verbind word, het Frankryk geskok, want die oortreders het drie vriende uit sy kinderjare en sy eie broer ingesluit.
Die vyf ander beskuldigdes is skuldig bevind aan afpersing, ontvoering en aanhouding, sowel as betrokkenheid by 'n misdadige organisasie, en tot agt jaar tronkstraf gevonnis. Al ses is ook beboet.
Pogba het gesê hy gesels met Mathias, wat toegelaat word om sy vonnis uit te dien met 'n elektroniese armband eerder as agter tralies.
"Ons is in kontak. Ons het onder mekaar met die familie gepraat," het Pogba gesê. "Dis 'n bloedband. Daar was natuurlik 'n wond, maar ons beweeg vorentoe. Slegs tyd kan ons antwoorde gee.
"Al wat ons wil hê, is om altyd as 'n familie verenig te wees. Dis die belangrikste ding. Dis moeilik. Natuurlik is dit baie moeilik, ek gaan nie lieg nie. Ek was gekwets. Dis nie dieselfde as voorheen nie, maar ons is in kontak," het hy bygevoeg.
Pogba is in 2022 deur twee gewapende mans in klapmusse aangehou. Hulle wou geld hê.
Hy het Sondag gesê hy was aanvanklik bereid om te betaal, maar daarna "het ek geknak" en besluit om uit te praat, "selfs al sou dit beteken ek sterf". Hy sê hy het geweier "om my geld so weg te gooi".
Sy skorsing en die hofsaak het hom verander, erken hy.
"Ek het baie geleer in hierdie tydperk. Ek het my lewe ook baie gesuiwer. Ek is baie nader aan my familie, my kinders."
Daar is ook gerugte dat die Spaanse reus Real Madrid moontlik 'n kans op die speler sal waag.
Dít nadat hy 'n foto op sy Instagram-rekening geplaas het van hom in die Madrid-trui. Onder dit het Pogba geskryf: "Ek dink dis tyd."- AFP, Sportredaksie





















