Die geringe kans wat die Protea-vrouekrieketspan nog gehad het om dalk na die halfeindronde van die T20-toernooi by die Statebondspele deur te dring is daarmee heen.
Nieu-Seeland het Sri Lanka Dinsdag in 'n Groep B-wedstryd met 45 lopies geklop. Met dié sege het die Kiwi's verseker dat hulle en Engeland van dié groep na die halfeindronde deurdring.
Die Nieu-Seelanders het eerste gekolf en 147/7 in 20 boulbeurte aangeteken. Sri Lanka kon net 102/8 in 20 boulbeurte in sy kolfbeurt aanteken.
Die 34-jarige Suzie Bates (34, 32 balle) het die beste vir die wenspan met die kolf gevaar. Sy het die eerste speler - mans en vroue - geword wat die mylpaal van 3 500 lopies in internasionale T20-krieket verbysteek. Sy staan nou op 3 505 lopies in die kortste formaat van die spel.
(Rohit Sharma van Indië se 3 454 lopies is die meeste deur 'n manspeler in internasionale T20-krieket.)
• Telkaart
Sri Lanka se draaibalbouler Inoka Ranaweera het 3/30 in die Kiwi's se kolfbeurt platgetrek. Dit het selfs in 'n stadium gelyk of 'n oorwinning binne Sri Lanka se bereik is.
Nieu-Seelanders se boulers, met Hayley Jensen aan die spits, het egter ander planne gehad. Jensen, 'n naatbouler, het drie paaltjies in vier boulbeurte laat kantel en net vyf lopies afgestaan.
Die Proteas het vroeër die dag met 26 lopies teen Engeland verloor. Suid-Afrika se laaste groepwedstryd in die toernooi is Donderdag teen Sri Lanka.












