Tennis

Devin bereik groot hoogtes ná trauma

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Devin Badenhorst het die afgelope ses maande persoonlike trauma en 'n kniebesering oorkom om een van die mees gesogte prestasies in Amerikaanse kol­lege-tennis te behaal.

Devin Badenhorst
Devin Badenhorst

Die 20-jarige hemelbesem, wat weens sy kniebesering uit 'n Davisbeker-wedstryd gehou is, het die afgelope week gekwalifiseer vir die enkelspel in die NCAA-kampioenskapsreeks. Dis iets wat net die 64 voorste spelers beskore is in 'n land waar 938 kolleges en universiteite die sportsoort beoefen.

"Devin het in die laaste tyd erg las gehad van 'n kniebesering," sê John-Laffnie de Jager, een van sy Suid-Afrikaanse afrigters.

"Die besering was van so 'n aard dat hy nie oorweeg is vir die Davisbeker-wedstryd teen Libanon in September vanjaar nie."

In Mei vanjaar is Badenhorst se pa, Louwrense, 'n onderhoof van die Laerskool Tuinrand, en sy suster Michelle, in 'n motorongeluk dood nadat iemand in hulle vasgejaag en daarna van die polisie gevlug het.

Badenhorst het ondanks hierdie trauma in Junie 'n ITF-Fu­tures-toernooi van Curro met prysgeld van $15 000 in Hillcrest gewen deur Kris van Wyk, tans 367ste op die wêreldranglys, in die eindstryd met 7-5, 6-4 te klop. Van Wyk is naas Lloyd Harris die voorste gekeurde Suid-Afrikaner op die wêreldranglys.

Badenhorst het ook tydens die Curro-reeks afgereken met Philip Henning, 376ste op die ranglys. Die reus van 2 m lank het in die derde toernooi in die Curro-reeks met prysgeld van $35 000 in die eindstryd teen Kholo Montsi verloor.

Daar was pas drie kwalifiserende roetes op pad na die NCAA-enkelspel-kampioenskapsreeks. In die All American-reeks het hy in die eerste ronde vasgeval teen die naasbeste Amerikaanse kol­lege-speler, Michael Zheng (7-5, 6-2).

Badenhorst het ook in die streekronde verloor, maar in die seksionele afdeling - 'n derde roete tot kwalifisering - met gemak al drie sy wedstryde gewen.

Die enigste ander speler uit 'n Suider-Afrikaanse land wat vir die NCAA-enkelspel kon kwalifiseer, is Connor van Schalkwyk van Namibië.

"Hierdie kwalifisering vir die NCAA-enkelspel is 'n reuse-tree in die regte rigting vir Devin," sê De Jager. "As hy teen Mei aanstaande jaar homself kan vestig onder die top-10 in die NCAA-reeks, sal hy as promotorskeuse outomaties toegelaat word tot altesame agt Uitdaag-toernooie. Dit kan sy vrypas wees om vinnig na die top-100 op die wêreldranglys te vorder."

Izak van der Merwe, sy hulpafrigter by Baylor, Texas, waar Badenhorst die naasbeste enkelspel-speler is, beskou hom as 'n ster met al die wapens om ver te vorder in die NCAA-enkelspel-kampioenskapsreeks.

"Hy het 'n reuse-afslaan en sy voorarm rig groot skade aan," sê Van der Merwe. "Met sy krag en lengte kan hy spelers oordonder. Hy het boonop die psigiese krag om mededingend te wees teen die bestes," sê Van der Merwe, wat in sy speeldae 113de op die ranglys was en Suid-Afrika in die Davisbeker verteenwoordig het.

Die aspekte van sy spel wat tans baie aandag geniet, is sy beweging en sy vlughoue. "Hy werk hard onder die wakende oog van die fiksheidskundige by Baylor, Cole Durham, om sy beweging te verbeter," sê Van der Merwe.

Volgens De Jager is daar ooreenkomste tussen die spel van Badenhorst en sterre soos Taylor Fritz en Alexander Zverev, hoewel laasgenoemde twee op 'n veel hoër vlak speel.

"Al drie is groot en lank en het reuse-wapens. Maar as jy so lank is soos Badenhorst, moet jy voortdurend jou beweging verbeter," sê De Jager.

"Ons skaaf ook nou aan sy oorgangspel - of die beweging van die agterbaan af net toe - sodat hy daar kan afrond sodra hy sy teenstander van balans het."

Volgens De Jager is dit voordelig dat die NCAA-kampioenskapsreeks, wat Dinsdag begin, plaasvind by Baylor, wat juis Badenhorst se alma mater is.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM