Hoewel Afganistan teen Nederland sy vierde oorwinning in sewe wedstryde behaal het om sy voet in die deur te hou, wag Australië en Suid-Afrika in sy laaste twee Wêreldbeker (WB)-wedstryde op hom.
Afganistan het Nederland Vrydag in Lucknow met sewe paaltjies geklop en het nou agt punte saam met Australië en Nieu-Seeland wat onderskeidelik nog drie en twee wedstryde oor het.
Nederland is tot 179 beperk nadat vier van sy eerste vyf kolwers uitgehardloop is. Die Afgane het met 181/3 in 31.3 beurte geantwoord.
Nederland het in sy kolfbeurt op 73/1 in duie gestort.
Sybrand Engelbrecht, voormalige Suid-Afrikaanse o.19- en Cape Cobra-speler, het vir 'n rukkie weerstand gebied met 58 van 86 balle voordat hy ook uitgehardloop is. Hy het as 'n 35-jarige in vanjaar se toernooi sy internasionale eendagbuiging gemaak.
Afganistan se twee draaiers, Mohammad Nabi (3/28) en die 18-jarige Noor Ahmad (2/38), het daarna die paaltjies laat aanhou kantel.
In Afganistan se kolfbeurt het Rahmat Shah (52) én sy kaptein, Hashmatullah Shahidi (56*), albei 'n derde agtereenvolgende 50-tal aangeteken. Shahidi was in al drie sy laaste beurte onoorwonne. - Sportredaksie, espncricinfo.com
Puntestand (wedstryde gespeel in hakies)
1. Indië (7) 14
2. Suid-Afrika (7) 12
3. Australië (6) 8
4. Nieu-Seeland (7) 8
5. Afganistan (7) 8
6. Pakistan (7) 6
7. Sri Lanka (7) 4
8. Nederland (7) 4
9. Bangladesj (7) 2
10. Engeland (6) 2





















