Die twee wedstryde vandeesweek wat finaal sal bepaal watter drie spanne saam met Australië in die halfeindronde van die Wêreldbeker-toernooi gaan speel, sal Woensdag en Vrydag beslis word.
Die gasheernasie, Engeland, pak Nieu-Seeland Woensdag in Durham terwyl Pakistan en Bangladesj Vrydag op Lord's in Londen kragte meet.
Die wenner van die wedstryd tussen Nieu-Seeland (11 ligapunte ná agt wedstryde) en Engeland (10 ná agt wedstryde) sal seker maak van sy plek in die halfeindronde.
As Pakistan (nege punte ná agt wedstryde) sy kragmeting met Bangladesj wen, sal hy ook 11 punte hê. As Engeland Woensdag sou verloor teen die Kiwi's, bly hy op 10 punte en sal hy dus uitgeskakel word in die geval van 'n Pakistan-oorwinning.
As Nieu-Seeland teen Engeland sou verloor en Pakistan wen, is albei op 11 punte en sal die span met die beste netto lopietempo die halfeindronde haal.
As Nieu-Seeland teen Engeland sou verloor en Pakistan wen, is albei op 11 punte en sal die span met die beste netto lopietempo die halfeindronde haal.
Die Kiwi's (0.572) het tans 'n reuse-voorsprong bo die Pakistani's (-0.792) wanneer dit by die netto lopietempo kom. Vir Pakistan om Nieu-Seeland in te haal, sal hy Bangladesj 'n groot loesing moet toedien, terwyl Engeland ook met die Swartpette sal moet mors.

Bangladesj (sewe ligapunte ná sewe wedstryde) het steeds ook 'n wiskundige kans om op 11 punte te eindig en só die halfeindronde te haal. Hy moet egter sy oorblywende wedstryde teen Indië (Dinsdag) en Pakistan wen om op 11 punte te eindig - en dan moet hy groot oorwinnings behaal om sy netto lopietempo te verbeter. Dit is hoogs onwaarskynlik.
Indië (11 punte ná sewe wedstryde) kan natuurlik ook op 11 punte eindig as hy sy oorblywende twee wedstryde teen Bangladesj en Sri Lanka (Saterdag op Headingley in Leeds) sou verloor.
Die week se ander twee wedstryde is slegs van akademiese belang. Afganistan pak die Wes-Indiese Eilande Donderdag op Headingley, terwyl Australië Saterdag teen die Proteas op Old Trafford in Manchester speel.
Australië (14 punte ná agt wedstryde) het reeds sy plek in die halfeindronde bespreek, terwyl Suid-Afrika, die Windies, Afganistan en Sri Lanka uitgeskakel is.




















